Know - People

Ontdek God se hart en plan vir jou deelwees in Sy familie

2306-2

Ontdek God se hart en plan vir die familie

Familie is die Wieg van die Lewe – Pous Francis

’n Gelukkige familie is ons eerste verdedigingsmuur teen die bose en die duisternis van hierdie wêreld. Chantál Oosthuizen.

Jy weet nie hoe baie jy ’n kerk nodig het, tot jy ’n kerk nodig kry nie. André Pelser

God het van die begin af bestem dat daar families moet wees. God het Adam gemaak en gesien dat hy alleen was – hy het ’n maat nodig gehad. Hy het toe vir Eva gemaak. Daarna het hulle kinders gekry en die eerste opdrag nagekom, naamlik om kinders te kry en die aarde te vul (Gen 1:28). Hierdie reël om te vermeerder is tans die basiese manier waarop Islam die wêreld wil verower. Wanneer hulle na ’n ander land emigreer, wil hulle nie integreer, die taal aanleer, of afsien van hulle tradisies en kleredrag nie. Maar hulle woon nou al orals in die wêreld en hulle getalle groei teen 3,1 kind per gesin teenoor die 2,1 van Europa en Amerika. Lees gerus die volgende artikel oor hierdie onderwerp: http://brie-hoffman.hubpages.com/hub/Muslim-World-how-muslims-will-take-over-the-world-via-population-growth Alhoewel dit dalk waar is, is God se oorspronklike plan dat die aarde met Sy heerlikheid gevul word deur Godvresende en regverdige families.

Die heel eerste familie is ook ’n voorbeeld van families en die probleme wat hulle ondervind. Toe Adam se kinders hulle offers aan God gebring het, is Abel s’n aanvaar maar Kain s’n nie. Hy het sy broer vermoor omdat hy aanstoot geneem het en jaloers en woedend was (Gen 4:5-6). God se antwoord aan Kain is interessant: (v 7) “Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie – die sonde lê en loer voor die deur en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.” Dit wat in Kain se hart was, het sigbaar geword toe God sy offergawe verwerp het. “Is ek my broer se wagter?” (Gen 4:9). God stel nie belang in ons offergawes nie, maar in ons genade teenoor ander, ons bereidheid om mense wat in die moeilikheid is, te help (Matt 9:13 AMPLIFIED). Familielede neem maklik aanstoot onder mekaar. Wanneer ons dit regkry om nie aanstoot te neem nie, sal ons die lewe kan bemeester.

Om te vermeerder, was die maklike deel. Die moeilike deel is blykbaar om geestelik te groei en die kinders te leer om hul ouers se voorskrifte te volg.

God se familie word deur geloof en gehoorsaamheid gevorm. God het Abraham van die Galdeërs wat in Ur gewoon het geroep om Sy familie te word (Gen 12:1Rom 4:5). Abraham is die vader van geloof (Rom 3:30; Rom 4:1-2; Rom 4:16Heb 6:15). Sy naam, Abraham, beteken vader van baie nasies. Dit is eintlik die verhaal van ’n nasie se geboorte; die verhaal van Abraham, Isak en Jakob is die verhaal van ’n familie.

’n Geestelike familie – gebore op ’n bonatuurlike manier

Sara, Ragel en Rebekka was almal onvrugbaar en God moes elkeen se baarmoeder deur ’n wonderwerk open sodat hulle kinders in die wêreld kan bring. Die seën van die verbond met Abraham was van die begin af bedoel om ’n nageslag van families te wees (Gen 12:1-3). Nie een van hulle eersgeborenes het die seën van die verbond gekry nie. Abraham se eersgeborene was Ismael. Maar Isak wat uit Sara gebore is, het die belofte ontvang (Gen 17:18-21). Isak se eersgeborene was Esau, maar Jakob het sy vader bedrieg en die seën ontvang (Gen 27:20-29). Jakob se eersgeborene was Ruben en hy het ook nie die seën ontvang nie: “Jy sal die vernaamste nie wees nie” (Gen 49:3-4). Ruben se ontug met sy pa se byvrou, Bilha, (die ma van sy broers Dan en Naftali) word in Gen 35:22 vertel. Josef was Jakob se oudste seun by sy vrou, Ragel, en hy het die seën ontvang. Maar later het Benjamin die stam se seën ontvang. Josef se eersgebore seun was Manasse, maar Jakob het sy hande gekruis en Efraim geseën (Gen 48:1-20).

Die Joodse regeringstelsel word ’n teokrasie genoem waar God die koning is. Dit was nie God se oorspronklike plan dat Israel ’n aardse koning moes hê nie (1 Sam 8:1-21). Samuel het hulle teen die gevolge gewaarsku: “Maar die volk het geweier om na Samuel te luister en gesê: ‘Nee, maar daar moet ’n koning oor ons wees, dat ons ook kan wees soos al die nasies – dat ons koning ons kan rig en voor ons uittrek en ons oorloë voer’ (v 19-20). Dit was nooit God se plan dat Sy mense die slawe en onderdane van ’n koning moes wees nie. God se plan is ’n familie!

Toe God die eerste koning van Israel aangestel het, het Hy die koning gekies op die manier waarop ‘n mens sou kies: “. . . ’n vermoënde man. En hy het ’n seun gehad met die naam van Saul, ’n jongman en mooi gebou, ja, daar was onder die kinders van Israel geeneen mooier as hy nie: van sy skouers af boontoe was hy hoër as die hele volk” (1 Sam 9:1-2). Dawid was die jongste seun van Isai en tog is hy as die volgende koning van Israel aangewys – die rede was sy geloof in en sy verhouding met God (1 Sam 16:13).

God wil hê ons moet Sy kinders wees; mense wat glo en volgens Sy wil en verordeninge leef. Dit is waarom mense wat nooit in die Koninkryk aanvaar sou word nie, wel ingesluit is weens hulle geloof, soos Boas, Rut en hul seun Obed. Ragab die prostituut, het die Israelitiese spioene by haar laat wegkruip en hulle gehelp om te ontsnap. Die Bybelse verhaal en geskiedenis is ’n verhaal van gelowige helde (Heb 11).

God heg baie groot waarde aan familie. Familie is God se manier om ons tot volwassenheid te laat groei. Fisioloë en opvoeders kan ’n lys maak van die negatiewe gevolge van ’n gebroke gesin, afwesige ouers en kindermishandeling weens ouers wat swak rolmodelle is en swak familiestrukture. Ons kan aanneem dat die meeste maatskaplike probleme van vandag die gevolg is van gebroke gesinne. Dit is baie duidelik wanneer ons 1 en 2 Konings bestudeer. Nie baie leiers in die Bybel het daarin geslaag om hul kinders Godvresend groot te maak nie. Eli, die hoëpriester, het in die skande gekom omdat hy nie sy seuns bestraf het nie (1 Sam 3:13). Samuel se kinders het ook nie vir God gedien nie. Hulle het op oneerlike maniere wins gemaak, omkoopgeld aanvaar en die reg verdraai. Dit is beslis nie die optrede van mense met ’n goddelike karakter nie (1 Sam 8:3).

Dit is interessant dat sommige van die regverdige konings van Juda nie hul vaders se voorbeeld gevolg het nie, maar gekies het om eerder terug te draai en in Dawid se voetspore te volg. “En hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here en geheel en al in die weg van sy vader Dawid gewandel en nie regs of links afgewyk nie” (2 King 22:2) Daar was konings wat nie omgegee het watter nalatenskap hulle vir hul kinders los nie, al het hulle geweet hul eie kinders sou die gevolge dra van hul vader se optrede. So het Hiskia al die rykdom van Juda aan die koning van Babilon se seun gewys. En uiteindelik het hy die boodskap van oordeel van die profeet Jesaja gekry dat die einste koninkryk van Babilon sal kom en al hierdie skatte sal wegdra. Maar hy was net te bly dat die oordeel nie gedurende sy leeftyd vervul sal word nie: “Toe sê Hiskia vir Jesaja: ‘Die woord van die Here wat u gespreek het, is goed.’ Ook sê hy: ‘Waarom dan nie, as daar maar vrede en bestendigheid in my dae sal wees!’” (2 King 20:19)

Hierdie selfde houding kom voor by die meeste Afrikane in die Afrikakultuur. Hulle is meer bekommerd oor die dooies, en hulle voorvaders, as wat hulle probeer om dinge makliker te maak vir die opkomende geslag. In die Afrikakultuur is die kinders verantwoordelik vir die ouers. Bruidegomme betaal groot bedrae lobola as trougeskenk aan die vader. In die Westerse kultuur betaal die pa ’n klomp geld vir die troue. Albei is uiterste gevalle. God die Vader is ons voorbeeld as ons kyk hoe Hy Jesus opgevoed het deur dissipline en gehoorsaamheid aan Sy aardse ouers, in ’n klein, hegte gemeenskap; totdat Hy op dertig gereed was om die mag van God se Koninkryk te ontvang. Die einddoel van God se siening van die familie is volwassenheid. Die man moet, soos Christus, sy vrou volmaak en sonder blaam aan God voorstel – dit beteken volwasse (Eph 5:27). Dit word gewoonlik gedoen deur Jesus te volg, te gehoorsaam en aan Hom onderdanig te wees. Vroue moet die jongeres onderrig deur wysheid, voorbeeld, reinheid en respek (1 Tim 5:2Tit 2:3).

Die ewige Kerk is God se ontwerp vir familie. 

Die Kerk: Die Geesgevulde huisgesin van God – die Kerk is die ontvanger en vervulling van die Koninkryk en die verlossingsboodskap (Mat 16:18). Die Kerk word beskou as ’n aktiewe liggaam van gelowiges met baie lede wat elkeen ’n belangrike rol het om te vervul (Rom 12:3-82:19-22). Alhoewel die leiers in die Kerk belangrik is en gerespekteer moet word (Heb 13:7-817), is die aktiewe bediening en deelname van die lede as geheel noodsaaklik. Die apostels sien nie leiers as verhewe bo mense nie, maar as leiers tussen die mense. Hulle moet deur hul voorbeeld lei (Acts 18:320:3335). Dit is waarom die vyfvoudige bediening aan die Kerk gegee is – om die heiliges vir hul bediening voor te berei (Eph 4:11-12). Die Kerk word gesien as een liggaam, gevul met een Gees, met een Vader, een doop en een geloof (Eph 4:4-6).

God se gietvorm vir familie is kerk. Die woord kerk (ecclesia) bestaan uit twee stamme: ek – “vanuit” en kaleo – “geroep”. ’n Direkte vertaling van kerk is dus “dié wat Hy uitgeroep het”. “Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom [God s’n] verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,” (1 Pet 2:9).

Onderskei die liggaam van Christus. 

Ons probleem is nie dat daar te veel kerke is nie, of dat ons so baie verskil nie, maar omdat ons mekaar nie as broers van een Kerk erken nie (Eph 4:1-6). Die Vader bepaal wie die kinders is. Niemand kom na die Vader as Hy hulle nie trek nie (Joh 6:44). As gevolg van mense se seer rakende verhoudinge en misbruik van gesag, sien mense nie kerk nie.  Omdat satan die krag van kerk en familie verstaan probeer hy sy uiterste bes om verhoudinge en kerkwees te verongeluk.  Die grootste hartseer is; elke keer wat ons nie deur ons seerkry groei nie, bly ons onvolwasse in daardie area. Dis beteken die kerk in sy geheel bly onvolwasse.  Mens het dus nodig dat net soos Petrus Jesus as die Messias moes herken, die Vader ons oë oopmaak om Sy Kerk te sien.  Daar is geen perfekte kerk hier op aarde nie, maar daar is gemeentes wat nader aan Sy wil leef en beweeg.

“not discerning the Lord’s body” (2 Cor 11:29) Dié hele hoofstuk oor die nagmaal gaan nie eintlik ook die nagmaal ritueel per cé nie, dit gaan oor die herstel van verhouding en familie deur belydenis en vergifnis. Anders bring ons juis ‘n oordeel oor onsself (v29) en is daar baie siekes onder ons. (v30).  So baie mense probeer die Here alleen dien, sonder die hulp, ondersteuning van ‘n familie! Dis so baie hartseer!

Ons werk is nie om ons familie te kies nie, maar om dié te aanvaar wat Hy in ons familie aangeneem het.

Toe Jesus aarde toe gekom het, het Hy ’n liggaam nodig gehad; Hy het vandag steeds ’n ‘liggaam’ nodig (Heb 10:5) waarvan Hy die hoof is (Eph 1:22-23). Daar is verskeie soorte liggame: Die liggame van mense en diere –  ’n dooie liggaam of lyk, die lewendige liggaam van diere – die liggame van sterre of planete (hemelliggame) – word gebruik vir ’n (groot of klein) aantal mense wat ’n hegte eenheid vorm in een samelewing, of as familie; ’n sosiale, etiese, mistieke liggaam soos die Kerk in die Nuwe Testament – ’n vergadering burgers wat van hul huise na ’n openbare terrein geroep word, ’n byeenkoms – ’n byeenkoms van mense wat op ’n openbare plek byeenkom om oor die doel van die Israeliete se samekoms te beraadslaag – enige vergadering of samedromming van mense wat toevallig byeengekom het, rumoerig in ’n Christelike sin – ’n byeenkoms van Christene wat bymekaarkom vir lofprysing en aanbidding in ’n Godsdiensbyeenkoms; ’n vergadering getroue Christene wat reeds dood is en in die hemel ontvang word – ’n groep Christene of diegene wat hoop op ewige redding deur Jesus Christus, wat hul eie godsdienstige rituele volg, hul eie godsdienstige vergaderings hou en hul eie sake bestuur volgens die regulasies wat vir die liggaam voorgeskryf word om orde te verseker – dié wat op enige plek, in ’n stad of dorp, so ’n liggaam vorm en ’n eenheid is – die hele liggaam van Christene wat oor die aarde versprei is.

Ons kan dit opsom deur te sê dat die Liggaam van Christus op verskeie maniere uitdrukking vind. Kleingroepe, huiskerke, groot byeenkomste, bedienings wat op ’n spesifieke behoefte fokus; elke keer wat ons in Sy Naam bymekaarkom, verskyn Hy tussen ons (Mat 18:20). Ons kan dus nie ‘kerk’ reduseer tot een begrip of stelsel nie.  Kerk is organies en dinamies.

Ware kerk vertoon die genialiteit van God.

Daarom kan ons nie Sy Kerk bou nie, Hy bou Sy kerk. (Mat 16:18) Ons werk is om die Koninkryk van God te preek en te leef hier op aarde.  (Mark 1:14; Luk 4:43; 8:1; 9:11, 60; Acts 8:12; 19:8)

Vraag: Kan ek ’n Christen wees sonder om by die kerk aan te sluit? 

Antwoord: Ja, dit is moontlik. Dis soos:

’n Student wat nie wil skool toe gaan nie.

’n Soldaat wat nie by die weermag wil aansluit nie.

’n Landsburger wat nie stem of belasting betaal nie.

’n Verkoopsman sonder kliënte.

’n Ontdekker sonder basiskamp.

’n Matroos op ’n skip sonder bemanning.

’n Sakeman op ’n verlate eiland.

’n Skrywer sonder lesers.

’n Tuba-speler sonder ’n orkes.

’n Ouer sonder ’n gesin.

’n Sokkerspeler sonder ’n span.

’n Politikus wat ’n kluisenaar is.

’n Wetenskaplike wat nie sy uitvindings bekendmaak nie.

’n By sonder ’n korf.

Almal ken die storie van die ou gomtor wat 100 jaar oud geword het en ewe windmakerig sy lang lewe aan drank, swart sigare en mooi vrouens – en die feit dat hy nooit in die kerk gekom het nie – toegeskryf het. Volgens dr. George W. Comstock van Johns Hopkins School of Hygiene and Public Health, is daardie soort langlewendheid die uitsondering en nie die reël nie. In studies oor die verband tussen sosio-ekonomiese faktore en siekte in die bevolking van Washington-distrik, Maryland, het Comstock en sy kollegas heel per ongeluk tot ’n baie interessante ontdekking gekom. Deur gereeld kerk toe te gaan en die gesonde lewe te lei wat dikwels daarmee gepaard gaan, het mense vermoedelik ’n magdom van die ergste kwale en rampe vrygespring. Dit sluit hartsiektes, lewersirrose, tuberkulose, servikale kanker, chroniese brongitis, noodlottige ongelukke waarby net een voertuig betrokke is en selfmoord in. Die betekenisvolste bevinding was dat mense wat gereeld kerk toe gaan, minder kere die slagoffers van arteriosklerotiese hartsiekte is. Die jaarlikse sterftesyfer vir hierdie siekte was sowat 500 uit elke 100 000 mense wat elke week kerk toe gaan,  teenoor byna 900 per 100 000 onder dié wat “minder as een keer per week” kerk toe gaan. (Miskien het die sing van al die gesange gehelp om die buise oop te hou.) In elk geval, hy het ’n naam, of dan bynaam, vir die verskynsel wat hy tong-in-die-kies die “Leo Durocher”-sindroom noem.  “Gawe ouens,” volgens die goeie dokter, “eindig blykbaar laaste.”

Dokter Steward Wolf in Roseta, Pennsilvanië, het dieselfde verskynsel waargeneem. Hierdie klein gemeenskap is ’n spieëlbeeld van die oorspronklike tuisdorp in Italië; die straatname, boustyl en besighede se name is alles dieselfde, selfs die unieke Italiaanse dialek. Die krag van hierdie unieke gemeenskap lê in hulle siening van familie. Kinders word groot sonder die vrees dat hulle nie sal werk kry nie, want êrens in die gemeenskap sal iemand na jou kyk. Tot drie geslagte woon saam in een huis. Hulle besoek mekaar gereeld en kook vir mekaar. Hulle het ’n sterk grondslag, met die uitgebreide familie wat natuurlike familiegroepe vorm. Hulle hou groot byeenkomste waar almal saam eet en feesvier. Hulle sorg vir mekaar en het ’n sin vir verantwoordelikheid en aanspreeklikheid teenoor die groter gemeenskap. Die gevolg? Daar is byna geen hartsiektes in die gemeenskap nie. Dit is nie te danke aan die kos wat hulle eet nie, maar eerder aan die manier waarop hulle as ’n familie funksioneer. (Uit Outliers, bl. 3-11, Malcolm Gladwell.) In hierdie boek bewys Gladwell dat ons individuele vernuf nooit aan ons eie vermoë te danke is nie, maar dat dit die mense rondom ons se vermoëns is wat ons sterk maak! (https://en.wikipedia.org/wiki/Roseto_effect)

Ter wille van die familie

“Ter wille van die familie” word dikwels gehoor. Die familie se behoeftes is belangriker as my eie. In die Afrikakonteks kan hierdie siening misbruik word wanneer dit onmoontlik word om bo die kulturele “downforce” van die gemeenskap uit te styg. In die Weste is die klem wat ons op die individu plaas te hoog; en die Ooste verdwyn die individu in die geheel. In die Bybelse konteks het God ’n man gekies en deur die man met die groep gewerk. Dit is dus nie wat die mens wil, of wat die groep wil nie, maar wat God wil. Beide die mens en die groep moet hulle aan die wil en manier van God onderwerp.

  • Ons lyding is ter wille van die Kerk. Kyk na Paulus se voorbeeld: Col1:24“Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir Sy liggaam, wat die gemeente is.” Wanneer jy in die openbaar tereggewys word, aanvaar dit ter wille van die ander wat teenwoordig is sodat almal kan leer en vrees (1 Tim 5:20).
  • Die werking van die vrug van die Gees is nie vir jou eie voordeel nie, maar om die liggaam op te bou (1 Cor 14:12).
  • Ons verlaat ons familie ter wille van die Koninkryksfamilie (Luk 18:29).
  • Jesus bid vir Sy dissipels, maar ook vir die volgende geslag (Joh 17:20-21).
  • Paulus se begeerte is om by die Here te wees, maar hy bly lewe ter wille van die Kerk (Phil 1:23-24).

In die Ou Testament word hele geslagte dikwels deur God eenkant gehou om die linie van geloof en gehoorsaamheid te koester en te beskerm. Dit is ook waarom God egskeiding haat (Mal 2:16). God wil ’n Goddelike nageslag hê! Daar is geen groter aanval op ’n kind se toekomstige geloof as ouers skei. Aan die ander kant, daar sal baie minder egskeidings wees as ons getrou bly ter wille van die familie!

Word deel van God se familie. 

Ons moet deel wees van ’n kerk, of hoe? Ja! Maar dit is noodsaaklik om deel van die regte liggaam te wees! As ons 1 en 2 Konings en Kronieke bestudeer, ontdek ons gou die mag van leierskap en hoe dit die voorspoed van die mense beïnvloed. Dit is hoe God ons as mense geskape het: ons volg natuurlik ons leiers. Daarom kry ons hierdie streng waarskuwing in James 3:1“Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ’n groter oordeel sal ondergaan.” In die volgende verse van hoofstuk 3 word gepraat oor die mag van die tong, hoe dit die skip stuur. Ek glo dat leiers die rigting en vlak van volwassenheid in ’n plaaslike kerk bepaal. Jy kan nie aan ’n plaaslike kerk behoort en werklik bo die plaaslike leierskap se vlak van groei uitstyg sonder om baie gefrustreerd te wees nie.

Ons wil almal gelei word. Ons het leiers nodig. Óf ons haat hulle óf ons is lief vir hulle, maar ons wil nie hulle werk hê nie. Die lewe is moeilik en dis nie altyd maklik om by al die daaglikse takies uit te kom nie. Daarom wil ons nie die groot besluite neem nie; ons wil nie daardie verantwoordelikheid hê nie. Sommige van ons is egter vir presies daardie doel geskape; ons floreer op hierdie moeilike uitdagings. Dit is hoe God ons geskape het. Sommige hou daarvan om te lei en ander om te volg. Boonop moet ons in staat wees om leierskap en onderdanigheid te balanseer, want leiers wat nie ook onderdanig kan wees nie, versmoor hulle mense; en mense wat nooit inisiatief neem nie, frustreer leiers. Ons almal moet ’n mate van leierskap en onderdanigheid op alle gebiede van die lewe aanleer.

Wat groot groepe mense betref het ons Godvresende leiers nodig. Dit is die boodskap van Konings en Kronieke – hoe het die mens gevaar met ’n mens, en nie God nie, as koning? Toe die konings God gedien en Sy gebooie gehoorsaam het, was die mense voorspoedig. Toe die koning homself as god beskou het en die mense hom moes gehoorsaam, het ’n tyd van verwoesting gevolg.

Wie kies jy om te volg en hoekom? 

Die mense van Israel het ’n regverdige koning gesoek en Jerobeam gekies. Hierdie geslag Israeliete is na 19 konings oor die aarde versprei. In 400 jaar het nie een van hierdie konings God gedien of gehoorsaam nie. Jerobeam het sy eie vals godsdiens, tempels en priesterskap geskep. Die mense wat getrou gebly het aan God se Woord en Sy beloftes aan Dawid, het onder agt konings gedien wat op hulle beurt God gedien het – en hulle het die geboorte van die Messias gesien.

Sommige mense het Moses gevolg, maar ander is maklik oortuig om Aaron en Miriam, wat begin het om Moses se leierskap te betwyfel, te volg (Num 12:1-4). Daar is baie sulke voorbeelde van rebellie onder Moses se leierskap.

Om ’n hervormer te volg.

Die Bybelse riglyne wat ons moet gebruik wanneer ons moet kies wie om te volg, is:

  1. Het hulle ’n persoonlike verhouding met God?
  2. Het hulle ’n profetiese mandaat om te lei?
  3. Wil hulle steeds hervorm en bly hervorm volgens die standaard van God se Woord? Gehoorsaam hulle die Woord?
  4. Is hulle persoonlike lewe in ooreenstemming met die Woord?
  5. Hou hulle by die oorspronklike mandaat?

Dissipelskap in die konteks van familie

Wanneer ons kerk hou buite die grense van familie, gaan ons in die moeilikheid beland en uiteindelik foute maak. Familie is vir ewig. Jy kan nie uit familie bedank nie. Jy kan nie jou huis verlaat nie. Jy behoort vir ewig. Selfs jou aardse familie het hierdie mag oor jou: Jy kan jou naam verander, maar deur jou DNS en genetika bly jy steeds verbind. Dit is hoe God bedoel het dat familie moet wees. Maar ons probeer Sy orde deur rebellie omvêrwerp.

Die feit dat ons in- en uitgaan, verbind en weggaan, is die rede waarom sommige van ons pogings tot evangelisasie nie werk nie. Jesus het nie net vir skares gepreek nie. Hy het ’n familie gevorm toe Hy Sy dissipels saam het Hom geneem het. Ons preek en dan loop ons;  ons is nie bereid om ons lewe neer te lê vir ’n gemeenskap nie, om vaders en ouer broers te word wat hulle uit die duisternis na Sy wonderlike lig toe lei nie (1 Pet 2:9). Die ware hart van apostels is dus om vaders vir die kerke te wees (Gal 4:191 Cor 4:15). Die konteks van die ware Kerk is ook binne die konteks van familie vasgestel. Hoe kan jy na Sy Kerk omsien as jou eie familie in duie gestort het (1 Tim 3:5)? Die kerkgeskiedenis is vol verhale waar leiers hul eie families versaak het en dit het uiteindelik tot allerlei foute en wangedrag gelei. Verlossing is in die eerste plek die bekendstelling aan ’n nuwe familie. Jesus “die Seun” en ouer Broer is die Middelaar wat ons by die familie inbring. Toe Jesus Sy eerste preek gelewer het: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom”, het Hy Sy hand uitgesteek as bekendstelling en ’n manier aangebied waarop ons deel van God se familie kan word.

God se beskermingsplan vir die bediening is familie! As jy te besig raak vir jou familie, is jy te besig vir God. Wanneer ons ons familie afskeep en buite die familie-eenheid beweeg, is ons in gevaar. Weereens, God se ontwerp vir familie is nie net vir familie met ’n gedeelde naam of bloedlyn nie, maar om dieselfde eenheid te ervaar wat in die Godheid bestaan. Wanneer ’n familie saam God aanbid, saam God gehoorsaam en saam tot Sy heerlikheid lewe, maak dit dinge maklik en natuurlik. Ons hoef dan nie onnatuurlike maniere te vind om te beskerm en om te gee nie, om te groei en te bemagtig nie. Dit gebeur alles natuurlik sonder dat ons eens daaraan aandag hoef te gee. Hy werk op al die verskillende vlakke van die familie. Al wat ons behoort te doen, is om die eenheid te bewaar!

Op die ou end moet ons almal ons eie kultuur en tradisies laat vaar. Ons moet in ons godsdiens hervorm totdat Hy alles is. Tot ons volwassenheid volgens Sy beeld bereik.

Die negatief van ‘n goddelose familie

Alles wat God as voorsiening gee, verdraai die vyand tot ’n vloek. Net so word ’n familie sonder God ’n vesting, ’n sataniese verbond, teen die doel van God. Families dra die ongehoorsaamheid van een geslag oor na die volgende en na die volgende. Goddelose menslike tradisies word nie bevraagteken nie, maar blindelings nagevolg. Dit is waarom ons moet hervorm. Akkulturasie – akkulturasie: “Proses van wedersydse kulturele beïnvloeding tussen uiteenlopende groepe, waardeur die karaktertrekke  en elemente uitgewissel word en ’n nuwe lewenspatroon ontstaan” (HAT). Akkultureer: Dit is ’n moderne woord wat beteken: “Gaan maak dissipels van alle nasies” (Matt 28:19).

Ons het ’n sistematiese, gedrewe vasberadenheid nodig om God voortdurend toe te laat om ons denke te hervorm deur Sy Gees en Sy Woord. Let op hoe die duiwel altyd probeer om God se bepalings onverstaanbaar te maak en te ontheilig sodat ons probeer om self oplossings te vind en daardeur nog groter verwoesting te veroorsaak. Die belangrikste gevolg van sondige gedrag is gebroke families. Die eerste teken dat God se Koninkryk naby is, is families wat herstel word. In Handelinge is daar talle voorbeelde van hele huishoudings en families wat gered word (Acts 16:33, 34; 11:14; 18:8). Om deel van God se familie te word, beteken ons moet ons aardse familie opgee (Matt 10:21; Matt 10:34-39; Luk 12:49-53; Luk 14:25-33).

WAAROM? Want God wil hê ons moet Sy familie op aarde verteenwoordig (Matt 6:10). As jy jou familie wil behou, moet hulle deel word van God se familie.

Ons kultuur beïnvloed die liedjies wat ons sing, ons danspassies en die woorde wat ons skryf. Dit vorm ook ons brein. Wetenskaplikes weet lankal dat neuroplastisiteit toelaat dat individuele gebeure die brein se vorm en funksie verander. Daar is deesdae bewyse dat lewenservarings soos ’n mens se kultuur ook die neurologiese paaie in die brein kan reorganiseer.

“Don’t let the world around you squeeze you into its own mould, but let God re-mould your minds from within, so that you may prove in practice that the plan of God for you is good, meets all his demands and moves towards the goal of true maturity.” Rom 12:2 (JB Phillips Translation)

Die seën van ’n geestelike familie. 

Dit is baie makliker om eerder saam met iemand te bid as alleen, om eerder saam evangelisasiewerk te doen as alleen, om saam God te prys eerder as om alleen te sing. Korporatiewe salwing maak dit selfs makliker om God te dien. Dit is ons eie ego en selfgesentreerdheid wat wil hê ons moet altyd spesiaal, apart, anders, uniek wees; altyd ons eie pad vind en nuwe paaie uitdink. Dit is mos vernederend om te volg; om eers aanwysings te kry by mense wat nie volmaak is nie. Jesus het dit vir 90% van Sy lewe op aarde gedoen – Hy het Sy aardse ouers gehoorsaam. Hoe wil jy God gehoorsaam as jy nie jou ouers, werkgewer, die wet kan gehoorsaam nie? Natuurlik moet ons soms alleen wees; Jesus het ook tyd gemaak om alleen saam met God te wees sodat Hy gereed kan wees om op ’n Goddelike manier met mense om te gaan.

Die drie-stoel-beginsel – die krag van ervaring 

Ten slotte moet ons aandag gee aan die gevolg van generasie-regressie. Soos ek aan die begin gewys het, het nie baie vaders daarin geslaag om hul salwing en ywer vir God aan die volgende geslag oor te dra nie.

Dawid het God met sy hele hart gedien en is ’n vriend van God genoem. Tog het Salomo God net aan die begin gedien, maar daarna het hy kompromieë aangegaan en die pad byster geraak. Sy seun Rehabeam het God glad nie gedien nie. Ons sien dat dieselfde met Josua gebeur het. “Maar ek en my huis, ons sal die Here dien” (Jos 24:15). Die volgende geslag ouderlinge het ook die Here gedien (Jos 24:31), maar daarna het sy nageslag gedoen wat verkeerd is in God se oë en nie eens meer by Hom gaan hoor wat hulle moet doen nie (Judg 1:10).

Bruce Wilkerson skryf in besonderhede hieroor in sy boek, The Three Chairs Principle. Die vraag is: Waar het Dawid misluk om dieselfde tipe ywer wat hy vir God gehad het, aan Salomo oor te dra? Daar is natuurlik baie antwoorde, soos sy gebrek aan dissipline, hy het te min tyd saam met sy kinders deurgebring, ensovoorts.

Ek glo die belangrikste aspek wat ons vir die volgende geslag moet onthou, is dit waaroor hierdie hele webjoernaal gaan. God se familie kom op ’n bonatuurlike manier tot stand. Ons kan nie God se familie ‘maak’ met kunsmatige voortplanting nie.  Tweedens: Lees Ps 78. Hier sien ons die belangrikheid van om nie net die roemryke kragtige dade van God oor te vertel aan die volgende geslag nie, maar hulle ook aan die wonderdade bloot te stel.  Kinders wil God eerste-hands beleef. Hulle moet dus God in ons ons lewe en getuienis herken, maar ook self beleef en ervaar..

In God se familie is daar nie plek vir toeskouers nie!

Voorwaardes om deel van Sy Koninkryk en familie te word:

Luk 17:20  Fariseërs “Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie.”

Acts 14:22  “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.”

Joh 3:3  “. . . as iemand nie weer gebore word  nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

Luk 18:29  Gee jou familie op ter wille van die Koninkryk van God.

Luk 6:20  “Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God.”

Luk 18:24  Dis moeilik vir rykes om die Koninkryk binne te gaan.

Matt 5:20  “. . . as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.”

Matt 7:21  “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”

Dit kos ‘n prys en opoffering om deel van ‘n familie te word.

Uiteindelik kos dit selfverloëning, kruis-opneem-gehoorsaamheid om Jesus te volg. (Mat 16:24).  God se familie-koninkryk werk anders, volgens ander reëls en beginsels, en dit kos ‘n pelgrimsreis om saam met Hom die pad te stap en te leer funksioneer in Sy familie. Daarom kan jy nie die Koninkryk kunsmatig tweedehands ontvang nie.

Dit maak nie saak hoe jy die Woord (stem) van God hoor nie, of dit deur Bybelstudie is, deur ’n bonatuurlike ervaring, visies, drome of ontmoetings, dit kom alles op een ding neer: Doen dit! Gehoorsaamheid aan die wil, stem en opdragte van God is die sleutel tot ’n koninkrykslewe!

Eerstehandse ervaring van die Boom van die Lewe, eerder as om van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet. Die Nuwe-Testamentiese manier waarop die gees kennis oordra, is nie net deur woorde nie, maar deur krag (1 Cor 4:20). Dit is uit hierdie grondslag waaruit apostels hulle bediening doen (1 Joh 1:1). Ons het met ons eie oë gesien, met ons eie ore gehoor.

Daar is geen ander weg nie. Jesus is die deur. Jy moet deur Hom persoonlik gaan deur jou lewe aan Hom oor te gee (Matt 16:24). Niemand kan dit vir jou doen nie. Jou ouers kan vir jou die pad aandui deur hul voorbeeld en onderrig, maar jy moet self ingaan en Hom ervaar.

Selfs in ons Christus-gesentreerde fokus is die middelpunt die hart van die Vader, “as jy My sien sien, sien jy die vader (Joh 14:9) ’n Ware pa wil sy kinders sien grootword en volwasse mense wees. God wil ons vriendskap hê, nie ons slawerny nie.  Die Vader wil sien dat ons opgroei in volwassenheid volgens die voorbeeld van sy Seun. (Rom 8:29) Hierdie volwassenheid kan nie gebeur sonder ‘n familie, liggaam en gemeente nie. Jy moet binne die huisgesin van God funksioneer om die volle impak van Sy opvoedingmeganisme te verkry. Op die ou end is dit mense se eie seer, misstappe en teleurstellings wat maak dat hulle wrokkig en vol wantroue is teenoor die kerkfamilie. Mag God ons oë oopmaak sodat ons Sy uitnodiging en Sy voorsiening sal raaksien wat Hy vir ons in ’n Goddelike huisgesin voorberei het!

 

 

Share:

Jan Oosthuizen

Leave A Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *