DAGBREEK

Jesus die bediende

jesus-die-bediende

. . . maar het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis(Fil 2:7-8). 

In ’n wêreld van selfbeskikking, selfies en selfverryking staan die Bybelse begrip van diensbaarheid in helder kontras. Ons hoor al hoe meer: 

“Ons doen wat vir óns werk!” 

“Laat geld jouself!” 

“Jy is spesiaal!” 

“Ek verdien dit!” 

“Dit is my reg!” 

Eerder as: 

“Hoe kan ek jou help?” 

“Is daar iets wat ek vir jou kan doen?” 

“Hoe wil jy hê moet ek dit doen?” 

Geen moderne persoon in die Weste sal vandag slawerny onderskryf nie. Die idee dat ’n mens ’n besitting van ’n ander kan wees, geen regte buiten absolute gehoorsaamheid het nie, en die feit dat die persoon dikwels sonder hulle eie keuse ’n slaaf gemaak is, druis in teen alle sosiale regte. Tog is slawerny nog met ons: 65 miljoen immigrante, wat ook nie uit eie keuse huisloos en werkloos is nie, se lotsbestemming is oorgelaat aan ’n vriendelike land en regering. Die geheime sekshandel neem ernstig toe. Algehele werkloosheid is hoër as ooit. Hierdie tipe mishandeling en miskenning dat elke mens na God se beeld geskape is, moet teen sterkste veroordeel word en ons moet alles in ons vermoë doen om hierdie praktyke teë te staan en saam oplossings te soek.

Die christen godsdiens gemeenskap se sogenaamde regverdiging van slawerny oor die geskiedenis, werp ’n donker skadu oor die kerk se boodskap van God se liefde vir die mensdom. Dit lyk asof die Bybel slawerny goedkeur en daarom word dit in geheel deur sosiale entrepreneurs verwerp. Tog, as mens dieper delf, bied die Bybel ’n baie praktiese alternatief. Slawerny maak nie van jou ’n slagoffer nie. Arm en ryk het albei ’n belangrike, wederkerig afhanklike rol te speel teenoor mekaar. Rykes en armes ontmoet mekaar, die Here het hulle almal gemaak (Spr 22:2). 

Die dienskneg en die heerser/regeerder is albei onderworpe aan ’n kode van eerbied, regdoen, agting en vrees vir die Here! 

JA Oosthuizen

Die Bybel sien nie bediendes as slawe wat mishandel word soos die Israeliete onder die Egiptenare nie. Daar is toe opsigters van dwangarbeid oor hulle aangestel om hulle met harde arbeid te verdruk (Eks 1:11). Die Jode onthou die 400 jaar van slawerny waaraan hulle onderworpe was, en sou hulle mense nie ook soos slawe behandel nie. Die Bybelse narratiewe is deurspek met stories van slawe, bediendes of diensknegte wat wesenlike invloed op die regte tyd in magtige mense se regering en belsuite gehad het.

Die invloed van goeie diensbaarheid

Josef:

Maar die Here was met Josef, en Hy het goedertierenheid aan hom bewys en hom guns verleen in die oë van die owerste van die gevangenis. En die owerste van die gevangenis het almal wat in die gevangenis opgesluit was, aan Josef toevertrou; en alles wat daar te doen was, het hý gedoen. Die owerste van die gevangenis het glad nie na iets omgekyk wat aan hom toevertrou was nie, omdat die Here met hom was; en wat hy doen, het die Here voorspoedig laat wees (Gen 39:21-23). 

En Farao sê vir Josef: Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het, is daar niemand verstandig en wys soos jy nie. Jý moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik; alleen deur die troon sal ek groter wees as jy. Verder het Farao vir Josef gesê: Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipteland. Toe trek Farao sy seëlring van sy hand af en sit dit aan die hand van Josef; en hy het hom fyn linneklere laat aantrek en die goue ketting om sy hals gehang en hom laat ry op sy tweede rytuig; en hulle het voor hom uitgeroep: Pas op! So het hy hom dan oor die hele Egipteland aangestel. En Farao sê vir Josef: Ek is Farao, maar sonder jou mag niemand sy hand of voet in die hele Egipteland verroer nie(Gen 41:39-44). 

Nehemia: 

As dienskneg was Nehemia nie oningelig oor wat besig is om met sy mense te gebeur nie. Alhoewel hy bloot ’n dienskneg was, toon hy ’n soort verantwoordelikheidsin vir reg en verkeerd. Hy is ook ’n goeie rentmeester van sy invloed by die koning. Ag, Here, laat u oor tog opmerksaam wees op die gebed van u kneg en op die gebed van u knegte wat verlang om u Naam te vrees; en laat dit tog vandag u kneg geluk, en verleen hom barmhartigheid voor die oë van hierdie man. Ek was naamlik skinker van die koning(Neh 1:11). Hy is goed bevriend met die koning en het altyd ’n vriendelike en spontane gees en gesindheid geopenbaar. Daarom merk die koning dadelik op dat daar fout is. Hy was nooit voor die koning bedroef nie (Neh 2:1). Die koning is goedhartig om aan Nehemia te gee wat hy verlang. Dit sou nie gebeur het as Nehemia nie die guns van die koning op verskeie manier en geleenthede gewen het nie. Daarom wou die koning dadelik weet: Hoe lank sal jou reis duur, en wanneer sal jy terugkom? (Neh 2:6).

Diensmeisie van Naäman: 

Op een van hulle strooptogte het die Arameërs ’n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak” (2 Kon 5:2). 

Daniël: 

Daniël se lojaliteit aan God, asook aan sy werkgewer, is onbesproke. Dink hoe moeilik dit moes wees om as Jood die hoofowerste te wees oor al die wyse nie-Jode, nie-Bybel-gefundeerde leiers. Toe het die koning Daniël verhef en hom baie, groot geskenke gegee en hom aangestel as heerser oor die hele provinsie Babel en as hoofowerste oor al die wyse manne van Babel(Dan 2:48). Hy het nooit sy posisie misbruik nie. Inteendeel, hy het die belange van die koning openlik verdedig en beskerm: Toe het hierdie Daniël bo die ministers en die landvoogde uitgemunt, omdat ’n voortreflike gees in hom was; daarom was die koning van plan om hom oor die hele koninkryk aan te stel(Dan 6:4). Hulle kon niks fout vind nie, buiten sy godsdiens: Toe het die ministers en die landvoogde gesoek om ’n grond vir ’n aanklag teen Daniël te vind met betrekking tot die regering, maar hulle kon geen enkele grond vir ’n aanklag of verkeerde handeling vind nie, omdat hy getrou was en geen nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde was nie (Dan 6:5). 

Die lewe van ’n dienskneg is beskerm en waardevol

’n Slaaf se lewe was beskerm: En as iemand sy slaaf of slavin met ’n stok slaan, dat dié onder sy hand sterwe, moet dit sekerlik gewreek word(Eks 21:20-21).

Slawe, saam met hulle hele gesin, kon hulle vryheid bekom (Eks 21:2-11, 20-21).

Slawe wat vrygelaat is: . . . moet jy hom nie met leë hande laat weggaan nie. Jy moet hom ’n behoorlike voorraad saamgee van jou kleinvee en jou dorsvloer en jou wynpers; waarin die Here jou God jou geseën het, daarvan moet jy aan hom gee(Deut 15:12-18).

Hulle is deur die wet beskerm: Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd . . .(Eks 20:17).

Die diensknegte moet ook op die Sabbat rus (Eks 20:10).

’n Goeie dienskneg verkry groter gesag en verantwoordelikheid:  Getrouheid bring ewige aanstelling van gesag: En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer(Matt 24:45-46).

Die siek dienskneg wat baie werd was vir die hoofman, kom vra Jesus vir sy genesing (Luk 7:1-10).

Vrywillige oorgawe van ‘n dienskneg

Laat elkeen in die roeping bly waarin hy geroep is. Is jy as slaaf geroep, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy ook vry kan word, maak daar des te meer gebruik van. Want die slaaf wat in die Here geroep is, is ’n vrygemaakte van die Here; so is ook hy wat as vryman geroep is, ’n slaaf van Christus. Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie. Laat elkeen, broeders, in die staat waarin hy geroep is, daarin bly voor God (1 Kor 7:20-24). Die grootste verskil in perspektief wat die nuwe verbond op slawerny werp, is die opheffing van verpligting. Deur die eeue is mense op grond van hulle velkleur, etnisiteit en klas verplig om ’n dienskneg te wees. Daar is net eenvoudig nie ’n keuse gegee nie. Daar is van jou verwag om ’n slaaf te bly. Paulus hef hierdie verpligting op en wys op die betekenis van roeping. Adam en Eva het aan die begin albei gewerk en nie slawe gehad om dinge vir hulle te doen nie. Ware geestelike slawerny is om nie jou roeping en skeppingsdoel na waarde te ag nie. Adam en Eva was na God se beeld geskape, maar is mislei om iets te doen, of te eet: . . . julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken(Gen 3:5). Esau verkoop sy geboortereg sonder om die nagevolge te bereken (Gen 25:29; Heb 12:16). 

Die Filemon-brief gee ons ’n pragtige verduideliking van hoe daar met ’n dienskneg wat nou ’n broer geword het, omgegaan moet word. Paulus erken Filemon se gesag: Maar ek wou niks sonder jou instemming doen nie, sodat jou weldaad nie uit dwang sou wees nie, maar uit vrye keuse (Filemon 14). 

SKRIFBEGINSELS VIR WERKNEMERS 

Daar is basies twee primêre rolle in die Bybel in terme van die werksplek: dié van eienaar en dié van dienskneg. In Christus word hierdie onderskeid voor God verwyder: Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus (Gal 3:28). ’n Leerling is nie bo die meester nie en ’n dienskneg ook nie bo sy heer nie (Matt 10:24). Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ’n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ’n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie (Joh 13:16). 

Tog verklaar Paulus:  Laat elkeen in die roeping bly waarin hy geroep is. Is jy as slaaf geroep, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy ook vry kan word, maak daar des te meer gebruik van. Want die slaaf wat in die Here geroep is, is ’n vrygemaakte van die Here; so is ook hy wat as vryman geroep is, ’n slaaf van Christus (1 Kor 7:19-22).

Jesus bied aan ons die voorbeeld van ’n dienskneg – Johannes 13:4-17. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword. . . (Fil 2:5-7).

Ons gesindheid as werknemers is duidelik: Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag maar terselfdertyd met ‘n opregte hart, asof dit vir Christus is. Moenie net werk om deur julle eienaars raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie; werk soos slawe van Christus wat van harte die wil van God doen. Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie. Julle weet tog dat die Here elkeen sal beloon as hy iets goeds gedoen het, of hy nou slaaf is of vry (Ef 6:5-8). 

Slawe, wees in alles gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde. Moenie net werk om deur hulle raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie, maar werk met ‘n opregte hart uit eerbied vir die Here. Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan. Wie onreg doen, sal gestraf word oor die onreg wat hy gedoen het; die Here trek niemand voor nie (Kol 3:22-25).

Soveel te meer as jou eienaar ’n gelowige is.  Slawe wat gelowige eienaars het, moet aan hulle nie minder eerbied betoon omdat hulle saam broers is nie. Hulle moet hulle eerder beter dien omdat dié wat uit hulle werk voordeel trek, met hulle een is in geloof en liefde (1 Tim 6:2).

Bediendes, onderwerp julle met die nodige ontsag aan julle werkgewers, of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik. Dit is genade as iemand die pyn van onverdiende lyding verduur omdat hy aan God getrou wil wees. As julle gestraf word wanneer julle oortree het, watter verdienste is daarin as julle dit verdra? Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg (1 Pet 2:18-21).

Uiteindelik word ons almal geroep om mekaar se diensknegte te wees. As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien (1 Pet 4:10).

’n Dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra. Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie, en hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen (2 Tim 2:24-26). 

Luiheid word as dwaasheid veroordeel. 

Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom (Spr 6:6). 

Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard, wanneer gaan jy opstaan? (Spr 6:9). 

Die luiaard se honger word nie gestil nie; hardwerkende mense het meer as genoeg om te eet (Spr 13:4).

’n Luiaard steek sy hand in die skottel, maar bring dit nie terug na sy mond toe nie (Spr 19:24). 

’n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie en soek in die oestyd na iets wat nie daar is nie (Spr 20:4). 

’n Lui mens soek sy dood, want hy wil nie sy hande uit sy moue steek nie. . .  (Spr 21:25). 

Die lui mens sê: “Daar is ’n leeu daarbuite! Ek kan doodgemaak word as ek dit buite waag!” (Spr 22:13). 

Ek het by ’n lui mens se land verbygestap, by ’n onverstandige mens se wingerd . . . (Spr 24:30). 

Jan Oosthuizen

Leave A Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.