DAGBREEK

Die Liggaam van Jesus

die-liggaam-van-jesus

En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matt 16:18, OV) 

Jesus begin ’n beweging – nie ’n formele struktuur nie. 

Ons het alreeds gesien hoe revolusionêr Jesus werklik was. Hy gaan die tempel afbreek en binne drie dae herbou, die seremoniële wette word gereduseer na net twee grondreëls, ’n eksklusiewe etniese geïsoleerde godsdiensgroepering word toeganklik vir almal. Jesus sterwe ’n grusame dood, maar op die derde dag staan Hy op uit die dood. 

Ons het intussen geleer dat hierdie nuwe tempel uit lewende stene (mense) bestaan (1 Pet 2:5); dat Hy vyf gawes, soos die vyf hoof organe, gegee het om die liggaam te voed en te versterk vir Sy Liggaam se dienswerk (Ef 4:11-16). 

Die getal Christene het in die eerste eeue besonder vinnig gegroei. En dit het twee jaar lank geduur, sodat al die inwoners van Asië die woord van die Here Jesus gehoor het, Jode sowel as Grieke(Hand 19:10). [1]Volgens Dreyer se historiese perspektief op kerkwees was die eerstehandse betroubare getuienis, bonatuurlike gawes, die sending-gedrewe fokus en die bereidwilligheid om opofferings te maak (selfs gemartel te word), die hoofredes vir hierdie groei. [2]Verder is die waardestelsel van die Christelike geloof wat Jesus sy dissipels geleer het, nie in geskrifte bewaar nie maar uitgeleef (Schor 2009:478). Waardes soos barmhartigheid, wedersydse ondersteuning, selfbeheersing, respek vir lewe en liefde het talle mense oortuig dat die Christelike geloof van waarde is. [3]

Een van die kenmerkende waardes van die vroeë̈ Christene was hulle respek vir lewe as ’n gawe van God. Hulle het nie deelgeneem aan praktyke soos kindermoord, aborsie of die verkoop van kinders aan slawehandelaars nie. In die eerste eeue na Christus was dit algemene gebruik om ongewenste kinders buite die dorp weg te gooi sodat wilde diere hulle opvreet. In die Germaanse wêreld is die verhaal van Hansie en Grietjie wat in die bos gelaat is omdat die ouers nie meer vir hulle kon sorg nie, bekend. 

• Doen goed aan mekaar.

• Vermy boosheid soos diefstal, bedrog en jaloesie.

• Betoon gasvryheid aan vreemdelinge.

• Versorg mekaar en deel kos met mekaar.

• Bewys barmhartigheid teenoor alle mense.

• Behartig die versorging en verpleging van siekes.

• Huishoudings getuig van waardigheid, verantwoordelikheid, pligsbesef, eerbaarheid en gehoorsaamheid.

• Etniese verskeidenheid word aanvaar.

• Vroue, kinders en slawe word met respek behandel.

• Respek vir lewe voorkom aborsie en kindermoord.

• Martelaarskap en die bereidheid om “jou kruis op te neem”.

Die vraag is: Waar het die kerk hierdie passie en fokus verloor, en hoe kry ons dit terug? 

Die term christelik is vandag ’n verwronge verdraaiing van hierdie eertydse waardes van die volgelinge van die Weg. 

Ons moet eenvoudig terugkeer na die implementering van die leer en lewe van Jesus Christus. Ons het egter blind geword vir van hierdie begrippe en moet dit weer in die konteks en milieu van Jesus se tydvak verstaan. Soos met ’n telefoonspeletjie se boodskap wat verdraaid raak in die oordrag, moet mens die regte boodskap by die oorsprong kry. 

Jesus kies twee nuwe begrippe in daardie tyd: moderne begrippe om die nuwe beweging wat Hy inisieer te verduidelik. Die Griekse woord apostel kom 81 keer voor in die NT. Die woord kom nie in die OT voor nie, want die woord het toe nog nie bestaan nie. Dit beteken ambassadeur, agent, gesant, boodskapper gestuur, op ’n missie, diens, sake, opdrag of geregtelik, draer van ’n kommissie. 

Ekklesia: 

Die tweede nuwe woord en begrip wat Hy gebruik is die woord ekklesia: “an assembly of called out ones.” Net die OV vertaal hierdie woord korrek: gemeente, samekoms, vergadering, spesiale byeenkoms. Die fokus van die woord ekklesia-samekoms is gerig op die rede waarom mense saam is eerder as waar hulle saamkom. So word die woord ekklesia in Handelinge 19:32 en 40 gebruik om die oproerige skare te beskryf. In die OT word daar na die volk verwys as die vergadering (1 Kron 29:20); gemeente van God (Neh 13:1); … was daar in die vergadering van die volk van God (Rig 20:2); Hulle moet van sy grootheid getuig in die volksvergadering (Ps 107:32); die vergadering van sy troue dienaars (Ps 149:1). 

Dis baie insiggewend dat Jesus se beskrywing en benaming van hierdie nuwe beweging en revolusie bloot samekoms/vergadering is. Verskillende samekomste: as julle saamkom in die gemeente (1 Kor 11:18); Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ’n psalm of ’n lering of ’n taal of ’n openbaring of ’n uitlegging — laat alles tot stigting geskied (1 Kor 14:26); samekomste in ’n gegewe area soos Galasië (1 Kor 16:1); Aan die gemeentes in Galasië (Gal 1:2); die gemeentes van Christus in Judea(Gal 1:22); Hy het deur Sirië en Silisië gereis en die gemeentes geestelik versterk (Hand 15:41). Miskien sal ons minder verdeeldheid hê as ons verskillende kerke bloot net as verskillende byeenkomste regoor die wêreld sien, met een visie en mandaat – Christus. [4]

Ongelukkig probeer die vyand al sedert die eerste tabernakel om die volgelinge van God deur godsdienspleging weg te lei na ’n statiese gebou en onpersoonlike mensgerigte instansie. SO sê die Here: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees? Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die Here. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord (Jes 66:1-3). 

Thomas More’s criticism of Tyndale boils down mainly to the way Tyndale translated five words. He translated presbuterosas elder instead of priest. He translated ekklesiaas congregation instead of church. He translated metanoeoas repent instead of do penance. He translated exomologeoas acknowledge or admit instead of confess. And he translated agapeas love rather than charity. [5]

Tyndale sou uiteindelik, soos Jesus en die eerste volgelinge, met sy lewe boet toe hy as ketter tot die dood veroordeel is. Luther, Calvyn, Zwingli en Knox was die opvolgers van hierdie reformasie om terug te keer na die waarheid.  

Dit is dan dalk nodig dat ons vandag, om verwarring te voorkom, nie meer die woord ‘kerk’ gebruik wanneer ons van die ware liggaam en gemeenskap van gelowiges praat nie. Kerk veronderstel die institusionele, formele kerk. Die probleem is egter dat daar mos in elke formele kerk ware gelowiges is. Dit wil sê, ons kan nie die baba met die badwater uitgooi nie. Ons het dieselfde stryd as wat die vroeë apostels gehad het. Daarom Paulus se skrywes, die een na die ander, om in Christus te bly (Gal. 4:19, Kol 1:28-29; 2 Kor 11:2; 1 Kor 2:2; 2 Pet 1:8; Ef 4:13). Elke kerk, gemeente, organisasie, bediening, aksie en beweging van die liggaam van Christus is vanuit die Hoof, Christus (Ef 1:22-23). 

Die volgelinge van die Weg:

Die eerste benaming van hierdie beweging was: Dié van die Weg (Hand 9:2; 24:14, 22). Dit impliseer ’n uitkenbare, anderse lewenstyl. Vandag word kerke uitgeken aan hulle kerkgebou, tipe musiek, leerstellings en benaming. Miskien sou die kerk meer aftrek onder mense gekry het as die onderskeiding bloot ons lewenstyl sou wees. 

Die kerk van die eerste eeu was ’n organiese eenheid. Dit was ’n lewendige, asemhalende organisme wat homself heel anders uitgedruk het as die institusionele kerk van vandag. En daardie uitdrukking het Jesus Christus op hierdie planeet bekend gemaak deur die manier waarop elke lid van Sy Liggaam funksioneer. [6]

Radikaal anders as formele godsdiens: 

  • Die groei was organies, gesentreer rondom die geloof in die opstanding van Jesus Christus (Joh 2:22; Luk 24:33-35; Joh 20:8,18,26-28; Hand 2:32; 3:15; 4:33; Fil 3:10; 1 Kor 2:2).
  • Die eerste kerk het in mense se huise byeengekom, nie in ’n kerkgebou of tempel nie (Hand 20:20; Rom 16:3, 5; 1 Kor 16:19). Die groeinetwerk was verhouding-gesentreerd. Jy is ontvang omdat ’n bekende jou aanbeveel het. (Sien bv. Filemon.) 
  • Hulle het nagmaal as ’n maaltyd saam geniet (1 Kor 11:21-34). 
  • Almal het deelgeneem aan hulle byeenkomste (1 Kor 14:26; Heb 10:24-25).
  • Elkeen het volgens hulle geestelike gawes en bediening saamgewerk (1 Kor 12-14). 
  • Hulle het hulleself as ’n gesin en familie gesien (Gal 6:10; 1 Tim 5:1-2; Rom 12:5; Ef 4:15; Rom 12:13; 1 Kor 12:25-26; 2 Kor 8:12-15). 
  • Leierskap was gepolariseerd en divers (Hand 20:17, 28-29; 1 Tim 1:5-7). 
  • Reisende apostels en profete het gemeentes bedien en versterk (Hand 13-21; al die apostoliese briewe). 
  • Hulle het as een eenheid in ’n plek gefunksioneer (Hand 8:1, 13:1, 18:22; Rom 16:1; 1 Tess 1:1). 
  • Hulle het nie titels en benamings gebruik nie (Matt 23:8-12). 
  • Leierskap was nie volgens ’n hiërargiese piramiedestelsel nie (Matt 20:25-28; Luk 22:25-26).

Die Liggaam van Jesus 

Een van God se primêre voorsienings aan ons, behalwe die uitstorting van die Heilige Gees, is die Liggaam van Christus. Vir God om mens te word het Hy ’n liggaam nodig gehad (Heb 10:5). Die alomteenwoordige, almagtige en alwetende God kom woon in ’n menslike liggaam! Dis Sy eerste groot liefdesdaad aan ons! Sy inkarnasie! (Heb 4:14-15.) Hy het ’n liggaam nodig gehad om aan die mensdom goed te kan doen, siekes te genees, die mag van die bose te verslaan en vir die wees, die weduwee en armes om te gee. Geen enkele mens kan vandag op sy eie volledig Jesus wees nie. Indien daar wel weer so iemand is, sal ons die persoon verheerlik. Jesus word vandag vlees deur Sy kerk. Die kerk is Sy Liggaam. Die volheid van God is geopenbaar in Sy Liggaam (Ef 4:11-16; Ef 5:30; Ef 2:19-22; 1 Kor 12:12). Ons het ook ’n liggaam nodig om God se wil te doen. Ons kan nie die Koninkryk van God op aarde laat kom soos wat dit in die hemel is sonder ’n liggaam nie. 

 Hý het sommige as apostels gegee, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars, om God se mense toe te rus vir die werk wat hulle in sy diens moet doen. Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou. So sal ons uiteindelik almal deur geloof en deurdat ons die Seun van God ken, ’n eenheid vorm, ’n volmaakte mens, wat aan die standaard van Christus se volmaaktheid voldoen. Dan, as mense ons met slinksheid en slimstreke op verkeerde paaie wil lei, sal ons nie meer soos klein kindertjies wees nie. Ons sal nie meer omgewaai of weggewaai word deur die wind van elke ding wat hulle verkondig nie. Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees. Dit werk so: Christus is die Hoof. Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit. Al die ondersteunende ligamente hou die liggaam bymekaar. Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op. (Ef 4:11-16, Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling). 

… omdat ons ledemate van sy liggaam is (Ef 5:30, Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling) 

Julle is dus nie meer uitlanders en bywoners nie, maar medeburgers van hulle wat aan God behoort. Ja, julle is lede van God se huis wat gebou is op die fondament wat die apostels en die profete gelê het. Christus Jesus is self die hoekklip op wie die hele gebou, terwyl dit kunstig inmekaargepas word, verrys tot ’n tempel wat aan die Here toegewy is. Deur julle verhouding met Hom word ook julle saam opgebou tot ’n gebou waarin God deur sy Gees woon (Ef 2:19-22, Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling). 

Die menslike liggaam het baie ledemate, maar hierdie baie ledemate vorm almal saam net een liggaam. So is dit ook met Christus se liggaam (1 Kor 12:12, Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling). 

Elke mens het ’n liggaam gekry wat ons moet versorg en oppas. Hierdie liggaam is só wonderlik dat dokters jare moet studeer om net een deeltjie te verstaan. Ons reduseer die liggaam van Christus tot ’n Sondagbyeenkoms. Die Liggaam van Christus is God se genialiteit. Ons sal in die ewigheid eers werklik die volheid van Sy Liggaam ten volle verstaan. Sommige mense is oorgewig, oefen glad nie, eet verkeerd, werk te hard en gee hulleself oor aan verslawing. Daarom gaan hulle liggame vinnig agteruit en affekteer hulle beweeglikheid. Hulle kan later nie meer dit doen waarvoor die liggaam gemaak is nie. Hulle sien nie die waarde van hulle liggame in nie. Baie gelowiges maak dieselfde fout omdat ons nie Sy Liggaam onderskei nie (1 Kor 11:29).

Verhoudinge is gekompliseerd (“messy”). Verhoudinge verg aandag, tyd, opoffering, deelname, harde werk. ’n gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees. Ons het ook ’n gesonde Liggaam/gemeente nodig om geestelik gesond te wees. Hierdie konsep is so ’n diep geheimenis dat die vyand ons daarvan weerhou om dit te sien! Want ons voorsiening en gesondheid is opgesluit in ’n liggaam. God het nooit bedoel dat die geestelike leier alleen die versorging van die kerk moet dra nie. Ons gee om vir mekaar! 

Dan, as mense ons met slinksheid en slimstreke op verkeerde paaie wil lei, sal ons nie meer soos klein kindertjies wees nie. Ons sal nie meer omgewaai of weggewaai word deur die wind van elke ding wat hulle verkondig nie. Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees. Dit werk so: Christus is die Hoof. Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit. Al die ondersteunende ligamente hou die liggaam bymekaar. Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op (Ef 4:14-16, Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling). 

Gevolglik heers daar harmonie in ons liggaam en al die liggaamsdele sorg saam vir mekaar (1 Kor 12:25, Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling). 

ʼn Mens bou nie ’n verhouding met mense deur kerkaktiwiteite by te woon nie. God se struktuur van groei is familie. Wanneer die kerk die karakter van ʼn familie verloor, verloor ons die waarde en krag van Sy Koninkryk. God verduidelik Sy Koninkryk aan ons in terme van familie, vader, jongmense en kinders (1 Joh 2:12-14). Net so is die liggaam soos ʼn familie met mekaar verbind. Inteendeel, die gemeente waaraan jy behoort word jou ware familie! Baie van ons wat tot bekering kom, voel nie meer so tuis en gemaklik rondom ons bloedfamilie nie omdat ons hart in wese verander het. Selfs Jesus het Sy geestelike vriende en dissipels sy ware familie genoem teenoor sy eie ma en broers (Matt 12:46-50). 

Dit behels dat jy betrokke moet raak in mense se lewens. Jy moet bereid wees om agter die maskers te kom en te leer om mekaar sonder voorgee lief te hê. Jy moet ook bereid wees om jouself bloot te lê, jouself te ontmasker en oop te maak. Daar is ʼn wonderlike dinamika wat begin geld as mense wat die Here dien in mekaar se lewens betrokke raak: Ons sien Christus in mekaar en dit spreek ons baie keer meer aan as wat ʼn preek ooit sou kon doen.  Ons groei ook deur die groei in mekaar te erken. Verhoudings is kompleks en is nie altyd net positief nie. Vir verhoudings om te verdiep, moet die verhouding verskeie toetse deurstaan. Dit is soms juis in hierdie negatiewe aspekte van verhoudings waarin ons die meeste kan groei. Baie mense sien nie daarvoor kans nie en hardloop weg voordat die negatief omgedraai is in ʼn positief. Konfrontasie en deursigtigheid, egtheid en eerlikheid is die agente wat ons deur hierdie negatiewe prosesse help en begelei tot wasdom in Christus.  

Daar is net een Liggaam. 

Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon (Ef 4:4). Die heerlikheid van God is alreeds opgesluit in Sy Liggaam. Ons kan net in die volheid van hierdie heerlikheid leef wanneer ons die Christus in mekaar raaksien en die gawes in mekaar ontsluit. Soos Jesus gebore is in ’n liggaam wat moes opgroei alvorens die tyd sou aanbreek vir Sy bediening, so is die kerk in ’n proses van voorbereiding vir die finale uur van haar glorie! Net soos mense Hom nie wou erken of aanvaar nie en uiteindelik kruisig, sal die kerk haar grootste heerlikheid in haar donkerste uur bereik. Mag God jou oë soos Petrus s’n open om die verlossing in Sy kerk raak te sien! 

Die één-liggaam-waarheid beteken ook dat die mense wat aan jou bekend is in jou plaaslike deel van die Liggaam nie die enigste Liggaam is nie. ’n Groot deel van Jesus se Liggaam is onbekend aan jou, maar tog wesenlik deel van jou en kan op ’n betrokke dag wederkerig tot seën wees. Alhoewel mens moet inskakel en deel wees van ’n betrokke deel van die liggaam, soos ’n tibia deur die knie verbind is aan die femur, is daar ander funksies in die liggaam waarvan ons nie eers weet nie. Tog ontvang die been lewe en voorsiening deur die hele liggaam. 

Die liggaam as die tempel van die Heilige Gees

Daar is drie verse in die NT wat verklaar dat ons die tempel van die Heilige Gees is (1 Kor 3:16; 6:19; 2 Kor 6:16). Wanneer ʼn mens hierdie skrifgedeeltes in konteks lees, dan praat Paulus elke keer met ʼn ander gehoor. In 1 Korintiërs 3:16 praat Paulus met die Korinte-gemeente oor sektarisme en divisie, met ander woorde, die kerk op die betrokke plek. In 1 Korintiërs 6:19 praat Paulus met die individu wat hoereer. In 2 Korintiërs 6:16 praat Paulus met die gemeente van die Korintiërs, maar hy is eintlik besig om met die universele kerk te praat: Hulle moet hulle weerhou van afgodery en moet heilig wees. 

By die Fees van Tabernakels lig die priester ʼn etrog (sitrusvrug) in sy hand op en wys dit in die vier windrigtings, die hemel en aarde, en verklaar die heerskappy van God oor alles.  ʼn Etrog is ʼn unieke vrug want dit is ʼn sel binne-in ʼn sel, binne-in ʼn sel. Die Jode verduidelik dat die etrog ʼn simbool van die kerk is – Jood en heiden is saam verenig in ʼn nuwe entiteit.  

Kerk is dus jy as individu. Maar jy is deel van ʼn liggaam in jou gebied of dorp en saam is ons kerk in die universele Liggaam. Wanneer ons die een misken, is daar nie meer eenheid nie. ’n Gemeente waar mense lidmate is sonder dat hulle waarlik weergebore is, lei tot ’n sakralistiese stelsel.  ʼn Gemeente wat hulself isoleer van die groter Liggaam van Christus staan die gevaar om sektaries te word.  ʼn Individu wat hom of haarself van ʼn plaaslike Liggaam isoleer is sonder beskerming en veiligheid. Elke gelowige moet hom-/haarself onderwerp en deel wees van ’n Liggaam wat nie perfek is nie, want in die proses groei ons geestelik. Om vir welke rede ook al jouself te isoleer, is ʼn vorm van trots en meerderwaardigheid, en ʼn soeke na eie gewin (Spr 18:1). Die groei vind plaas wanneer ons deur ons verskille werk en voortdurend kies om by mekaar bly.  

Die Heilige Gees is die asem van Sy Liggaam

Die ontstaan van Jesus se Liggaam het op Pinksterdag plaasgevind toe God weer Sy Gees – hierdie keer nie in een mens, Adam – blaas nie, maar kollektief in Sy Liggaam, Bruid, priesterdom, nasie, volk, verteenwoordigers.  

Die Fees van Weke, of Pinksterfees soos die meeste Christenkerke dit noem, is die tweede belangrikste fees op die Joodse kalender. Die fees gedenk die tyd toe Moses die Wet op die berg Sinai ontvang het. Dit het op die vyftigste dag geval, sewe volle weke nadat die sekel die eerste keer in die ongesnyde graan geslaan is (Deut 16:9). Die getal 50 word bereken as die aantal dae wat dit geneem het om van die verlossing uit Egipte tot by Sinai te trek (Eks 19:1). Hulle het hierdie dag bereken vanaf die tweede dag van die Paasfees. Die naam pinkster kom van die Griekse woord hè pentekostè= die vyftigste. Die fees word deur die Here ingestel en die voorskrifte van die fees word aan Moses deurgegee (Lev 23:15-21).

Hierdie fees is op die vyftigste dag, na die opstanding vervul toe die Heilige Gees uitgestort is op dié wat in die bovertrek gewag het op die vervulling van die belofte. (Vergelyk Hand 1:5, 8 en Matt 3:11.) Die ooreenkomste tussen die gebeurtenis by Sinai en dié in Handelinge 2 is baie interessant:

Toe die Here op die berg aan die volk verskyn … donderweer en weerlig … rook en vuur … die berg het geskud (Eks 19:16-18); geluid van baie sterk basuinen in Handelinge 2 geluid soos van ’n geweldige rukwindomdat die Here in ’n vuur daarop neergedaal het– tonge gesien soos van vuur. In Eksodus 32:28 word 3 000 mans doodgemaak as straf vir hulle vrees, ongeloof en die maak van ’n valse god. Na die uitstorting van die Heilige Gees kom 3 000 mense tot bekering! Tydens Moses se tyd op Sinai, volg instruksies oor die bou van ’n tent van samekoms. Later word die volk opgeroep om vrywillige offers te bring vir die oprigting van ’n heiligdom (Eks 25:1): Ook moet hulle vir my ’n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon(Eks 25:8). Na die uitstorting van die Heilige Gees word na ons as gelowiges verwys as die tempels van die Heilige Gees (1 Kor 3:16; 2 Kor 6:19; 2 Kor 6:16; 1 Kor 6:19). Die kerk van Jesus Christus word die gebou en tempel van God, gebou met lewende stene (Ef 2:21).

Die gebruik om twee brode voor die Here te wuif is baie interessant. Veral as jy in aanmerking neem dat geen offer aan die Here suurdeeg mag bevat het nie (Lev 2:11). Maar in hierdie geval word die twee brode gebak van die opbrengs van die oes, met suurdeeg, en voor die Here gewuif. Die Jode sien die twee brode as die Jode en die heidene. Hierdie is ’n geheimenis wat eers later deur Paulus verduidelik word dat God deur Christus die middelmuur tussen Jood en nie-Jood verwyder het. (Ef 2:11-22). Onthou, toe die Jode uit Egipte gevlug het was daar dié van gemengde bloed wat saam uitgetrek het (Eks 12:37, 38). Met ander woorde, almal wat die woord gehoor het en in geloof en gehoorsaamheid bloed aan die deurkosyne gehad het, is gespaar. God se hart is dat al die nasies gered sal word (Ps 72:11; Matt 28:19; Op 22:2). Maar heiden sowel as Jood het ’n inherente hartprobleem met sonde. Albei is vasgevang in die mag van sonde en kan nie hulself bevry nie. Op Pinksterdag hoor elke nasie wat onder die hemel is hoe die dissipels in hulle eie taal getuig oor die wonderdade van God!

Die skrywer van Hebreërs werp nog meer lig op die vervulling van die fees en hoe God Sy ware bedoeling van wat by Sinai moes gebeur in Handelinge 2 op Pinksterdag verwesenlik. Anders as die Israeliete wat by Sinai berg gekom het toe God sy Wet vir hulle gegee het, het hulle nie by ’n fisiese berg aangekom met brandende vuur, donderwolke, donkerte, stormwind, trompetgeskal en ’n stem wat praat nie. By Sinai het dié wat dit gehoor het, gesmeek dat God nie verder met hulle moes praat nie. God se opdrag dat selfs ’n dier wat die berg met sy poot aanraak doodgegooi moes word, het hulle laat terugsteier. Ja, so angswekkend was die aanskoue van alles dat Moses uitgeroep het: “Ek is absoluut verskrik, ek bewe van angs!” (Heb 12:18-21). God wou Homself persoonlik aan ’n groep mense, Sy volk, Sy uitverkorenes openbaar, maar die mens kon die heerlikheid nie uitstaan of hanteer nie. In vrees en ongehoorsaamheid gaan maak hulle vir hulleself ’n afgodsbeeld. Op Pinksterdag kom stort die Here Sy Gees in ons uit, en vind die kulminasie van honderde jare se belofte en goddelike verwagting plaas toe die mens God van aangesig tot aangesig sien en ervaar. Dit is die hoogtepunt en ware betekenis van wat gebeur tydens die vervulling met die Heilige Gees.

Die eerste volgelinge se wesenlike ontmoeting met die lewende God is die geboorteplek van die beweging wat die wêreld sal verander. Nee, julle het aangekom by Sionsberg, by die stad van die lewende God! Julle het aangekom by die hemelse Jerusalem, by die miljoene engele wat juigend feestelik bymekaar is, en by die gemeente van God se kosbare kinders wie se name in die hemel opgeskryf staan. Julle het gekom by God, die Regter oor almal, en by die geeste van die verlostes in die hemel wat nou volkomenheid bereik het. Ja, julle het aangekom by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond tussen God en sy mense, en by die verbondsbloed wat gesprinkel is en wat van vergifnis getuig – so anders as die bloed van Abel wat om vergelding geroep het(Heb 12:18-24).

Die heerlikheid van die Liggaam is ’n eenheid van gekompliseerde diversiteit.  

Elkeen het ’n ander bediening, fokus en bestaansreg, maar alles ter wille van die Liggaam. Die oog bestaan om te kan sien ter wille van die liggaam. Dis juis hierdie andersheid wat die meeste groei in ons bewerk. Rick Joyner vertel die storie waar ’n sekere man homself teen hulle bediening uitgespreek het. Hy het selfs ’n webtuiste teen hulle bediening begin. Die Here werk toe in hom om vir die man te begin bid. Die Heilige Gees sê toe dat hy die Here moet begin dank vir die man. Maar hoekom? Hoe is dit moontlik? Toe besef hy: Sedert die man se opposisie het hulle bediening meer bedag geraak op wat hulle sê en hoe hulle dit sê. Die persoon van wie jy soms die minste hou, is die werktuig wat God gebruik om jou die meeste te verander. Soms wil die oog die liggaam oordeel omdat hulle nie sien nie, maar hulle het bes moontlik ’n ander funksie. Laat elkeen sonder murmurering hulle funksie vervul. Ons voel soms: “Net ek maak opofferings!” Moet eerder nie vergelykings tref nie, maar dien net die Here (Joh 21:22). Daar is geen manier hoe jy jou van die Liggaam kan afskei en distansieer nie. Alleenlik sonde en iemand wat verdeling saai en van die gesonde leer afwyk kan vermy word. 

Geen sel in die liggaam kan buite die liggaam bestaan nie. Ons het mekaar nodig. Lees gerus hierdie pragtige artikel, ’n opsomming van een van die hoofstukke in Macolm Gladwell se boek, Outliers, oor die Rosetta-effek wat handel oor ’n klein Italiaanse gemeenskap in New York: http://yocuzlawyers.com/2011/06/the-roseto-effect-the-valley-of-the-roses/

God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is:Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid(Kol 1:27, NV). Die woord “julle” is ’n kollektiewe voornaamwoord en kan vertaal word met “Christus onder julle en in julle”. Christus is in jou maar daar sal nooit weer ’n Christus in Sy volheid in een persoon gemanifesteer word nie. Christus se volheid kan alleenlik deur ’n liggaam van mense verheerlik word. Die kerk is Sy Liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul (Ef 1:23). As the new wine is found in the cluster, And one says, “Do not destroy it, For a blessing is in it” (Jes 65:8).

Eenheid is die Nuwe Verbond en bewys dat God se heerlikheid die tempel vul. 

Die bewuswording en openbaarmaking van die Heilige Gees in groepsverband.

God se heerlikheid word óf in jou as individu (die tempel van die Heilige Gees) óf die samekoms van gelowiges geopenbaar. God se heerlikheid rus op die samekoms, nie die institusie van kerk nie. God seën ’n liggaam van gelowiges omdat hulle saam Sy wil op aarde doen. Maar die kerk as organisasie is bloot ’n naam om ’n versameling gelowiges te identifiseer. Jy ontvang geen voordeel as jy net in naam deel van ’n kerk is en nooit enige aktiwiteite bywoon nie. Die woord ekklesia kan die beste met “congregation” of samekoms vertaal word. 

Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom(Heb 10:25). 

v 16 deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word

v 19 As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry,

v 20As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle (Matt 18:16, 20). 

God’s power is revealed in Unity! 

Ons eenheid as kerk is belangrik! … sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het(Joh 17:21).

Jy kan nie eenheid met God hê sonder om in eenheid met Sy Liggaam te wees nie. Eenheid en verbondenheid met mekaar is eenheid met God. Die werking is wederkerig en absoluut! (1 Joh 4:20) 

Dit is ontsettend belangrik vir God se Gees om in die samekoms te werk sodat ons in eenheid met mekaar is. Die Handelinge-kerk se krag was in hulle eenheid.  

Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed (Hand 1:14).

Hulle was almal op een plek bymekaar (Hand 2:1).

Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom en van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou (Hand 2:46).

En al die gelowiges het gereeld saamgekom in die Pilaargang van Salomo (Hand 5:12).

Die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus (Hand 8:6).

Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê … (Hand 4:24).

Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel (Hand 4:32).

Daarom het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle toe te stuur (Hand 15:25).

God se ewige plan was nog altyd Sy Liggaam

Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid(1 Tim 3:15). Die kerk is dus die grondslag van die Waarheid wat Christus is. Net soos die tempel in die OT sentraal gestaan het tot die Israeliete se lewe, is die kerk sentraal tot ons lewe. Die volle verloop van ons lewe, van babatyd, opvoeding, werk, trou, kinders hê, hulle groot maak, tot ons oudag is verweef in die kerk.  

Ons kan nie Jesus as Hoof hê sonder om Sy Liggaam te aanvaar nie.

Toe Paulus die kerk vervolg, sê Jesus: Ek is Jesus wat jy vervolg(Hand 9:5).

Jy kan nie die hoofskap van Christus hê sonder Sy Liggaam nie. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul(Ef 1:22-23).

… soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het(Ef 5:25; Hand 20:28).

Die Ewige Kerk: Ons het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is (Heb 12:22-23).

Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,  julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is(1 Pet 3:9).

Die krag van samekoms

Geskiedenis word gemaak wanneer die regte mense saamkom en ’n besluit neem. Alle bewegings en revolusies het ontstaan by ’n samekoms van mense wat dieselfde sentimente en waardes handhaaf en nastreef. Gemeenskap is dus nie een soort samekoms nie. Dis elke keer wanneer ons saamkom. 

God se heerlikheid word geopenbaar óf in jou as individu (die tempel van die Heilige Gees) óf die samekoms van gelowiges. God se heerlikheid rus op die samekoms, nie die institusie van kerk nie. God seën ’n liggaam van gelowiges omdat hulle saam Sy wil op aarde doen. Maar die kerk as organisasie is bloot ’n naam om ’n versameling gelowiges te identifiseer. Jy ontvang geen voordeel om net in naam deel van ’n kerk te en nooit enige aktiwiteite by te woon nie. Die woord ekklesia kan die beste met “congregation” of samekoms vertaal word. 

Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom(Heb 10:25) 

v 16 deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word

v 19-20 As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle(Matt 18:16, 20). 

Die voordele van DEEL WEES op elke vlak: 

1.Sonder goeie leiding stort ’n volk in duie; dit is veilig om baie raadgewers te hê(Spr 11:14, Nuwe Lewende Vertaling). Daar is soveel beskerming om besluite te neem binne in ʼn liggaam omdat mens so maklik jou eie hart kan mislei (Jer 19:9).

2.Ons geveg teen die owerhede (“principalities”) in ʼn sekere gebied kan nooit as individue plaasvind nie, maar alleenlik deur ʼn liggaam van gelowiges (Matt 16:18; Ef 3:10). Dis ’n eeue oue beginsel dat vyf ʼn honderd vyande laat vlug, maar ʼn honderd man sal tien duisend laat vlug (Lev 26:8). Die akkurate kerk, soos enige ander organisasie, benodig ʼn kritiese massa mense om werklik ʼn verskil in ʼn omgewing te maak. Let wel dat ons nie hier van gemeentes praat wat duisend mense as skare trek maar net honderd lidmate is medewerkers nie. ’n  Akkurate gemeente, waar elke lidmaat sy rol en bediening verstaan en uitleef, is ʼn kragtige wapen in God se hand.  

3. Die versorging van mense in die NT is die kerk (maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra – 1 Kor 12:25) uit wie die hele Liggaam die groei van die Liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde (Ef 4:16). Hierdie Liggaam is goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate. Dit is in hierdie kerk waar daar geen tekort was nie. Hoekom? Omdat almal alles wat hulle besit met ander gedeel het. Weerhouding van deel te wees van ʼn plaaslike Liggaam verswak die kerk se vermoë om werklik effektief in hierdie doel te wees. Dit behels ook die aspek van jou bydraes aan die kerk. Om God se werk en Koninkryk op globale skaal te bevorder kos geld. Die meeste kerke beleef dat maar net 20% van die lidmate hulle tiendes betaal. Weereens verswak dit die kerk se vermoë om effektief te gee, te dien en te help! As almal maar net besluit om nie deel te wees van ʼn plaaslike Liggaam nie en hulle eie ding te doen, rig ons uiteindelik skade aan ons eie geledere aan. Elkeen se betrokkenheid, selfs jou verskille met ʼn sekere kerk, is nodig vir groei.  

4. Daar vind ʼn spesiale “deelagtig making” (“impartation”) plaas wanneer ʼn diens deur die Heilige Gees gedryf word. Dit kan op geen ander manier bekom word as om daar te gewees het nie. Ek begeer met my hele hart om julle te besoek. Ek wil vir julle ’n geestelike seëning (impart) bring om julle in julle geloof te versterk(Rom 1:11, Nuwe Lewende Vertaling). Dit geld veral wanneer ons dienste beleef soos wat Paulus in 1 Korintiërs 14:26 aan die kerk voorskryf: Wanneer julle bymekaar kom dan het elkeen …  ʼn Mens kan die deelagtig making van ʼn sekere begaafde prediker deur DVD bekom, maar nie die deelagtig making van ʼn Liggaam nie.  

5. Daar is in elke huis ʼn sekere inherente bemagtiging en veiligheid asook ʼn spesiale genadegawe wat God aan ʼn spesifieke gemeente gee wat nie verkry kan word sonder om deel te wees van die gesin nie. Jy kan dienste besoek, maar die genade en goddelike vermoë kom deur deel te wees van die spesifieke gesin. Ons het al so dikwels gesien hoe sekere mense ʼn mate van beskerming in die huis beleef, en wanneer hulle eendag die huis verlaat en hulleself afsny, dan val alles deurmekaar en uitmekaar in hulle lewens. Om deel te wees van ʼn dinamiese gemeente gee ook aan elke individu ʼn doelgerigtheid. Jy voel jy bestaan nie net nie, jy is deel van ʼn plan en die uitvoering van daardie plan en visie!  

6. Die vinnigste groeitydperk in my lewe het gekom deur korreksie. Ek het leiding ontvang. “I have been discipled.” So baie gelowiges kom tot bekering en leef maar net op hulle eie voort waar hulle die preke en insette waarna hulle wil luister van TBN kan kies, maar nooit deur ʼn geestelike pa of ma gelei word en persoonlik in die waarheid geleer word nie. Hierdie is ʼn groot gebrek in die kerk en ook een van die redes waarom so baie Christene vir jare in ʼn kerk sit en nog steeds nie wasdom bereik nie. Weereens: God se model is familie en gesinne. Dis immers ook hoe die natuur werk. Almal is in families gegroepeer en funksioneer binne ʼn spesifieke familie. Ons het baie instrukteurs in die Gees maar nie baie vaders nie (1 Kor 4:15). Die gevolg is dat ons ʼn klomp kop-kennis het wat nog nie deel geword het van ons waardestelsel en leefwyse nie.  Want ʼn pa stap met jou ʼn pad, hy leer en korrigeer jou die heeltyd! Die belangrikste is egter dat ʼn pa jou WYS hoe! Mentorskap!

7. Net satan wen as mense nie deel wil wees van ʼn gemeente nie. Daar is nie so iets soos ʼn perfekte gemeente nie.  Elke gemeente funksioneer soos ʼn betrokke gesin en jy voel inherent deel daarvan of nie. Daarom is dit belangrik dat jy ʼn gemeente vind waar jy deel voel, gemaklik is en weet dat jy ʼn bydrae sal kan lewer. Kry ʼn huis! Daarom is daar so baie kerke, almal met ʼn verskillende fokus en mandaat. Hoor by God waarheen Hy jou gestuur het. Waar het God jou bygevoeg, want mens word nie net deel van ʼn gemeente en “join” ʼn kerk nie (Hand 2:47; 5:14; 11:24). ’n Mens wat hom eenkant hou, lewe net vir homself. Hy het ’n afkeer aan gesonde oordeel(Spr 18:1, Nuwe Lewende Vertaling). Die kerk kan nie die kultuur van die dag konfronteer sonder die invloed en momentum van gesamentlike en gefokusde optrede nie. Dit is die kollektiewe getal ware gelowiges wat werklik elke dag soos Jesus leef wat ’n gemeenskap/dorp/stad verander. Dit is ons grootste wapen, en ook die rede hoekom satan so hard probeer om die kerk in diskrediet te bring.

8. Selfs Jesus was onder gesag, en so moet ons onsself ook onder gesag stel (Ef 5:21). Hoekom die aanmoediging aan leiers om mooi en waardig om te sien na die mense onder hulle as niemand meer gelei wil word nie? Ons moet hulle respekteer (1 Tess 5:12-13), en eer (1 Tim 5:17), en aan hulle gehoorsaam en onderdanig wees (Heb. 13:17). Die tydsgees van ons dag fokus op die self: ons leef om lekker te voel en wil nie voorgesê word nie. Selfs Jesus was tot die ouderdom van 30 aan aardse ouers gehoorsaam. Goeie leiers sal nie oor hulle mense heers nie (1 Pet 5:3). Jesus was ook hierin vir leiers ’n voorbeeld.  

9. Om aan ’n gemeente te behoort en betrokke te raak vereis dat jy jouself sal verloën. Selfverloëning is nie maklik of gemaklik nie, dit kos jou jou lewe, jou alles. Ons is bang vir hierdie tipe “commitment”. Ons ken die prys. Die waarheid is egter dat die opstanding na die dood die prys en opoffering by verre oortref. Die vreugde en tevredenheid van deel-wees, versorg wees, liefde en omgee, oortref by verre die opoffering. Die dinamika van gemeenskap het in wese ’n ongeskrewe reël: Dit wat jy insit is wat jy uitkry. As jy liefde gee, omgee, help laste dra, ingestel is op ander, dien, help, ondersteun, sal jy nooit ’n tekort hê aan dit wat jy weggegee het nie. Jou belegging is gemaak in ’n ewige bankrekening. En as jy in nood is en onttrekkings moet maak, sal jy vind daar is in oorvloed.  Mens kan nie die voordeel trek deur ’n TV-prediker se dienste op Sondag te kyk nie. Jy moet iewers betrokke wees.

Groei gebeur nie in die versameling van inligting of inspirasie nie, dit is die uitvoering, oefening en vervolmaking wat jou laat groei. 

Hierdie nuwe beweging het dit nie maklik gehad nie: 

Vervolging: (Hand 8:1; 11:19; 20:23; Rom 8:35; 2 Kor 12:10) 

Dwaalleringe: (Fil 3:2; 1 Tim. 1:15-16;  2 Tim 2:2)

Faksies: (1 Kor 11:19) 

Afvalligheid: (1 Tim 4:1)

Wedywering: (Fil 1:16-18) 

Heiligmaking: (1 Kor 5) 

Tog was hierdie beweging aantreklik, en dit het gegroei en in ’n baie kort tydjie die hele bekende wêreld volgelinge van Jesus gemaak.  

Die einde van godsdiens

Die kerk as instelling kan egter nie dieselfde sê nie. Lande wat eers christelik was, is vandag sekulêr of aanbid ander gode. In die naam van godsdiens is mense vervolg, tot die dood veroordeel en daar is vir eeue in twis en tweedrag oorloë gevoer.  

Watter van die eerste kerke, Efese, Galasië, Jerusalem, Alexandrië, Konstantinopel, Antiochië, Rome, is vandag nog Jesus Christus-gesentreerde, missionêre, geesvervulde gemeenskappe? Soos die beweging geïnstitusionaliseerd geword het, het dit mens-gedrewe en mens-gesentreerd geword. Om nie eens te praat van Tertullianus se werk in Noord-Afrika, Philippus van Serene in Kartago, wat vandag heeltemal met Islam vervang is nie.


[1]Stark, R., 2007, Discovering God: The origins of great religions and the evolution of belief, Harper Collins, New York. Bl 161-162  Barna, G., 2005, The state of the church, The Barna Group, Ventura, CA. Bl 246-250 Hirsch, A., 2006, The forgotten ways: Reactivating the missional church, Brazos, Grand Rapids, MI.  Bl 18-22

[2]Dreyer, W.A., 2016, ‘Historiese perspektief op kerkwees’, in ‘Praktiese ekklesiologie – Kerkwees in die 21ste eeu’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies, suppl. 10, 72(5), a4378. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v72i5.4378 

[3]Schor, A.M., 2009, ‘Conversion by the numbers: Benefits and pitfalls of quantitative modelling in the study of early Christian growth’, Journal of Religious History 33(4)Bl 478. 

[4]Everett Ferguson the church of Christ a biblical ecclesiology for today Bl 129 – 134 

[5]Geoffrey W. Bromiley, The International Standard Bible Encyclopaedia, Revised, vol. 2 (Grand Rapids: Eerdmans 2002), Bl 85.

[6]Pagan Christianity?: Exploring the Roots of Our Church Practices by George Barna. 

Jan Oosthuizen

Leave A Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.