Know - God

Die geestelike dinamiek van ’n byeenkoms van die Liggaam v Christus

die-geestelike-dinamiek-van-n-byeenkoms-van-die-liggaam-v-christus

As gelowiges het ons ‘n unieke geestelike band wat ons saambind. “en in verbondenheid met Hom deel julle in Sy volheid. Hy is die hoof oor elke mag en gesag” (Col 2:10) Ons deel dus in Sy volheid!!! Wat ‘n wonderlike verklaring! Ons deel in die volheid van Christus, “die hoof oor elke mag en gesag”!

Ons aanbid ‘n onsigbare God, wat ‘n Gees is. (2 Cor 3:17) Ons is geesvervulde mense wat deur die Heilige Gees die vermoë ontvang het om bonatuurlike dinge te vermag volgens 1 Cor 12 & 14. Die NT gebruik telkens die woorde “vol”, “gevul” “gedoop” met die Heilige Gees, ‘n oorvloedsbegrip om aan te dui dat mense se lewe nou deur die Gees beheer word.

Jesus se lewe was vol bonatuurlike kragtige dade, as ons soos Hy wil wees, hoekom sien sommige gelowiges die bonatuurlike as onnodig, nie vir almal, en nie vir vandag nie?

Ek pleit nie vir vreemde manifestasies waar mense in ‘n staat van vervoering en wegrukking vreemde gedrag toon nie. Alhoewel sekere geestelike ervarings en ontmoetings nie altyd verduidelik kan word nie.  Paulus sien ‘n lig en val op die grond. Acts 9:4 Tydens die uitstorting vd Heilige Gees, beskou die toeskouers hulle as vol soetwyn. Acts 2:13 Die dinge van die gees maak nie sin vir die natuurlike mens nie. “dit is dwaasheid vir hom” 1 Kor 2:14

Die punt is: Ons byeenkomste moet inherent ‘n geestelike dinamiek en karakter hê, waar die oorsprong van wat gebeur nie vooraf bepaal, voorberei, en geoefen kan word nie.

Die teksvers in 1 Cor. 14:26 is die enigste vers in die Nuwe Testament wat ’n uitleg gee van die wyse waarop die program van ’n groep Nuwe-Testamentiese gelowiges se byeenkoms verloop het.

Hoe moet dit dan wees, broers? Elke keer as julle bymekaarkom, het elkeen gewoonlik ’n bydrae om te lewer: ’n psalm, ’n onderwysing, ’n openbaring, ’n ongewone taal of klank, ’n uitleg daarvan. Sorg dan dat alles tot opbou van die gemeente verloop  (1 Cor. 14:26 – NAV).

Let op hoe elke lid vir die byeenkoms moet voorberei: “. . . het elkeen gewoonlik ’n bydrae om te lewer”. ELKEEN HET. Dit beteken dat die vergaderings redelik lank geduur het: “. . . as julle saamkom om nagmaal te vier, wag vir mekaar” (1 Cor. 11:33); daar is getuig en gebid (1 Tim. 2:1, 8); daar is vir siekes gebid (Jam 5:13-16); daar is teenoor mekaar belydenisse gedoen (1 Cor. 11:27-31). Dis baie duidelik; Christenskap in die Nuwe Testament is nie ’n toeskouer-geleentheid nie. Almal neem deel.

Die Engelse woord, “church”, kom van die Latynse woord wat “sirkel” beteken. Ons woord, “sirkus” is afgelei van die woord “sirkel”, ”drie ringe”, soos in “drieringsirkus”. Dalk het hulle aan die begin wanneer hulle vergader het in ’n kring gesit. Soos by ’n ronde tafel. En so het die woord “kerk” ontstaan. Dis heel moontlik, dat die gebruik van die woord sy ontstaan het omdat die eerste kerk se byeenkomste nie in formele geboue of tempels gehou is nie, maar in woonhuise (Hand. 2:46). Dit is so dat by groter byeenkomste raak dit onmoontlik om vir elke lid ’n spreekbeurt te gee, maar tydens byeenkomste in woonhuise behoort een persoon nie die bespreking oorneem nie, maar dit net lei en fasiliteer sodat elkeen ’n kans kry om deel te neem. Dit is wel waar dat in die geval die aantal mense minder as 20 tot 30 mense moet wees. Maar dit is net waar wanneer elkeen ‘n spreekbeurt soek. Ons kan egter baie duidelik aflei uit die bogenoemde skrifte dat gebed, belydenis, bid vir siekes, ‘n groepaktiwiteit was. Vandag in die meeste Westerse kerkprogramme is die liturgie gebou rondom die kansel en die verhoog.

ψαλμός psalmós: ’n Lied: die lied is met musiekbegeleiding gesing. Die jongste betekenis is in die Septuagint aanvaar. Dit verwys na alle waarskynlikheid na die psalms in Efesiërs 5:19 en Kolossense 3:16.  Sien die verskeidenheid met betrekking tot die oorsprong van hierdie liedjies. Psalms – bekende deuntjies en liedjies, Gesange – gewyde, poëtiese toewyding liede, Geestelike liede – waar die woorde vanuit die gees kom sien (1 Cor 14:15) en “making melody in your heart” Waar die deuntjie ook vanuit die hart kom, dus spontaan, en impromptu.

διδαχή didachḗ: Om te onderrig. In ’n praktiese sin beteken dit die handeling van onderwys gee, onderrig, les gee (Mark. 4:2; 1 Kor. 14:6, 26; 2 Tim. 4:2). Heb. 5:11-6:2. Soek ’n “gesonde leerstelling”: 1 Tim. 4:6; 2 Tim. 4:3; Tit. 1:9; 2:1 (vgl 1 Tim. 6:3; 2 Tim. 1:13). Die skrifgeleerdes en fariseërs was kenners en studente van die Woord, maar het ongelukkig geval in die leringe en tradisies van die mens. (Mat 15:1-9) Die woord van God, is soos swem, jy leer nie om te swem op die grond, en in boeke nie. Jy leer om te swem, deur in die water te klim, en die instrukteur na te volg.  Lering is dus nie die oordra van kennis nie, maar om mense te inspireer om te hoor en te doen! Dit gebeur net, as die leraar self ook meedoen.

γλῶσσα glṓssa: Kwalitatief nuut; om nuwe tale te praat wat hulle voorheen nie geken het nie; dit beteken hulle het in tale gepraat wat nie hul moedertaal was nie (Mark. 16:17; Hand. 2:4; 10:46; 19:6; 1 Kor. 12:30; 14:2, 4-6, 13, 18, 23, 27, 39). Dit is betekenisvol dat talespraak en die uitleg daarvan as een van die hoofgebeure by ’n samekoms van Nuwe-Testamentiese gelowiges beskou is. Asof dit daardeur beklemtoon word. Dus, as jy wil deelneem, word gevul met die Heilige Gees deur in tale te praat (1 Kor. 14).

ἀποκάλυψις apokálupsis: om te onthul. Openbaar, blootlê, aan die lig bring, bekend maak. Die openbaring van geheimenisse verwys na Goddelike doelwitte en leerstellings wat voorheen onbekend en bedek was (Rom. 16:25; 1 Kor. 14:6, 26). Openbarings van God die Vader of Christus (2 Kor. 12:1, 7; Gal. 1:12; 2:2; Ef. 3:3). In Ef. 1:17 beteken “die Gees van . . . openbaring”  ’n gees wat die diep geheimenisse van God kan deurgrond en bekend maak. Openbaring is wesenlik vir ons om te weet wat en hoe ons iets moet doen. Mense kan net dit doen wat hulle werklik verstaan.

ἑρμηνεία hermēneía: om te interpreteer. Interpretasie, verduideliking (1 Kor. 14:26); dis ’n metoniem vir die vermoë om te interpreteer, as ’n charisma (1 Kor. 12:10), ’n geskenk. Alhoewel die woord “interpreteer” in hierdie geval spesifiek verwys na die uitleg van tale, is ek van mening dat die meeste van die aktiwiteite ’n vorm van interpretasie is. Die woord “hermeneutiek” word gebruik deur teoloë wat die wetenskap van Bybel-interpretasie beoefen. Visioene, drome en geestelike ervarings moet geïnterpreteer en beoordeel word (1 Kor. 14:29).

Alle dinge is uiteraard geestelik; gebede aan God wat ’n onsigbare Gees is (Joh. 4:24); ons eenheid en band as gelowiges (1 Kor. 12:26); geestelike oorlogvoering (Ef. 6:12). Dit is waarom ’n persoon wat optree vanuit ’n godsdienstige oogpunt, stelle reëls en liturgieë, nie kan funksioneer in ’n Nuwe-Testamentiese kerk wat uit Geesgevulde gelowiges bestaan nie. Dit is twee totaal verskillende bedryfstelsels.

Die belangrikste punt wat mens egter moet onthou, is: dit beteken nie net almal kry ‘n spreekbeurt nie! Dan kan dit ‘n baie lang uitgerekte vervelige byeenkoms word.

Die klem is dit wat die Gees wil!!

“Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hulle midde” (Matt. 18:20). Paulus het selfs gesê hy is in die gees teenwoordig, al is hy liggaamlik afwesig (1 Kor. 5:3-4). Dit dui op ’n onsigbare draad, band, verbondenheid, naatlose kleed met die Gees van Christus soos dit in Sy Liggaam met Hom as Hoof  onthul word (Ef. 1:22). Die eenvoudigste manier is om die draad van die byeenkoms op te tel, met die vloei te verbind, na mekaar te luister en te resoneer, te harmoniseer. As die boodskap wat jy voorberei het nie pas nie, los dit – dis nie vir nou nie.  Luister fyn, en maak jouself leeg, sodat die Gees jou kan inspireer met die wat Hy wil sê.

Stel jou in op die Gees van die byeenkoms. Van die eerste lied af skandeer die aanbiddings-leier die gees, die voordansers resoneer met hul liggame dit wat gesing word en terwyl ons almal as liggaam daarop inskakel, ervaar ons ’n oop, hemelse openbaring en geestelike insig. Dan, wanneer ons dit wat ons sien en ervaar bekend maak, word die visioene duideliker en verstaanbaar. Hierdie godspraak te midde van Sy kinders was God se oorspronklike plan, om tussen Sy mense te wees. (Heb 12:18-24). Hy wou op die Sionsberg sy volk ontmoet, en self met hulle praat maar hulle was te bang.  Maar ons het gekom, by die Heilige Berg, ‘n geestelike byeenkoms, waar God deur ons almal praat, nie net deur een mens nie.

Jan Oosthuizen

Leave A Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *