DAGBREEK

Jesus die Aanbidder

jesus-die-aanbidder

Ware aanbidding – wat God behaag – gebeur wanneer jy jouself volkome aan God gee.

Dis insiggewend dat daar bitter min opgeskryf is oor hoe Jesus aanbid het. Daar is een enkele vers dat Hy gekniel het. Hy het toe ‘n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid.(Mark 14:35) Tydens die Pasga-maal het Jesus saam met Sy dissipels die gebruiklike Hallel (Ps 114-118) gesing. Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.(Matt 26:30) In een van die mooiste oomblikke van Jesus se aanbidding het Hy by daardie selfde geleentheid deur die Heilige Gees dit uitgejubel: Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling. (Luk 10:21) Die woord wat hier gebruik word is:ἀγαλλιάω agalliáō; to leap. “To exult, leap for joy, to show one’s joy by leaping and skipping denoting excessive or ecstatic joy and delight. Hence in the NT to rejoice, exult.” In hierdie konteks beteken dit ook: “my tong was bly,” wat beteken om met woorde te jubel en hardop te sing.

Jesus was duidelik gekant teen aanbidding net om deur mense gesien te word. Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot.(Matt 23:5)

Daar word vandag baie klem gelê op hoe God aanbid moet word. Die een kerk kompeteer met die ander oor wie se aanbiddingstyl die beste is en die meeste mense trek. Aanbidding behoort egter Godgerig te wees. Wat is die manier van aanbidding wat vir God die aanneemlikste is? Sekerlik is Jesus se lewe dan ons standaard omdat Hy die perfekte voorbeeld van die vleeswording van die wil van God is.

Jesus toon baie duidelik dat aanbidding nie ver verwyder is van die mense nie. Aanbidding is tussen mense, in die alledaagse, in die natuur. Reeds in die OT word daar melding gemaak dat God nie verheerlik word deur die bou van geboue nie. Eerder:Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.(Jes 66:1-2) Jesus wys ons dus dat aanbidding ’n permanente leefstyl is en nie ’n plek waarnatoe jy gaan nie. My lewe, wandel, doen en late is Sy heiligdom. (1 Kor 3:16; 6:19; 2 Kor 6:16)

Jou werk is aanbidding.

Ek onthou tydens ons besoek aan Pennsilvanië, waar die Amish-mense leef en boer, hoe beïndruk ons was met die netheid, presisie en pragtige, gesonde mielie- en koringlande. Ons staan tog net so in verwondering oor God se skepping. Mag die mensdom ook in verwondering staan oor ons skeppings, kreatiwiteit, kundigheid, werk-vrugbaarheid en diens! Ons werk is ook ’n preek!

Jesus kies om 90% van Sy lewe daaraan te wy om die Vader te aanbid en te verheerlik in ’n baie aardse, gewone alledaagse bestaan, tussen gewone mense. En Hy doen dan ook ’n beroep op ons om dieselfde te doen: Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.(Matt 5:15) Buiten dat Jesus in hierdie tyd hard moes werk, leer Hy ons dat Hy en die Vader ook werk. Maar Jesus het Hom teen hulle verweer: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” (Joh 5:17)

Die idee dat werk ook aanbidding is, kom van die Hebreeuse woord vir werk en aanbidding wat van dieselfde kernwoord afkomstig is: Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk(abad:skep, bewerk, arbei, vrugbaar, en diens) en op te pas(samar: om op te pas, te hou, te preserveer, te beskerm, versigtig, wag te hou). (Gen 2:15) Hierdie opdrag om te werk is voor die sondeval gegee en toon dat ons geskape is om te werk en rentmeesters te wees. Die vloek van die sondeval is: [M]et swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank. (Gen 3:17)

Die tuin-narratief loop soos ’n goue draad deur die Bybel. Die Bybelverhaal begin in ’n tuin (Gen 2:8-10) en eindig in ’n tuin. (Op 22:1-3) Die oudste beroep is dié van ’n tuinier. Maria sien Jesus aan as die Tuinier. (Joh 20:14)

Dis verder interessant hoe baie Jesus verwys na die landbou en om dinge te plant en te laat groei.

Die gelykenis van die saaier: (Matt 13: 1-23),

Die koring en die kaf: (Matt 13:24-30, 36-43),

Die mosterdsaad:  (Matt 13:31-32),

Die geheime skat in die veld: (Matt 13:44).

Jesus sê ook vele kere dat ons soos ’n gesonde boom moet vrug dra. (Matt 3:8-10)

Dat daar nie twee verskillende tipe vrugte uit een boom kan groei nie. (Matt 7:16-20)

Ons moet siele gaan wen en die oes insamel; kyk, die oes is alreeds wit.

Hy vervloek die vyeboom wat nie vrug dra nie. (Matt 21:18-20)

Koninkryk is soos saad wat groei en vrug dra. (Mark 4:26-29)

Gelykenis van die landbouer. (Luk 20:9-18)

Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.(Joh 12:24)

Jesus sien aanbidding dus as vrugbaarheid. Die twee gelykenisse en ook die vermenigvuldiging van die ponde (Luk 19:11-27) en die talente (Matt 25:14-30) gaan oor getrouheid en nie hoe goed ons goed oppas nie. Dit gaan oor hoe goed ons woeker met dit wat ons alreeds ontvang het. Ons vergelyk dikwels getrouheid met standvastigheid, konsekwentheid, betroubaarheid, lojaliteit, toegewydheid en eerlikheid. Jesus vergelyk getrouheid egter met iets anders: vermenigvuldiging. Wat God ook al aan ons gee, Hy verwag dat ons dit sal vermenigvuldig en aan Hom terugbring.

Toe die Here die aarde geskep het, het Hy gesê dit was goed. Wat skep ons wat goed is? Hy word verheerlik deur wat ons skep. Sommige mense skep divisie, wanorde en verdeeldheid. Soos die skepping getuig van Sy heerlikheid en wie God is, so getuig die werke van ons hande.

Wanneer ons op die regte manier sake doen, word ons besigheid ’n manier om mense te bemagtig en op te rig. Daar word dikwels na ’n rassegroep verwys as sleg, en tog bestaan daar ’n Mercedes Benz-fabriek in Port Elizabeth wat aan Europese standaarde voldoen, met meestal Afrikane. Tans word Kigali beskou as die skoonste stad in Afrika. Dis nie die mens wat sleg of vuil is nie. Ons besigheidsmodel maak van mense óf slawe óf rig mense op. Korrupsie is nie net ’n heenwysing na slegte mense nie, maar ook die bewys van ’n swak stelsel.

Die hoogtepunt van die tuin-tema in Jesus se prediking is: Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra.(Joh 15:1-10) Jesus is hier baie reguit en op die man af: Die wat My lief het, sal my gebooie bewaar.

Reg leef in ’n goddelose wêreld is hoe ons God die meeste verheerlik.

Sien Daniël, Nehemia, en Mordegai en Ester!

’n Godsvrugbare lewenstyl is hoe God die meeste verheerlik word. Om geregtigheid en reg te doen, is vir die HERE verkiesliker as offers.(Spr 21:3) OAV

To do righteousness and justice is more acceptable to the LORD than sacrifice. (Spr 21:3) NKJV

Genesis 4:4 Die Here het Abel en sy offer aanvaar, maar nie dié van Kain nie. Daaroor was Kain baie kwaad en neerslagtig. “Hoekom is jy so kwaad?” vra die Here vir hom. “Hoekom hang jou gesig? Is daar nie aanvaarding vir jou as jy reg optree nie? Maar as jy weier om reg te doen, moet jy oppas! Sonde sit reg by die deur om jou te oorweldig, maar jy moet dit oorwin.”NLV

Amos 4:4-5 Bring maar julle dankoffer van suurdeegbrood. Spog gerus openlik met julle vrywillige offers! Julle Israeliete hou mos daarvan om dit te doen!NLV

Amos 5:23 Ek wil liewer ’n vloed van regverdigheid sien, ’n eerlike leefwyse soos ’n stroom water wat nie ophou vloei nie.NLV

Amos 6:5 You sing trivial songs to the sound of the harp and fancy yourselves to be great musicians like David. NLT

Jesaja 1:11-15;Wat het Ek aan julle baie offers? vra die Here. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van voerbeeste; die bloed van bulle en lammers en bokke staan My nie aan nie. As julle kom om voor My te verskyn, wie het julle gevra om my voorhowe te kom vertrap? Moenie langer julle nuttelose offergawes bring nie: Ek het ’n afsku van julle wierookoffers. Nuwemaansfeeste, sabbatsvierings, die uitroep van feesdae: Ek verdra nie feesviering met onreg saam nie. Julle nuwemaansfeeste en feesgetye haat Ek. Hulle is vir My ’n las, Ek is moeg daarvoor. As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek. NV

Jesaja 5:12 Daar is liere en harpe, tamboeryne, fluite, en wyn by hulle fuifpartye. Maar van wat die Here doen, neem hulle geen notisie nie, sy dade sien hulle nie raak nie.NV

Jesaja 29:13 So het die Here gesê: “Hierdie mense sê hulle behoort aan My. Hulle eer My met hulle monde, maar hulle harte is ver van My af. En hulle aanbidding bestaan uit niks meer nie as menslike opdragte en tradisies.(Matt 15:9)

Die hoogste vorm van aanbidding is ons geloofsvertroue in God.

God aanvaar Abel se aanbidding omdat hy geglo het. Omdat Abel geglo het, het hy ‘n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy ‘n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood. (Heb 11:4) Toe hulle Jesus direk vra: “Wat moet ons doen om die werke van God te volbring?” Jesus antwoord en sê vir hulle: “Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het”(Joh 6:28-29). En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek. (Heb 11:6)

Selfs twee heidene, ’n Romeinse offisier en ’n Kanaänitiese vro, is geprys vir hulle groot geloof:

Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so ’n groot geloof teëgekom nie(Matt 8:10)

“Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.”

Van daardie oomblik af was die dogter gesond. (Matt 15:28)

Dit is baie duidelik uit bostaande skrifgedeeltes dat God die meeste behaag word deur ons geloof! Lofprysing en aanbidding verg geloof. Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk. (Gal 5:6)

Opregte liefde – God soek jou hart

Op grond van die ontdekking van Sy liefde vir ons is ons lief vir die Here met ons hele hart, ons ganse gemoed, ons hele verstand en al ons krag! (Deut 10:12; 30:6; Mark 12:30; Luk 10:27) Jesus is immers die rede vir ons bestaan, want Hy het ons eerste liefgehad. (1 Joh 4:19) Sy liefde genees en herstel ons wese, en werk in ons om saam met alle gelowiges mekaar lief te hê soos Hy ons liefhet. (Lev 19:18; Ef 5:2; 1 Tess 4:9; 1 Pet 1:22; 1 Joh 2:7)

Loof die Here met jou alles, die hele mens is betrokke.

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, al jou krag en jou hele verstand.(Luk 10:27) Dit impliseer eenvoudig dat jy die Here moet liefhê met jou gedagtes, jou emosies, jou liggaam, jou alles! Ons hele menswees is teenwoordig en betrokke om God voluit lief te hê. God is dus die fokus van ons hart. Ons alles, ons wil, ons lewe, ons begeertes, ons drome ons passies, ons gedagtewêreld is gerig om God te loof en te prys. Geen dualisme (verdeling in opponerende kompartemente) nie.

Jesus laat toe dat die sondares sy voete was (Luk 7:36-50) en later Maria (Joh 12:1-11). Hierdie spontane liefdesgebaar raak die Here diep. Albei hierdie vrouens het hulle eie reputasie, en dit wat mense gaan sê, in die wind geslaan om hulle geloof en liefde in die openbaar te bely! Hierdie skaamtelose intieme liefdesdaad het die Here verseker behaag!

’n Verdere spontane aanbidding: DIE volgende dag het ’n groot menigte feesgangers, toe hulle hoor dat Jesus na Jerusalem kom, palmtakke geneem en uitgegaan Hom tegemoet en geroep: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning van Israel.(Joh 12:12-19) Dit staan in kontras met die vorm of godsdienspleging van die feesvieringe wat in dieselfde tyd deur die tempelleierskap gehou is.

Aanbid Hom in gees en waarheid. (Joh 4:24)

Dit beteken om Hom te loof met opregtheid, eerlikheid, ongeveinste, lof wat nie omgee wat die mense sê nie. Waarheid spreek van die egtheid van ons fokus. Ons bid nie gebede om deur mense gehoor te word nie. (Mat 6:5-8) Aanbidding deur die Gees spreek van aanbidding wat uit jou hart kom, deur die Gees in jou geplaas tot God se eer. Dit is die kern van ons hele aanbidding is om terwyl ons sing en aanbid die Heilige Gees se hulp te soek, dat Hy ons help. Want niemand kan God werklik aanbid of sien sonder dat die Vader Homself deur Sy Gees aan ons openbaar nie. (Mat 16:17; Matt. 11:27; 1 Cor. 2:10; Gal. 1:16)

God is Gees, en ons ken Hom na die Gees. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. (1 Cor 2:10-11) Ons kan God nie begryp, en uitredeneer met ons verstand nie. Ons sien, hoor, verstaan deur die Gees.  Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ’n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem. Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is. (2 Cor 3:15-18) Petrus moes ‘n persoonlike geestes ervaring hê, soos die Vader Homself aan hom geopenbaar het om te sien wie Christus waarlik is. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. (Mat 16:17)  Aanbidding is dus geestelik, en nie net die sing van liedjies nie. Daar is ‘n geestelike konneksie. Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing. (1 Cor 14:15-16)

Net mense wat geestelik is kan geestelike dinge beoordeel. (1 Cor 2:13) Paulus verwys ook direk na die sing van geestelike liedere, teenoor psalms en lofsange. (Col 3:16; Eph 5:19) Hierdie geestelike liedere vind hulle oorsprong in die gees, nie die menslike verstand en intellek nie. en is waarskynlik die nuwe lied waarna die Bybel dikwels verwys. (Ps 33:3; 40:4; 96:1; 98:1; 144:9; 149:1; Isa 42:10; Rev 5:9; 14:3)

Lofprysing begin die dag wanneer God vir jou ʼn werklikheid word.

Wanneer jy God persoonlik sien, beleef of ervaar, sal jy Hom loof en prys. Niemand sal jou hoef te leer hoe om dit te doen nie. Dis ʼn spontane reaksie op die werklikheid van Sy bestaan in jou lewe. Die probleem is dat baie mense oor die jare in ʼn kerk grootgeword het waar God net op een sekere manier geloof en geprys word. As gevolg van kulturele invloede en humanisme het aanbidding in die kerk vervreemd geraak van die voorskrifte en voorbeelde wat die Bybel leer. Spontane lofprysing gebeur hoogstens in ons binnekamer of in privaatheid. Die meeste mense wat in die kerk grootgeword het se reaksie op ons lofprysing is: “Ons hou daarvan en dit is mooi, maar dit is vreemd.” Mense is dit nie gewoond nie en weet nie wat hulle moet doen nie. Ons begeerte is om ons eie opinies en idees neer te lê en soos kinders te word sodat die Heilige Gees ons deur die Woord kan leer hoe ons God moet aanbid in Gees en in Waarheid.

Die gees waarin ons aanbid.

God sien ons hart en nie ons lofprysingsbewegings nie. Jy kan dans, spring en juig, maar God sien die hart waarmee jy dit doen. Dit is van wesenlike belang dat ons sonder toorn, bitterheid, twis en onenigheid ons hande opsteek na die Here. (1 Tim 2:8) As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.(Matt 5:23-24) Leonard Sweet verduidelik dat die twee balke van die kruis, die een vertikaal en die ander horisontaal, heenwys na ons opwaartse aanbidding na God en wedersyds na ons diens aan mekaar. Die een kan nie sonder die ander nie. Indien ons net op die een aspek van ons geloof fokus, gebruik ons later die balk om ander meer te slaan. Dit is die paradoks van die kruis. Ons aanbid Hom en fokus op Hom, maar dan help Hy ons om weer op mekaar te fokus en mekaar te dien.

Die Gees van aanbidding is die Gees van Christus, naamlik diens, onderwerping, ander hoër ag, sensitief, nugter en ongeveins. Jesus het God aanbid met Sy lewe tussen mense. Dit is wat die dinamika van korporatiewe aanbidding so kragtig maak – ons leer om saam die Here te loof en te eer. Die hele gesin en die hele gemeente loof die Here saam. Niemand staan eenkant of vervreemd nie. God se koninkryk is insluitend, niemand word uitgesluit nie. Daarom neem ons mekaar in ag, ook in die keuse van die liedjies. Jonk en oud lê ons eie smake en voorkeure neer om God saam te aanbid. Al hierdie saam-aksies is gesetel in die verloëning van self. Dit is in sterk teenstelling met lofprysing wat maklik kan ontaard in selfgerigtheid, selfverheerliking, menseverering, vleeslikheid en wedywering, vleeslike drif en fokus op menslike prestasies. Nederigheid, diensbaarheid, eenheid, ootmoed, gehoorsaamheid is die Gees van Christus wat moet heers in ons aanbidding.

‘n Lewende offer

EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens. (Rom 12:1) Deur die OT het God dooie vlees as offers verwag. Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.(Heb 9:22) Die priesters mag nie in God se teenwoordigheid gekom het en gesweet het nie. (Eze 44:18) Dit is dus duidelik dat self-verloëning, vir God aanneemlik is as aanbidding. (Mat 16:24) Deur die offers van diere en bokke kan die mens God nader. Jesus het Homself eenmaal vir ons geoffer sodat ons nou met vrymoedigheid kan kom. (Heb 9:12; 10:19) Ons daaglikse verloëning van self en die opneem van ons kruis is aanbidding! Dit is hoe Jesus die Vader verheerlik het. Hy het uiteindelik Sy lewe gegee. (Luk 22:42)

 

Share:

Jan Oosthuizen

2 Comments

  1. Charles

    Ek kry nie my gratis Praktiese Gebedsgids af gelaai Nie Kan julle asb hom vir my aanstuur na email alles klein letters want as ek hom hier in tik dan maak hy als hoof letters

    04 . 06 . 2019
    • Jan Oosthuizen

      Ons is besig om aandag te gee. Daar is ‘n fout op die webblad. Dankie Charles. Ek stuur die pdf Gebed gids vir jou aan.

      10 . 06 . 2019

Leave A Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.