DAGBREEK

Die blymoedige spelerigheid van Jesus

die-blymoedige-spelerigheid-van-jesus

The Christian owes it to the world to be supernaturally joyful.

Spelerigheid: lewenslustigheid/opgeruimdheid/opgewektheid/gesonde humorsin. (playfulness)

Diegene wat hulle godsdienstige metodes en reëls vertrou, maak van Christenskap ʼn ernstige saak! God is heilig en dus ernstig! Die redding van siele van die ewige verderf is verseker ʼn lewensbelangrike en ernstige saak, maar die manier waarop mense bereik word, is nie ʼn kwaai, vinger-in-die-lug, oordeelpreek en -waarskuwing nie.

Dis ʼn boodskap van goeie nuus: Die woord “evangelie” kom van die Anglo-Saksiese woord “godspell”, wat “goeie nuus” beteken. Die oorspronklike woord kom van die Griekse euangelion, wat ook “goeie nuus” beteken.

Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!” (Jes 52:7).

Aangesien Jesus nie gesondig het nie en dus heilig was, word Hy in die meeste films as ernstig uitgebeeld. Die hoofrede, besmoontlik, waarom mense op die ernstige deel van die evangelie en die Bybel konsentreer, is omdat ons nie in die Bybel die gesigsuitdrukkings van Jesus kan sien nie. Daar is nie emotikons by nie. Sommige komediante gebruik omtrent net gesigsuitdrukkings om ʼn baie ernstige aanklag tot die hart te maak en mense lag daarvoor.

In kontras: Voeg ʼn paar baie ernstige en kwaai predikers in die pakkie by kerkbyeenkomste waar mens nie mag hoes, nies of lag nie en ons het ʼn baie ver-verwyderde Jesus wat bo-op die grond sweef en onaantasbaar raak. Dis egter geensins die waarheid nie. Kan jy jou ʼn bobaasstorieverteller voorstel wat nie humor gebruik nie?

Een van my gunstelingskrywers, John Eldredge, beskryf Jesus soos volg vanuit die perspektief van die natuur wat van Hom getuig in sy boek Beautiful Outlaw.

I was sitting out back yesterday morning sipping coffee, watching the young chipmunks chase one another at breakneck speeds across the deck. One clever daredevil, hoping to get the advantage, jumped up on the fence rail and continued the chase from above, leaping at the last moment upon his littermate like a Hollywood stuntman. This morning one of them adopted a new strategy. The little rascal found an ambush spot, clinging from the side of the house, where he waited for his playmate to wander by unawares; he then pounced, and the two somersaulted off the deck and into the grass, squealing. Only to dash off and do it again. And again. Now—what does this tell us about the personality of Jesus, who created these little dynamos with striped masks and boundless enthusiasm? What do they say about his heart? Polar-bear cubs will hurl themselves down snowy hillsides headfirst and upside down, just for fun. Spinner dolphins love to romp in the bow-wake of a boat, cavorting, leaping into the air and, well, spinning. Otters play tag. Our horses play tug-of-war with a stick—which is really quite funny when you think of how nobly a horse normally likes to carry himself.

Die Skepping is vol dinge wat mens laat lag! Spelerigheid: Kyk net in die natuur en op Youtube-video’s na die snaakse goed wat diere aanvang: Honde speel met mekaar, eekhorings speel wegkruipertjie en jaag mekaar, dolfyne speel in die golwe. As alles in en deur Christus gemaak is, dan is spelerigheid ʼn beduidende kenmerk van Christus (Joh 1:3, 10; Kol 1:16; Ef 3:9; Heb 1:2-3; 1 Kor 8:6; Rom 11:3).

Die mooiste aspek van ʼn gesonde verhouding is spelerigheid, humorsin, gemaklikheid en die vermoë om vir mekaar te lag. Lag en pret in enige verhouding is soos vars lug.

ʼn Tyd om te huil, ʼn tyd om te lag, tyd om te treur, ʼn tyd om van blydskap te dans (Pred 3:4).

’n Vrolike hart maak die aangesig bly (Spr 15:13).

Blydskap laat ʼn mens se gesig straal; smart maak ʼn mens terneergedruk (Spr 15:13).

Die blymoedige mens se hele lewe is ’n fees (Spr 15:15).

ʼn Vrolike mens is ʼn gesonde mens, ʼn neerslagtige mens raak uitgeput (Spr 17:22).

Die bekende KIPP-skole behaal sukses met kinders deur, onder andere, die kinders se lewensvreugde te ontwikkel. Gelukkige, tevrede kinders leer makliker. Hulle droom is om 100% van alle leerders te laat kwalifiseer vir nagraadse studies. https://www.youtube.com/watch?v=lAsSdyb6YMY&app=desktop

Wetenskaplikes het navorsing gedoen oor die uitwerking wat lag op mense het en het bevind dat lag, onder andere, ʼn beduidende en onmiddellike uitwerking het op bykans elke belangrike orgaan in die menslike liggaam. Lag verminder spanning wat gesondheid ondermyn terwyl dit die belangrikste organe se weefsel laat ontspan en dit laat oefen. Daar word beweer dat lag, selfs wanneer dit gedwonge is, geestelik en fisies ʼn voordelige uitwerking op ons het. Die volgende keer wat jy senuweeagtig en bangerig is, sorg dat jy lekker lag. —Executives’ Digest

BEKENDE PREDIKERS EN HERVORMERS GEBRUIK HUMOR:

Martin Luther het humor in sy werk en lewe gebruik om sy Bybelse getuienis te ondersteun, om die spot te dryf met mense in gesagsposisies en om die dood en die duiwel uit te koggel. In Christus word alles onderstebo gedraai. “Wanneer ons moet huil oor ons sonde, dan lag ons,” het Luther later in sy lewe gepreek. “Wanneer ons moet lag omdat ons ons in Christus verbly wat gesterf het sodat ons vir ewig kan lewe, dan huil ons.”

Van Spurgeon, die prins van predikers, is gesê: “… brightened by eyes overflowing with humour and softened by a most gracious and sympathetic smile” (Fullerton, C.H., Spurgeon: A Biography, p. 188).

“A light heart can bear heavy burdens” (The Salt Cellars 1:22).

George Mueller sou nie preek voordat sy hart gelukkig was in die genade van God nie.

Ian Ruybroeck sou nie skryf as hy terneergedruk was nie. Hy sou na ʼn stil plek gaan en op God wag totdat hy die gees van inspirasie kon voel.

Dit is algemeen bekend dat die spontaniteit van ʼn groep Morawiërs vir John Wesley oortuig het van die realiteit van hulle godsdiens, en dit het hom ʼn kort rukkie later tot ware bekering gebring.

“The Christian owes it to the world to be supernaturally joyful.” —A. W. Tozer

G.K. Chesterton het gesê dat vreugde die reusegeheim van die Christen is. Volgens hom is humor deel van ʼnhart vol blydskap.

C.S. Lewis het gesê die suiwerste gelag op aarde woon in die koninkryk van vreugde.

HUMOR IS N TEKEN VAN EFFEKTIEWE KOMMUNIKASIE

Die bekendste sprekers gebruik humor nie net om mense te ontwapen teenoor hulle boodskap nie, maar ook sodat mense die boodskap sal onthou. Dis ons emosies wat ons laat onthou.

Soos ʼn beroepskomediant het Jesus verskeie erkende metodes gebruik om mense te laat lag.

Prentjie-assosiasies:

“Vissers van mense” (Matt 4:19).

Jesus kon net wegkom met “witgepleisterde grafte” (Matt 23:27) deur humoristiese prentjies te gebruik, net soos komediante met bekende politieke figure die spot dryf.

Verder gebruik komediante briljante, slim invalshoekeom weg te kom met ernstige, gewigtige uitlatings:

Die beeld op die muntstuk bepaal aan wie dit behoort (Matt 22:17-21).

Komediante gebruik gewoonlik die humor in ʼn gegewe situasie, of sien iets snaaks in ʼn gebeurtenis om ons te laat lag. (Dink aan Trevor Noah, Michael McIntyre of die bekende Christen-komediant, Michael Jnr.)

Blinde leiers: Julle sal ’n muggie uit julle drinkwater uithaal maar ’n kameel heel insluk (Matt 23:24).

Die drie verskonings van die mense wat nie na die bruilof wou kom nie, sou sy gehoor laat lag het omdat, alhoewel dit wettige verskonings was, dit eintlik belaglike verskonings was. ʼn Ander een sê: “Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my asseblief.” Nog ʼn ander een sê: “Ek is pas getroud, daarom kan ek nie kom nie” (Luk 14:16-23).

Komediante gebruik ook literêre woordspeling:

Die woord vir muggie en kameel in Arameers klink amper dieselfde: “galma” vir muggie en “gamla” vir kameel.

Die opbou van ʼn storie, en dan die skielike verandering van rigting, laat ons kop-skud en lag.

Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. Dan sal ek vir myself sê: “Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.” Maar God het vir hom gesê: “Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?” (Luk 12:18-20).

Snaakse byname en karakterisering:

Die stelling dat die wisselvallige, hoogs emosionele Petrus ʼn rots genoem word, is nie net snaaks nie maar terselfdertyd ʼn oproep na die rots in almal van ons (Matt 16:16-18).

Jesus gee vir Jakobus en Johannes ʼn bynaam: Vir hulle het Hy die bynaam Boanerges gegee, dit wil sê, “manne van die donder” (Mark 3:17). Dit was liefdevolle, positiewe beeldspraak met ʼn bietjie humor.

Toe Nataniël opmerk: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”, is Jesus se opmerking: “Hier is ʼn ware Israeliet, ʼn man in wie daar geen bedrog is nie.” Jesus sien sy sarkasme as teken van sy opregtheid (Joh 1:44-51).

Hierdie liefdevolle skakeling met Sy dissipels spreek van Sy toeganklikheid, wat net moontlik is as iemand innemend, liefdevol, sag en vol lewensvreugde is. Uitsprake wat hard, wetties en “altyd reg” is, stoot mense af en stoot hulle weg. Die baie menslike storie van Jesus se laaste verskyning aan Sy dissipels op die strand illustreer pragtig Sy gemaklike menslike manier: “Hoe lyk dit, manne,” roep Hy, “het julle iets gevang?” “Niks!” roep hulle terug (Joh 21:5). Hulle was naby genoeg, minder as 100 meter van die wal af, toe Jesus met ʼn glinster in Sy oog vra: “Hoe lyk dit manne, het julle iets gevang?” Hy kon sien hulle het niks gevang nie. Petrus se eerste reaksie is om uit die boot te spring, om Jesus tegemoet te gaan nog voor die boot by die wal was. Maar hy moes eintlik skaam voel oor die feit dat hy Jesus verloën het. Dit nadat hy voor almal plegtig belowe het: Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan (Luk 22:33). Jesus herstel Petrus met die bekende drie vrae: “Het jy my regtig lief?” Weereens sien mens Jesus se gesig met ʼn glimlag, vriendelik. Hy het nie aanstoot geneem nie.

Sien die humor en waarheid in alledaagse gebeure:

Die blinde leiers lei die blindes is nog ʼn ironiese waarheidsbeeld. As een blinde mens ’n ander blinde lei, sal hulle albei in die sloot val (Matt 15:14).

Hulle is soos kinders wat op die markplein speel en die een groep sê dan vir die ander: “Ons het vir julle ’n vrolike wysie gespeel maar julle wou nie dans nie. Toe het ons vir julle ’n begrafnislied gesing maar julle wou ook nie treur nie!” (Matt 11:16-17). Wie het nie al probeer om kinders wat verveeld is te probeer vermaak nie! Jesus tref elke hart in die kol met die vergelyking.

Is daar ʼn pa onder julle wat as sy seun vir hom ʼn vis vra, vir hom ʼn slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy ʼn eier vra, vir hom ʼn skerpioen sal gee?(Luk 11:11-12). Jesus gebruik so ʼn bietjie skoktegniek om die beeld vas te lê. Wie sal so iets doen? Dis ondenkbaar!

Parabool of oordrewe absurde vergelykings:

Hoorders wat gereeld met materiaal en leer gewerk het, sou glimlag, kopskud en in hulleself sê: “Wie is nou so dom? Niemand doen dit nie.  Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want dan skeur die nuwe lap nog ʼn stuk van die oue uit, en die gat word net groter. Niemand gooi ook nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan laat die wyn die sakke oopbars, en die wyn sowel as die sakke gaan verlore. Nuwe wyn word in nuwe sakke gegooi (Mark 2:19-25). Dis die geheim van goeie sprekers: Deur ʼn bekende assosiasie, vorm hulle ʼn band met die gehoor.

Hierdie prentjie sou lank in mense se gedagtes bly vassteek: Dit is makliker vir ʼn kameel om deur die oog van ʼn naald te kom as vir ʼn ryke om in die koninkryk van God te kom (Mark 10:25). Dis ‘n ekstreme parabool. Die grootste rydier, deur die kleinste mensgemaakte opening. Onmoontlik!

Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap(Matt 7:6). Probeer hierdie prentjie fisies opvoer of verfilm – dis die hoogste vorm van domheid, dwaasheid, gekheid. Weereens ʼn skreeusnaakse, oordrewe uitspeel van die dwaasheid van mense se dade.

ʼn Lamp kom mos nie onder ʼn emmer of onder ʼn bed nie? (Matt 5:15). Probeer dit fisies doen. Plaas ʼn flits onder ʼn emmer of onder die bed. Dis malligheid, die lig skyn deur!

Die beste voorbeeld van ʼn parabool is: Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? (Matt 7:3). Vorm gou hierdie prentjie in jou gedagtes: Iemand probeer met ʼn fyn klein knyptangetjie die splinter in iemand se oog uithaal, terwyl ʼn enorme houtbalk deur sy eie oog steek.

Jesus se voorbeeld dat mens nie jou huis op die strand bou nie, sou ook snaaks gewees het in daardie tyd. Selfs die armste persoon weet dit! (Matt 7:24-27). Jesus sinspeel weer op die mense se dwase hardkoppigheid om nie goeie rede te volg nie.

Jesus se fyn skerpsinnigheid is ook opmerklik:

Toe hulle Jesus in ʼn strik wou vang oor belasting: “Wie se kop en naam is hierop?” “Die keiser s’n,” antwoord hulle Hom. Jesus sê toe vir hulle: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort”  (Mark 12:14-17).

Jesus se opmerking teenoor die Griekse vrou wat van Siro-Fenisië afkomstig was, moet mens ook lees met ʼn gemoedelike glimlag op Jesus se gesig eerder as ʼn negatiewe, godsdienstige afjak soos wat jy van die Fariseers sou verwag. Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie (Mark 7:25-26). Haar gemoedelike reaksie dui op die menslike konneksie wat hier tussen vreemdelinge gemaak word:Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet. Jesus prys haar voorbarigheid met: O Vrou, groot is jou geloof! (Matt 15:28).

JESUS IS EGTER NIE LIGSINNIG NIE

Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle(Ef 5:4). Die verskil is, iemand wat ligsinnig is, het geen karakterdiepte nie en probeer dit wegsteek deur ʼn vorm van fokus-misplasing. Soos kulkunstenaars wat jou aandag aflei sodat hulle die toertjie met die ander hand kan uitvoer. Jesus is eerlik, opreg en sonder voorgee. Hy sê dinge soos dit is: Maar Hy sê vir hulle: Gaan sê vir daardie jakkals: “Kyk, vandag en môre dryf Ek nog bose geeste uit en maak Ek mense gesond, maar op die derde dag sal Ek my werk klaar maak.” In elk geval moet Ek vandag en môre en oormôre die reis voortsit, want dit is ondenkbaar dat ʼn profeet op ʼn ander plek as Jerusalem omkom (Luk 13:32-33). Dis weereens ʼn briljante, maar die keer negatiewe, karakterisering van Herodes. Jakkals in hierdie geval dui op Herodes se slinksheid en onreinheid. Jesus verklaar dat Hy in beheer is en dat net Hy Sy eie einde sal bepaal.

WAT VREUGDE EN VROLIKHEID NIE IS NIE.

Dit is nie sarkasme nie; ek lag vir jou.

Dit is nie ligsinnig nie; maak nie heilige dinge goedkoop nie.

Dit is nie ontkenning nie. Ontkenning is ʼn vorm van arrogante geloof. Jy het nie ʼn sekere Woord van God nie, maar wens maar net dat die probleem vanself sal verdwyn. Nou maak mens grappies en takel nie die kern van ʼn probleem nie.

DIE KRAG VAN ‘N BLYMOEDIGE HART

Die Here wil nie hê ons moet Hom dien soos slawe wat sonder vreugde is nie. Omdat jy nie die Here jou God met vreugde en entoesiasme gedien het vir die oorvloed van seën wat julle ontvang het nie, sal julle julle vyande dien wat die Herejou God teen jou sal stuur (Deut 28:47). Daarom was daar sewe feeste op die Joodse kalender. God wil hê ons moet kan feesvier! (Esra 6:22).

Jesus was so ʼn vrolike, blymoedige mens (Luk 10:21). “Rejoiced in spirit” (agalliō) – to leap. Om te juig, van vreugde te spring, jou vreugde te wys deur te huppel en te spring, wys uitbundige of ekstatiese vreugde en genot.

Hy het die krag van vreugde in die Gees verstaan en dit het Hom die krag te gee om Sy lyding te deurstaan (Heb 12:2). Hy het geleef vanuit ʼn intieme verhouding met die Vader, wetende dat die Vader Sy gebede beantwoord (Joh 11:41-42). Hy het guns ontvang van die Vader (Matt 3:17). Die Vader het Hom verheerlik (Joh 8:54). Sy verhouding met die Vader, en gehoorsaamheid aan die Vader, was die bron van Sy vreugde. The joy of the Lord is your strength(Neh 8:10). Let op die klem in hierdie vers. Sy vreugde gee ons krag. Soos ʼn man krag kry wanneer sy vrou gelukkig is, kry ons krag wanneer ons weet ons lewe behaag die Here.

Alhoewel Jesus ʼn man was wat lyding en pyn geken het, het Hy nogtans met vreugde gelewe. Sondaars is na Hom toe aangetrek en onthou, hulle is nie juis daarvoor bekend dat hulle die ernstige, gewyde, hoogheilige mense opsoek nie! Baie tollenaars en sondaars was saam met Hom en Sy dissipels aan tafel, want daar was baie van hulle wat Hom gereeld gevolg he t(Mark 2:15).

ʼn Pragtige voorbeeld van die krag van ʼn positiewe uitkyk op die lewe en die krag van blydskap kry ons in die film, Life is beautiful. Rick Lawrence verduidelik dit pragtig in sy boek, Shrewd.

Pyn is ʼn roofdier en ons almal het al sy byt ervaar — sommige is lewend hierdeur opgeëet. Maar lag wys die vuis vir ʼn korrupte wêreld en verklaar: “Dit kan my nie vernietig nie!” Dit is die boodskap wat aan die einde van die 1997 Oscar-wenner, Life Is Beautiful, verkondig word. In die film gebruik ʼn Joods-Italiaanse man, Guido (gespeel deur skrywer/regisseur/akteur Roberto Benigni), lag om sy vierjarige seun te help om in ʼn Nazi-konsentrasiekamp te oorleef. Hy oortuig sy seun dat die kamp net ʼn oordrewe speletjie is en dat die seun ʼn regte tenk sal wen as hy die eerste kind is wat ʼn duisend punte bymekaar kan maak. Guido verduidelik dat hy punte sal verloor as hy huil, kla oor sy ma wat weg is, of as hy kos bedel. Ten spyte van sy haglike en afgryslike omstandighede glo die seun sy pa se weergawe van die werklikheid — die moordfabriek word sy speelterrein. Aan die einde, wanneer die Amerikaanse bevryders die kamp nader, word Guido gevang wanneer hy probeer om sy vrou te vind, en die Nazi-wagte lei hom weg om geskiet te word. Hy sien sy seun hou hulle dop terwyl hy weggelei word, so hy na-aap en maak grappe agter die wag se rug tot groot vermaak van sy seun. Die pa word doodgemaak, maar die seun en sy ma oorleef. Later, toe hy groot genoeg is om te verstaan wat gebeur het, besef hy dat sy pa se fyn humorsin sy lewe gered het.

HOE ONTVANG EN LEEF JY IN HIERDIE BLYMOEDIGHEID?

  • Ons verbondenheid met Christus, die Vader en die Heilige Gees – (Joh 15:11-12). Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.Ons verbondenheid met Jesus gee ons ewige vreugde. Soos ʼn wingerdtak in die boom ingeënt is en sy lewe van die boom ontvang, so leef ons in Christus. Maar ons kan nie in die boom ingeënt wees sonder dat ons outomaties ook in mekaar ingeënt is nie. Vergelyk Kolossense 1:27 in die Ou Vertaling en die Nuwe Vertaling: Christus IN en ONDER ons.
  • Ons verbondenheid met mekaar in Sy liggaam – Todd Adkins sê op sy Twitter-blad: “Geen mens kan Jesus alleen volg nie.” Ware apostoliese leiers soos Johannes se teenwoordigheid het sy vriende en medegelowiges se harte met vreugde gevul (2 Joh 1:12). In Johannes se eerste brief weerklank hy Jesus se gebed in Johannes 17:21: Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met Sy Seun, Jesus Christus.Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees (1 Joh 1:3-4). John Piper volg dieselfde gedagtegang wanneer hy verduidelik dat dissipels-maak eintlik ʼn korporatiewe en groepsgebeurtenis is, want jy word deel van die “Jesus”-groep.
  • Sy tasbare teenwoordigheid en heerlikheid – Deur ons verhouding en intimiteit met die Vader behou ons die vreugde. Hy is vreugde! Sy teenwoordigheid is loutere vreugde en ekstase! Ekstase = ecstasy, rapture. Shekhinah, “that which dwells”; die glans, heerlikheid of teenwoordigheid van God wat tussen Sy mense woon word deur die Targoemis en rabbi gebruik om God Self te openbaar omdat wettiese Judaïsme nie daarvan hou om vorm of emosie aan goddelikheid toe te skryf nie. Dit verwys na kere wat God Homself sigbaar geopenbaar het, soos byvoorbeeld op die berg Sinai (Eks 24:9-18) en in die Allerheiligste van die tabernakel en Salomo se tempel. Hierdie term kom nie in die Bybel voor nie. Dit is later deur Jode gebruik en Christene het dit by hulle geleen om uitdrukking te gee aan die sigbare majesteit van die goddelike Teenwoordigheid, veral wanneer Hy gerus of stilgestaan het tussen die gerubs op die versoendeksel in die tabernakel en Salomo se tempel. Die Shekinahis die naaste Joodse ekwivalent vir die Heilige Gees. Vroeë Christelike ekstase: Die vroeë kerk het ʼn element van ekstatiese profesie gehad. Johannes beskryf sy ekstatiese ervaring as volg: Ek was in die Gees op die dag van die Here …(Op 1:10). Hierdie voorval en ook ander wat hy beskryf, behels ʼn buite-liggaamlike ervaring waartydens Johannes gesigte van die hemelse realm gesien het, en opdragte en openbarings van God en/of die verheerlikte Christus ontvang het. Petrus (Hand 11:5) en Paulus (2 Kor 12:1-7) het soortgelyke ekstatiese ervarings gehad.
  • Efesiërs 5:18: Nie dronk van wyn nie, maar dronk van/gevul met die Heilige Gees. Vol blydskap, vervul met die Heilige Gees (Hand 13:52; vergelyk Hand 2:2 – die uitstorting van die Heilige Gees).
  • Eugene Peterson sê die Hebreeuse stam van die woord vir “prosperity” (voorspoed) moet eerder met “leisure” (ontspanning) vertaal word —“ die ontspanne houding van iemand wat weet alles is reg omdat God oor ons is, by ons is en vir ons is in Jesus Christus.” As bedroefdes, en tog is ons altyd opgeruimd; as armes, maar ons maak baie ander ryk; as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles (2 Kor 6:10).
  • Vrug van Sy karakter permanent in ons – Blydskap is deel van die vrug van die Gees. En die vrug is enkelvoud. Die primêre vrug is liefde! Die ander agt vrugte is almal ʼn uitvloeisel van liefde. Vergelyk met 1 Korintiërs 13:3-4: Liefde is geduldig, vriendelik, ensovoorts. Blydskap, vreugde, vrolikheid is ʼn inherente eienskap van liefde. Daar is hoofsaaklik twee primêre emosies wat ons as mens beleef – óf liefde óf vrees. Woede/wraak/haat is die hoogste emosie van vrees. Euforiese, sprankelende, huppelende vreugde is die hoogste emosie van liefde! Om met God versoen te wees, en met Hom reg te wees, bring vrede en vreugde in die Heilige Gees (Rom 8:17).

BLYDSKAP-ROWERS:

Hierdie eenwording met Hom en met mekaar is net moontlik as ʼn mens se hart heeltemal vry is van “offense” (gebelgdheid). Ons Afrikaners sukkel maar met dié woord. Die woordeboek vertaal “offense” as volg: aanstoot neem, gebelgd, gekrenk, beledig voel, gesteurdheid, afgehaal, gekwets, geraaktheid. Lukas 17:1-5 leer ons die stappe wat ons moet volg as iemand ons te na kom. Hoe meer jy hierdie stappe volg, hoe sterker word jy en hoe minder voel jy te na gekom.

BLYDSKAP EN VROLIKHEID IS N WAPEN IN ONS GEESTELIKE ARSENAAL

  • Vreugde gee ons krag tydens verdrukking. In al ons sorge is ons vol moed en oorstelp van blydskap (2 Kor 7:4).
  • Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (Rom 15:13-14). Vreugde versterk jou geloof. Hoop en vreugde is vennote. Vreugde is die bewaarder en draer van hoop. Vreugdevolle afwagting van hoop. Vreugde hou jou binne die atmosfeer van geloof, hoop en die bonatuurlike!
  • Vreugde maak ons beter getuies van Sy lewe. Jesus se vertelling van gelykenisse en slim humor het Sy luisteraars ontwapen om met ʼn vars oor en oop hart te luister. ʼn Lewendige, opgewekte en opgeruimde onderwyser sal nie sukkel om sy of haar kinders se aandag te kry nie.
  • Innerlike vreugde en vrolikheid is ʼn teenmiddel teen verslawing. Iemand wat innerlike vreugde beleef, gaan nie probeer om dit chemies aan te vul of te kry nie. Jy is vol!

FEESVIERING IN CHRISTUS JESUS

Wie hou nie van ʼnfees nie? Feestafels, propvol heerlike lekkernye. Musiek en dans! Lag en gesels! Die aanskoue van die mooiste sonsondergang saam met jou hartsvriende, ʼnheilige fees! Die bekende Noord-Ierse Rend Collective-lofprysingsgroep het ʼntrefferalbum geskep in die kuns van feesviering:  https://www.youtube.com/watch?v=VamJCsYMFBgDit was nommer een in die genre, Christelike album,  en handel oor die verlore kuns om in die moeilikste omstandighede nog steeds te kan feesvier.

Jesus se boodskap is ʼnuitnodiging na ʼnfees! Om die waarheid te sê, Hy is die opsomming en samevatting van al die Ou-Testamentiese feeste. Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus (Kol 2:16-17).

Jesus nooi almal na die fees! Nee, as jy ʼnfeesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes. Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het (Luk 14:13). Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word (Luk 14:23).

Jesus was lief om na feesgeleenthede te gaan selfs voor Sy bediening begin het. Die bruilof in Kana (Joh 2). En Levi het ’n groot feesmaal vir Hom in sy huis gegee; en daar was ’n groot menigte van tollenaars en ander wat saam met hulle aan tafel was(Luk 5:29).

Die eerste kerk was bekend vir hulle Agape-Liefdes-maaltye. En natuurlik ook die misbruike (Judas 1:12; 1 Kor 11:17-31) wanneer mense net aan hulleself dink en nie die nood van mense rondom hulle herken nie.

Jesus het natuurlik ook twee spontane feesgeleenthede geskep deur die brood te vermeerder –die 5 000 (Matt 14:16) en die 4 000 (Matt 15:27).

Ons hemelse herontmoeting gaan ʼnwonderlike fees wees (Heb 12:22; 2 Pet 1:11; Op 3:20; 19:17).

Die samekomste van gelowiges behoort feestelik te wees. Heilige feestye van verfrissing in die Heilige Gees … en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom (Hand 3:19). Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul, en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here (Ef 5:18-19).

Net ʼn lewe op reis saam met Jesus kan hierdie feestelikheid bewerkstellig!

Jesus is ʼn fees!

 

 

Jan Oosthuizen

Leave A Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.