DAGBREEK

Die politieke tafel gedek vir die openbaarmaking van Christus (400VC – 27vC)

die-politieke-tafel-gedek-vir-die-openbaarmaking-van-christus-400vc-27vc

Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur (Gal 4:4). Die geskiedenis wys ons presies hoe God die tafel gedek het vir die openbaarmaking van Sy Seun, en die verder mobilisering van Sy Liggaam, die Kerk.

Soos ons die heilsgeskiedenis van die Bybel bestudeer, is dit merkwaardig om te sien hoe God Sy verbondsvolk Israel reg in die middel van wêreldmoondhede se bedrywighede posisioneer: eers Josef in Egipte, toe Daniël in Babilon, Nehemia en die Persiese koningskap.

In 336 v.C. word ’n 16-jarige jongman wat deur die beroemde filosoof, Aristoteles, opgelei is koning in Macedonië, Griekeland – Alexander die Grote. Hy het die strydende Griekse stadstate verenig en binne nege jaar die Persiese Ryk (Persië) en Antieke Egipte verower tot by die grense van Indië.

Griekeland word beskou as die wieg van die Westerse beskawing, die geboorteplek van demokrasie, Westerse filosofie, Westerse letterkunde, historiografie, politieke wetenskap, wetenskaplike en wiskundige beginsels, Westerse drama, sowel as die Olimpiese Spele. Die Antieke Grieke het vroeg begin om kolonies rondom beide die Middellandse See en die Swartsee te stig en handel te dryf. Vroeë kulturele sentrums sluit in Athene, Sparta, Thebe, Thessaloniki, Alexandrië, Smirna en Konstantinopel. Die Grieke is bekend vir hul bydraes tot die wêreldtaal van die tyd en die vertaling van die Hebreeuse Bybelse OT in Grieks, die Septuagint. Verder vind die vergrieksing van die wêreld plaas deur die kultuur, kuns, verkenning, letterkunde, filosofie, politiek, argitektuur, musiek, wiskunde, wetenskap en tegnologie, besigheid, kookkuns en sport. Die Griekse mitologie is een van die bekendste en het die latere Romeinse mitologie sterk beïnvloed.

In Alexander se optog om die wêreld te verower, kom hy voor Jerusalem te staan. Volgens Josefus het die hoëpriester van die tyd, Jaddua, wat Godvresend en wys was, Alexander buite die stad met ’n groep priesters tegemoet gegaan. Alexander het blykbaar net die vorige nag ’n gesig gesien van priesters in wit geklee wat hom ontmoet. Die hoëpriester het toe vir hom die skrifte uit Daniël voorgehou (Dan 7).

Hier word gepraat van vier diere wat dui op vier koninkryke: die leeu en arend is die Babiloniese Ryk, die beer is die Mediërryk, die luiperd is die Persiese Ryk en die vierde dier is die Griekse Ryk.

Die vier koppe is moontlik die vier Persiese konings. Die klem val egter op die vierde dier. Die aandag word aan die begin van vers 7 spesiaal daarop gevestig met die waarnemingsfrase wat lui: My nagtelike visioen het voortgeduur en toe ek weer sien, was daar ’n vierde dier … Dit is nie ’n gewone dier nie. Dit het buitengewone eienskappe. Dit verteenwoordig die Griekse Ryk, Alexander die Grote (336-323 v.C.). Toe Alexander homself in die antieke skrifte raaksien, het hy Jerusalem in vrede gelaat. Na sy dood word sy ryk tussen sy vier generaals verdeel.

Teen 203 v.C. word Antiogus die Grote Koning oor Sirië, noord van Palestina. Sy broer, Antiogus IV Epifanes, neem oor en word algemeen beskou as die antichris van die OT. Die Jode het geweldig onder hom gely. Hy het die Jode gedwing om hom en sy gode te aanbid. Hy het op ’n keer die stad binnegeval, ’n vark op die altaar geslag en die hele tempel met die bloed besprinkel. Dit was ’n verskriklike ding vir die Jode. Die optrede van Antiogus word in stygende orde van sy verwaandheid herhaal om die klem daarop te plaas: die daaglikse offer in die tempel deur heidene; die skrikwekkende sonde om ’n verbode dier te slag; en die “gruwel van verwoesting” (in 11:31; 12:11), naamlik die beeld van Zeus.

Daniël verklaar dat die heiligdom na twee duisend drie honderd aande en oggende herstel sal word, met ander woorde, kulties gereinig sal word. Die aande word vóór die oggende vermeld omdat die aandoffer die nuwe dag inlui wat om sesuur die aand begin. Dit beteken dat dit in dae bereken 1 150 is, die helfte van bogenoemde getal, wat naastenby drie en ’n halwe jaar is (vgl. 7:25).

Volgens een van die apokriewe boeke van daardie tyd (1 Makkabeërs 1:54) het die ontheiliging van die tempel op 15 Kislev, dit is in Desember 168 v.C., en die herstel op 25 Kislev of Desember 165 v.C. (1 Makkabeërs 4:52) plaasgevind. Dit was die belangrikste winspunt van die Makkabese opstand wat tot in dié stadium kortliks soos volg verloop het: ’n Siriër het eendag op die dorpie Modin, in die Efraimsberge, ’n Jood gedwing om ’n offer op ’n heidense altaar te bring. Mattatias, ’n priester, het so kwaad geword dat hy die Siriër doodgeslaan het. Daarmee het die Jode se opstand teen die Seleukiede begin. Mattatias, sy vyf seuns en ander wetsgetroue Jode het deur die land getrek en die heidense altare omgegooi. Judas het sy pa, Mattatias, ná dié se dood opgevolg. Judas se bynaam was Makkaab, wat “hamer” beteken. Daarna het hy Jerusalem binnegetrek, die Zeus-kultus uit die tempel verwyder en die tempeldiens in 165 v.C. herstel. (Hierdie gebeurtenis word jaarliks deur die Jode op hulle Ganukkafees herdenk. In Johannes 10:22 word dit die fees van die tempelwyding genoem.)

Nou het die Jode weer godsdiensvryheid geniet. In dié tyd floreer Israel deurdat daar feitlik in elke dorp ’n sinagoge opgerig word. Die Jode het net een tempel in Jerusalem waar al die offers gebring is. Die sinagoge is opgerig vir gebed, samekoms, armoedeverligting en onderrig in die wet. Die godsdiensvryheid het bykans 130 jaar geduur totdat die politieke vryheid deur die Romeine ontneem is en die Romeinse keiser in 27 v.C. beheer geneem het van die gebied.

Alhoewel hulle godsdiensvryheid beleef het, was die Griekse invloed so sterk dat, teen die begin van die 2de eeu v.C., vergriekste Jode in beheer van die priesterdom gekom het. Hulle was ook die rykstes onder die Jode, veral die Onias-familie waaruit die hoëpriesters gekom het. Hulle het die tempeldiens beheer en selfs ’n bank in die tempel bedryf.

Die Romeinse Ryk was een van die grootste ryke in die wêreldgeskiedenis en die bevolking het gegroei tot ’n geskatte 50 tot 90 miljoen. Gebiede wat deel van die ryk was, het gestrek vanaf Brittanje tot Egipte en het vele nasies en kulture ingesluit. Die Romeinse Ryk het ongeag die verskeidenheid van sy volke, tale en godsdienste tot ’n gemeenskaplike staat, lewensvorm en universele staatsidee ontwikkel, wat as ’n imperium sine fine (“’n ryk sonder grense”) gedefinieer is. Handel, kuns en kultuur het in die tydperk van die Romeinse Ryk in baie van sy gebiede ’n eerste bloeitydperk beleef en die lewensgehalte, die vlakke van geletterdheid en die bevolkingsyfers in Europa  het eeue lank ongeëwenaar gebly. Die Romeine het veral daarop gefokus om handelsroetes, paaie en hawens te ontwikkel, wat natuurlik beweging in daardie tyd geweldig vergemaklik het. Dit was noodsaaklik vir die uitbreiding van die kerk en Paulus en ander se sendingreise.

Een geldverhandelingseenheid word ingestel, alhoewel die tempel in Judea belasting gehef het volgens die Joodse geldeenheid van die tyd. Daarom het Jesus die geldwisselaars uit die tempel gedryf.

Herodes die Grote (omtrent 73 v.C. tot 4 v.C.) was koning van Judea van 73 v.C. tot 4 v.C. In 40 v.C. val die Parthers Palestina aan. Herodes trek terug na die berg Masada en vra Marcus Antonius om hulp. Die Romeine erken hom as die nuwe koning van Judea. Ná ’n magstryd van drie jaar teen Antigonus word hy met Marcus Antonius se hulp koning. Cleopatra vra die Romeine om Judea aan haar te gee, maar hy weier. Na die dood van Marcus Antonius en Cleopatra probeer Herodes – self ’n Romeinse burger – om Octavianus te oortuig dat hy ’n betroubare bondgenoot is. Die nuwe keiser gee hom selfs ’n groter gebied en gee hom die kopermyne van Siprus, ’n ryk bron van inkomste. Hy is ’n ryk man wat ook in die buiteland bekend is vir sy filantropiese geskenke. Die skeepvaartbedryf van Rhodos en die Olimpiese Spele word byvoorbeeld deur hom gesteun.

Die Jode is nie daarmee tevrede nie omrede Herodes se koninkryk daardeur nog meer ’n Hellenistiese karakter kry, hoewel Herodes self ’n Jood is en hy die wette en rituele van sy geloof in ’n mate volg om aansien in Judea te behou. In 20 v.C. besluit Herodes om die tweede tempel van Jerusalem (Zerubbabel se tempel) te herbou en uit te brei. Hierdie tempel was moontlik net ’n paar jaar voltooi toe dit in 70 ná Christus onder keiser Titus verwoes is.

  • Koning Herodes is veral bekend deur die Kersverhaal in dieBybel (Matt 2), die besoek van die Drie Konings en die kindermoord wat daarop gevolg het. Dit het baie kunstenaars geïnspireer om dit uit te beeld.
  • Herodes die Grote is nogtans nie die enigste koning met hierdie naam wat in die Bybel genoem word nie.
  • In Matteus 2:22 word Herodes Archelaus genoem, ’n seun en opvolger van Herodes die Grote wat koning was toe Josef, Maria en Jesus uit Egipte terugkeer na Judea.
  • Die Herodes tydens diekruisiging van Jesus (Luk 23:7-13) was ’n ander seun, Herodes Antipas.
  • InHandelinge 12:1-23 word van Herodes Agrippa I melding gemaak. Hy was ’n kleinseun van Herodes die Grote. In Handelinge 25 en 26 lees ons van sy seun, Herodes Agrippa II, die agterkleinseun van Herodes die Grote.

 Raad, ook genoem die Joodse Raad, is in die NT ’n weergawe van die Griekse woord sunhedrion,vandaar “sanhedrin”, ’n algemene term vir allerlei rade: administratief, juridies, polities, godsdienstig. Uit die NT is baie min bekend oor die aard en opset van ’n sanhedrin terwyl buite-Bybelse bronne ook nie baie duidelik is nie. Die Misjna, ’n Joodse geskrif oor reëls en regulasies van die Rabbyne, meld in die traktaatSanhedrinwat oor geregshowe gaan (vgl. Matt 10:17; Mark 13:9, *grondteks “sanhedrins”) dat die groot Sanhedrin in Jerusalem 71 lede het, kleineres op die platteland 23, en dat hulle lede uit die invloedrykstes van die betrokke gebied bestaan. In die NT word met verskeie oorvleuelende terme na die lede van die Raad verwys: priesterhoofde, skrifgeleerdes, familiehoofde (Mark 15:1; Luk 22:66). Vgl. “priesterhoofde en die hele Joodse Raad” (Matt 26:59; Mark 14:55; Hand 22:30) wat ook as “priesterhoofde en al die ander” verstaan kan word. Vgl. ook Hand 4:5, “die raadslede, die familiehoofde en die skrifgeleerdes” waar eersgenoemde die laaste twee insluit. Vgl. Hand 5:21 waar “die leiers van Israel vir ’n volle vergadering van die Joodse Raad” ’n weergawe is van “die sanhedrin en al die leiers van die Israeliete” in die grondteks. Hand 5:34; 23:6 meld Fariseërs en Sadduseërs, en Joh 11:47 priesterhoofde en Fariseërs as lede van die Raad.

By die Jode was die Raad in Jerusalem die eintlike gesag oor Joodse sake, maar hulle moes uit die Romeinse oogpunt waarskynlik ook orde handhaaf deur aan die Romeine verantwoordelik te wees. Daarom het Kajafas voorgestel dat Jesus tereggestel word sodat die volk nie deur die Romeine van opstand verdink kon word nie (Luk 23:2, 5; Joh 18:14. Vgl. Matt 26:66; Mark 14:63-64).

In Hand 4:15 is “raadsaal” ’n weergawe van “sanhedrin” in die grondteks.[1]

Fariseërs is die naam van die lede van ’n Joodse godsdienstige party wat in die tyd van die NT en ook daarvóór en daarná ’n belangrike rol gespeel het. Die Fariseërs is gekenmerk deur ’n nougesette gehoorsaamheid aan alle godsdienstige wetsvoorskrifte en navolging van die voorvaderlike tradisies, genoem “die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte” (Matt 15:2; Mark 7:3). In hulle strewe om die wetsvoorskrifte van toepassing te maak op die hele Joodse samelewing, het hulle self ook talle voorskrifte gemaak wat ’n noukeurige uitleg van die wet van Moses moes gee en moes verseker dat die wet nie oortree word nie (vgl. Matt 23:13-28). Hulle lê besondere klem op die onderhouding van die sabbatdag (Matt 12:2) en op kultiese *reinheid (Matt 23:25-28). Anders as die *Sadduseërs het die Fariseërs geglo in die *opstanding uit die dood en in *engele (Matt 22:23; Hand 23:8). Hulle het ook ’n toekomstige tyd op aarde verwag waarin die ryk van Dawid herstel sou word. Die *Christus sou volgens hulle verwagting uit die geslag van Dawid wees en sou koning word van ’n vry en onafhanklike volk Israel (Matt 22:42).

Sadduseërs is die naam van die lede van ’n Joodse party wat in die tyd van die NT ’n belangrike rol gespeel het. Die lede van die party was hoofsaaklik afkomstig uit vooraanstaande priesterfamilies en uit die invloedryke lae van die samelewing. Hulle het hulle baie meer as die *Fariseërs bemoei met politieke sake en waar hulle kon, hulle invloed by die owerheid probeer uitoefen. Hulle het op belangrike punte van die *Fariseërs verskil. Hulle glo nie aan die bestaan van geeste en engele of aan die opstanding nie (vgl. Matt 22:23; Mark 12:18; Luk 20:27; Hand 23:8) omdat die wet van Moses volgens hulle oortuiging niks hieroor sê nie.

Skrifgeleerde is die benaming vir invloedryke godsdienstige leiers van die Joodse volk. Op grond van hulle noukeurige en toegewyde studie van die Skrif, veral van die *wet van Moses, en van die oorgelewerde godsdienstige gebruike van die voorgeslagte, is hulle beskou as gesaghebbende uitleggers van die Skrif wat die voorskrifte vir die godsdienstige lewe van die volk moes bepaal. Esra is die eerste persoon in die Bybel wat ’n skrifgeleerde genoem word (Neh 8:14). In Esra 7:6 word hy genoem “’n geleerde man, kundig in die wet van Moses”. In die Nuwe-Testamentiese tyd was van die skrifgeleerdes ook lede van die party van die *Fariseërs (Mark 2:16; Hand 23:9; maar vgl. Matt 5:20; 12:38; 23:2; Mark 7:1; Luk 5:21).

[1]Verwysingsbybel 1983-Vertaling(Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1998).

Jan Oosthuizen

Leave A Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.