DAGBREEK

Jesus die mens-mens

jesus-die-mens-mens

Die vleeswording of menswording van Jesus Christus, die Seun van God, is naas Sy kruisdood die grootste bewys van God se liefde aan die mensdom. Die feit dat Jesus fisies en histories geleef het, grondves Sy leerstellings nie net as hoë geestelike ideale nie, maar ook prakties uitvoerbare beste praktyke vir die lewe. Hy het nie net vir ons gesê hoe om te leef nie, Hy het ook vir ons gewys hoe om te leef.

Ons geloof is nie net in ’n argetipiese, filosofiese, geestelike Jesus nie. Hy het bene, vlees, vel en spiere gehad. Hy het al die beperkinge van ’n stoflike liggaam aangeneem. Hy moes slaap (Matt 8:24), Hy het moeg geword (Joh 4:6), Hy het gebloei (Joh 19:34), Hy was honger (Joh 21:18). Hy het gegroei en groot geword (Luk 1:80; 2:40). 

Hy toon emosies: 

Woede(Matt 17:18; Mark 4:35-41; Luk 9:51-56; Mark 10:13-14; Matt 16:22-23; Joh 11:33, 38; Mark 16:14; Matt 21:12-13) 

Angs(Mark 14:33; Doodsangs: Luk 22:44) 

Liefde(Mark 10:21; Joh 11:5)

Medelye(Matt 9:36; 14:14; 15:32; 20:34) 

Skaamheid(Heb 12:2)

Dat die God deur Wie alles tot stand gekom het Homself so beperk, is ’n ware daad van liefde. Hy het geen voordeel hieruit getrek nie. Dit was 100% net vir ons! 

. . . en die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is —(1 Joh 1:1-2). Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God(1 Joh 4:2). 

Sy vleeswording anker ons geloof deurdat ons kan sien dit is moontlik om die beeld van God na te streef (Rom 8:29). 

Jesus eet en kuier saam met mense

Aan tafel gee ons mense nie net kos nie; ons bou verhoudings — stories en herinneringe.

Jesus is in diere se eetkrip gebore (Luk 2:7, 12, 16). ’n Groot deel van Jesus se bediening  vind om die tafel plaas. Die woord “hospitable” kom van die kernwoord “hospital” en die woord “restaurant” kom van die kernwoord “restore”. Gasvryheid was die kern van daardie tyd se kultuur: om gaste te bedien en soort van uit-te-hang. Hoe groter jou aansien in die gemeenskap, hoe groter moes jou gasvryheid wees. Daar is ook ruim tyd gegee vir die maaltyd. Mense ontspan as hulle eet. Lees Sian Leonard Sweet se boek, From Tablet to Table, vir meer inligting. [1]

Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: “Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.” Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit(Matt 11:19).

Tog het Jesus nie ’n obsessie met kos gehad nie. Daar was tye wat werk en bediening voor kos gekom het. Daarna het Jesus huis toe gegaan. ‘n Menigte mense het weer saamgedrom, sodat daar selfs nie geleentheid was om ‘n stukkie te eet nie(Mark 3:20, 31). Intussen het sy dissipels by Hom aangedring: “Rabbi, eet tog ‘n stukkie.” Maar Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.” Die dissipels sê toe vir mekaar: “Sou iemand dalk vir Hom iets te ete gebring het?” Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi”(Joh 4:31).

Mense kan heeltemal hulle fokus verloor en net aan kos dink. Jesus fokus op mense en sien kos as die middel om by ’n persoon se hart te kom.Daarom, my broers, as julle saamkom om die nagmaal te vier, wag vir mekaar. As een van julle honger is, moet hy liewer by die huis eet, sodat julle nie ‘n oordeel oor julle bring as julle bymekaarkom nie(1 Kor 11:33).

Jesus het die tafel gebruik om die mense om Hom meer direk te leer. Die gewigtiger sake is om die tafel gehanteer. Op ‘n sabbatdag toe Jesus na die huis van ‘n vooraanstaande Fariseër toe gegaan het om daar te eet, het hulle Hom fyn dopgehou. Reg voor Hom was daar ‘n man wat aan water gely het. Jesus praat toe met die wetgeleerdes en Fariseërs en vra: “Mag ‘n mens iemand op die sabbatdag gesond maak of nie?” Maar hulle het stilgebly. Toe trek Jesus die sieke nader, maak hom gesond en laat hom gaan. Daarna sê Hy vir hulle: “Sê nou ‘n seun of ‘n bees van een van julle val in ‘n put, sal hy hom nie dadelik uithaal nie, al is dit op ‘n sabbatdag?” Hulle kon daar niks op antwoord nie (Luk 14:1-24). 

Jesus se tafel was inklusief. Hy het geweet Judas gaan Hom verraai, maar het nogtans saam met hom geëet. Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met Myne hier op die tafel(Luk 22:21-23).

Een van die mooiste verhale van Jesus se mens-menswees is toe Hy vir Sy dissipels kos gemaak het. Is dit nie presies hoe ons ook vir ons vriende wys ons geniet hulle samesyn nie? Toe hulle aan land kom, sien hulle ‘n vuur brand en ‘n stuk vis daarop lê. Daar was brood ook. Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het”(Joh 21:5).

Jesus sien die tafel as ’n manier om mense te bedien en uit te reik na jou naaste. Hy het ook vir die gasheer gesê: “As jy in die middag of in die aand ‘n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie. Nee, as jy ‘n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes. Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het”(Luk 14:13). Jesus se dissipelskap- en evangelisasie-metodes was om in ’n huis in te gaan en die mense se gasvryheid te gebruik (Luk 10:8). 

Niemand was uitgesluit nie. Almal is welkom by Jesus se tafel. Jesus het by hom in sy huis gaan eet, en baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels kom eet. Toe die Fariseërs dit sien, vra hulle vir sy dissipels: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?” Maar Jesus het dit gehoor en gesê: “Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’ Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars”(Matt 9:11). Jesus eet selfs by Sy aartsvyande, die Fariseërs (Luk 7:36; 11:37; 14:1).

Om mense wat honger is kos te gee is deel van die hart van die evangelie. Sonder voedsel kan ons nie oorleef nie. Jesus is prakties oor mense se fisiese nood sowel as hulle geestelike welsyn. Hy voed die 5 000 (Matt 14:16) en dan die 4 000 (Matt 15:27) en gee daarna ’n lang preek waarin Hy sê dat Sy liggaam geëet moet word (Joh 6).

Hoekom verontagsaam u dissipels die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte? As hulle gaan eet, was hulle nie hulle hande nie (Matt 15:2; Mark 7:2-5).

Jesus raak vuil om ons skoon te maak

Jesus is nie bang om aan ons vuilheid te raak en vuil te word om ons skoon te maak nie. ‘n Melaatse man kom kniel toe voor Hom en sê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!”(Matt 8:2-3). Dis een van Jesus se mooiste eienskappe. Hy is bereid om vuil te word. Hy woon in ’n vuil, arm gemeenskap in Nasaret. Hy doen die werk van ’n ambagsman, waar Hy baie gou vuil sou word. Jesus is nie te heilig om aan ons vuilheid te raak nie. Inteendeel, Hy raak doelbewus aan ons vuilheid om ons te heilig. Jesus lê Sy hande op die siekes (Matt 9:29; Mark 5:23; 7:32; 8:25). Jesus raak aan die dooie seun se draagbaar en wek Hom uit die dood uit op (Luk 7:11-17). Hy raak aan die dooie dogtertjie:Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op! (Mark 5:41). 

Jesus se bediening was uniek, gans anders, en verrassend. Hy gebruik selfs spoeg om mense gesond te maak! Ek sien sommer hoe mense gril, hulle kop skud en wegdraai. Tog het Jesus drie keer mense deur Sy spoeg genees! Ek kan my nie ’n meer intieme aanraking voorstel nie. Hy het hom eers eenkant toe gevat, weg van die mense af. Toe het Hy sy vingers in die man se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer (Mark 7:33).

Hulle het in Betsaida aangekom, en toe bring die mense ’n blinde man na Jesus toe en vra Hom om hom aan te raak. Hy het die blinde man aan die hand gevat en hom uit die dorp uit gelei. Toe het Hy op sy oë gespoeg, sy hande daarop gesit en vir hom gevra: “Sien jy al iets?” Hy het sy oë geknip en gesê: “Ek sien mense, iets soos bome. Ek sien hulle loop.” Daarna het Jesus weer sy hande op sy oë gesit. Die man het sy oë oopgemaak, en hulle was reg. Hy het alles duidelik gesien. Jesus het hom huis toe gestuur en gesê: “Moenie by die dorp aangaan nie” (Mark 8:22-26).

Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg ‘n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë(Joh 9:6). 

Jesus wys ons baie duidelik dat heiligheid niks met steriele, kwarantynagtige gedrag te doen het nie. Sonde maak jou vuil. Iemand wat aan drank verslaaf en dronk is, raak vuil! Mense se ongehoorsaamheid en rebellie lei na varkhokke (Luk 15:15). Jesus kom haal ons in ons varkhokke. Hy is nie te skaam of te hooghartig om aan ons stukkendheid en vuilheid te raak nie! 

Gewone werk kan God ook verheerlik

“Die vleeswording van Jesus grondves en anker ons lewe in die wete dat 30 jaar se gewone, vakman-, plaas-, buite-die-kollig-lewe nie van minder belang is nie. Dit was hierdie opvoeding en leerproses wat Sy openbare lewe en woorde gevorm het. Die Seun van God het bykans 30 jaar daaraan bestee om die alledaagse werk van die gewone mens te doen. Daaglikse werk is dus nie van minder belang as tempeldiens en prediking nie. Elkeen het sy plek. Jesus het baie wonderwerke gedoen, maar daar het nie elke dag uitsonderlike wonderwerke plaasgevind nie en daar is nie elke dag dooies opgewek nie. Wonderwerke en tekens is belangrik, maar wat egter van wesenlike belang is, is die daaglikse roetinelewe wat die weg gebaan het vir hierdie wonderwerke!”

Die menswording van God help ons om weer na te dink oor die mite dat ons meer nodig het. Toe God vlees geword het, is elke gewone mens se lewe as heilig gewaarmerk. Die feit dat God mens geword en die grootste deel van Sy lewe as onbekende skrynwerker in die klein dorpie Nasaret deurgebring het, gee ons perspektief. Deur Sy menswording leer ons dat elke lewe waardigheid en betekenis het en dat elke gewone lewe saak maak. Die geheimenis van die menswording help ons om te onthou dat ’n gewone lewe die moeite werd is om te lewe. Anders sou God ’n ander lewe, ’n ander dorp en dalk ’n meer relevante tyd – soos die huidige – gekies het. [4]  

Ons daaglikse bestaan het dus betekenis en waarde. Niks is verniet of onbenullig nie. Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie (Sag 4:10). 

Jesus het ons kom wys dat daaglikse werk ook heilig kan wees, want Hy was volkome mens maar tog het Hy nie gesondig nie. Ons verheerlik die Here ook deur die kwaliteit van ons werk. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik(Matt 5:16). Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God(1 Kor 10:31). Sien jy ’n man wat vaardig is in sy werk—hy kan voor konings staan, hy hoef nie voor geringes te staan nie(Spr 22:29). 

Ons moet werk om te kan gee. Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het(Ef 4:28). 

Maar ons moet anders werk as die wêreld. Ons handewerk en hoe ons met mense werk moet spreek van God se Vaderhart en Sy waardes. Toe die koningin van Skeba die geregte op Salomo se tafel sien, wat was anders? Die manier hoe dit voorgesit word? Verder was sy beïndruk met die manier waarop Salomo se diensknegte gesit het en hoe hulle hulleself gehandhaaf het. En hulle klere? . . . en die voedsel van sy tafel en hoe sy dienaars sit en sy bediendes staan, en hulle klere, en sy dranke en sy trap waarmee hy opklim in die huis van die Here, was daar in haar geen gees meer nie(1 Kon 10:5). Ek glo Salomo het sy diensknegte menswaardig en nie soos slawe behandel nie. Daarom was hulle trots daarop om te dien. So behoort ons plase, pakhuise en fabrieke ook die regering na hulle asem te laat snak oor die manier waarop ons mense bemagtig en menswaardigheid ontwikkel. 

Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel(Matt 5:3).

Die krag van swakheid

Die onderstebo en agterstevoor koninkryk van God bepaal dat ons sterk is juis wanneer ons swak is. Hy het egter vir my gesê: “My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk. Ek is dus tevrede met my swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede ter wille van Christus, want wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk(2 Kor 12:9, 10; NLV). Dit beteken dat ons as gelowiges juis in ons swakhede roem, en nie ons sterktes nie. Dis juis ons swakheid, broosheid en die  eerlike erkenning van ons afhanklikheid wat Sy krag in ons lewe ontsluit! 

Onverdienstelike genade: Ja, juis toe ons nog totaal hulpeloos was, het Christus vir ons, die goddeloses, kom sterf(Rom 5:6; NLV).

Die eerste gelowiges was nie van die slimste, invloedrykste en sterkste mense nie. Broers en susters, dink maar net terug hoe julle eie situasie destyds was toe God julle geroep het. Gemeet aan menslike standaarde was daar maar min intellektueles onder julle, nie baie magtiges nie, nie baie uit vooraanstaande families nie. Nietemin het God doelbewus dit wat vir die wêreld na dwaasheid gelyk het, uitgekies om die slim mense skaam te maak en dit wat vir die wêreld na swakheid gelyk het, het Hy uitgekies om die magtiges skaam te laat kry. Inderdaad, wat vir die wêreld onaansienlik en gering lyk, ja, wat vir die wêreld glad nie ’n faktor is nie, het God uitgekies om wat vir die wêreld wel belangrik is, heeltemal af te skryf. Gevolglik het niemand enige grond om sy bors voor God uit te stoot nie. Dit is deur God alleen dat julle nou aan Christus Jesus behoort. Dit is deur Hom dat Jesus vir ons die wysheid van God geword het, die Een deur wie God ons vrygespreek en vir Homself geheilig en vrygekoop het. Soos die Skrif dit stel: Die persoon wat graag wil spog, mag net spog oor wat die Here vir hom gedoen het(1 Kor 1:26-31; NLV).

Ons kan eenvoudig nie ons lewe bepaal nie. Ons weet nie wanneer en hoe ons gaan sterwe nie. Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd. As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde(Jak 4:13-17). Daarom hou ons saggies vas aan die tydelike omdat God ons in die Gees in ’n ferm greep in Homself vasgeanker het. 

Deur die eeue sien ons oor en oor die verhale van mense wat hulle geloof en vertroue op God stel. Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die Here van die leërskare(Sag 4:6).

As Jesus, die Seun van die mens, dan afhanklik was van die Vader, wat laat ons dink ons kan op ons eie voortstorm? Hy wys ons die beste manier om hierdie lewe te leef: in diepe afhanklikheid van God. Ons is nederig afhanklik. Ons wil immers niks besit wat nie uit Sy hand geskenk is nie. Dit wat ons in die vlees vermag, moet ons in die vlees behou!

  • Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so. Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het(Joh 5:19-20, 30).
  • Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het(Joh 6:38).
  • Uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek(Joh 8:28).
  • En Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is(Joh. 8:29).
  • . . . maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ’n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek(Joh 12:49).
  • Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke . . . en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het. Maar dat die wêreld kan weet dat Ek die Vader liefhet en doen net soos die Vader My beveel het(Joh 14:10, 24, 31).
  • . . . die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig(Joh 16:13).
  • . . . nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil(Matt 26:39).

Ons kan niks sonder Hom doen nie. Ons lewe in dieselfde afhanklikheid van die Heilige Gees as wat Jesus in afhanklikheid van die Vader geleef het.

  • Johannes 15:5 . . .sonder My kan julle niks doen nie.
  • 1 Johannes 2:27 En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly.
  • Romeine 8:14 Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.
  • Johannes 14:26 . . . die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
  • Johannes 14:21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My lief het. . .

Dit is wesenlik belangrik om onderskeid te maak tussen selfgerigte, eie-ek-gedrewe gedrag en dié waar ons in afhanklikheid van God ons talente tot eer van Sy naam gebruik. Die idee van “God help die mense wat hulleself help” is gegrondves op die einste rebellie van die oorspronklike mense, Adam en Eva. Die ryk jong man het alles in sy eie vermoë gedoen om die wet te handhaaf om die ewige lewe te beërwe. Tog, toe die Here hom vra om alles te verkoop en vir die armes te gee, kon Hy dit nie doen nie. Die motief agter al die harde werk was selfverryking. Toe Jesus daarna vir die dissipels sê “Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan”het hulle na mekaar gekyk en besef: Maar dan gaan niemand dit maak nie! Dis reg! Niemand kan die koninkryk deur werke in besit neem nie. Inteendeel, geen vlees kan die koninkryk beërwe nie. Die koninkryk is ’n geskenk wat nederig ontvang word! Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik”(Matt 19:26). 

Wanneer ons aan die einde van onsself gekom het, bewerk God deur Sy genade en Sy goddelike vermoë redding in ons. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee (Fil 4:13). 


[1]From Tablet to Table: Where Community Is Found and Identity Is Formed by Amazon.com Learn more: https://www.amazon.com/dp/1612915817/ref=cm_sw_em_r_mt_dp_U_PHIvDb448DY0X 

Jan Oosthuizen

Leave A Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.