DAGBREEK

Jesus se gehoorsaamheid

jesus-se-gehoorsaamheid

Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword (Heb 5:8-9). 

Gehoorsaamheid is onontbeerlik vir geestelike groei. Jou mate van gehoorsaamheid bepaal die mate van gesag wat jy in die geesteswêreld sal hê. Jesus se hele lewe getuig van gehoorsaamheid. Eers was Hy gehoorsaam aan aardse ouers:  Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan, en Hy was aan hulle onderdanig (Luk 2:51). Toe algehele gehoorsaamheid aan die Vader:

  • Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so. (Joh 5:19)
  • Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het. (Joh 5:30)
  • Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. (Joh 6:38)
  • En Jesus sê vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek. (Joh 8:28)
  • Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ’n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek. (Joh 12:49)
  • Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. (Joh 14:10)

Christus is vir ons die perfekte voorbeeld van gehoorsaamheid. Hy het selfs nie Sy bediening geïnisieer nie. Maria, Sy moeder, moes die diensknegte aansê om te doen wat Hy hulle sou sê (Joh 2:1-12). Hy Self het ook tot op die ouderdom van 30 die volle tyd volbring in diens van Sy aardse ouers, waarna Hy toe Sy geestelike bediening begin het. 

As Hy, wat die Seun van God is, dan niks uit Homself gedoen het nie, hoeveel te meer moet ons nie onsself aan Hom onderwerp nie? Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie (Joh 15:5). 

Sedert die skepping van die mens, verkies ons om self die kennis van goed en kwaad by ander bronne te verkry eerder as in afhanklike gehoorsaamheid by die Vader. Ons is geskape om God se beelddraers te wees, wat beteken ons reflekteer die Vader en nie onsself nie. Daar is geen neutrale grond nie. Ons reflekteer óf Sy liefde, vrede, vreugde, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing óf nie! Daar is ’n kosmiese federasie van owerhede, magte, wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, en bose geeste in die lug wat daarop gerig is om jou te weerhou om jou skeppingsdoel uit te oefen! Elke keer as ons nagmaal gebruik, maak ons ons alliansie rugbaar! Elke keer as ons as gelowiges verenig, span ons ons kragte saam om boosheid te weerstaan. Elke keer wat ons in die teenoorgestelde gees optree, skyn ons ons lig. Elke keer wat ons ons deur die Gees laat lei, slaan ons spreekwoordelik ’n pen in die grond om God se Eden, tempel, heerskappy en habitat hier op aarde te vestig soos wat dit in hemel is. Ons is God se instrumente van genesing en restourasie in alles wat ons doen. Hy gebruik ons soos suurdeeg en saad om die vestings van boosheid binne te dring as ’n indirekte offensief om uiteindelik boosheid te ontwapen. Om hierdie rede is gehoorsaamheid van wesenlike belang vir ons geestelike weerstand teen boosheid.

Die eerste mens het die gehoorsaamheidstoets gefaal, maar Jesus, die tweede Mens, het deur Sy totale gehoorsaamheid die skeppingsdoel van die mens voor God herstel sodat dié wat Hom gehoorsaam, die heerskappy en mandaat van die mens, soos God dit oorspronklik bedoel het, kan uitleef. Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word (Heb 5:19).

Hoekom is gehoorsaamheid so moeilik? 

Om werklik gehoorsaam te wees, moet ons heeltemal selfloos wees. Die eie-ek, ego, is ’n hindernis tot gehoorsaamheid. Sedert die eerste mens verkies ons om eerder ons eie kop te volg. Ons wil ons eie weg baan. Ons eie koers kies. Self by die antwoorde uitkom. Ons wil nie voorgesê word nie. Hoeveel frustrasie word nie in die wêreld veroorsaak omdat mense net eenvoudig nie opdragte uitvoer nie? Die teendeel is ook waar: Mense wat van skool af die meeste gehoorsaam is, bereik dikwels die hoogste posisies. Kinders wat hulle huiswerk doen en opdragte van die onderwyser uitvoer, doen die beste in daardie vak. Die pasiënte wat die dokter se opdragte uitvoer, genees die vinnigste. Sou daar ’n nodigheid wees vir wetstoepassers as almal gehoorsaam is? Die kern van die woord gehoorsaamheid is: hoor. Ons kan ook nie werklik iemand anders hoor as ons nog vol is van self nie.

Die Hebreeuse woord vir gehoorsaam en hoor is dieselfde (1 Kon 20:8): shama’ (shah-mah); Strong’s #8085: To hear; to listen, consider, pay attention; to listen carefully and intelligently, to obey. Die woord het ’n sekere intensiteit en erns. Die bekendste vers waar hierdie woord gebruik word, is Deuteronomium 6:4: “Sh’ma Yisrael! Hear, O Israel! The Lord our God, the Lord is one!” Die gedagte van hoor en doen is die sentrale credo van Judaïsme. Die woord, shama, is ook die kernwoord in Samuel se naam: “God het gehoor” (1 Sam 3:20). Dit is duidelik dat gehoorsaamheid ’n ingesteldheid van die hart is. Ek is dus leeg van alle self, ingestel om te luister en begrip te verkry sodat ek presies kan gaan uitvoer wat van my verwag word. 

Die gekruisigde lewe van self-verloëning

Toe Jesus die kriteria neerlê van hoe mens Hom moet volg, was Sy antwoord eenvoudig: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind (Matt 16:24-25). 

Dit blyk dat wanneer ons probeer om groot dinge vir die Here te doen, Hy dit wel toelaat, maar dit hou gewoonlik nie lank nie. Hoeveel pogings van die mens is werklik deur die Here geïnspireer? Dit alles wys terug na die oersonde waar die mense eerder van die boom van kennis van goed en kwaad geëet het as om God te gehoorsaam. Die Woord is duidelik dat as die Here dit begin het, sal dit volhoubaar wees. Wat die huidige geval betref, my raad aan julle is: laat staan hierdie mense en laat hulle los, want as wat hulle wil en wat hulle doen, mensewerk is, sal daar niks van kom nie. Maar as dit van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie. Moenie dat dit dalk later blyk dat julle selfs teen God gestry het nie! Die Raad het na hom geluister (Hand 5:38-39).

Jare gelede het ’n geestelike mentor my saggies op my plek gesit toe ek hom vra oor ’n sekere sonde waaroor ek nie oorwinning kry nie. “Hoekom is jy nie net gehoorsaam nie?” was sy onverwagte antwoord. “Jy weet jy moet dit nie doen nie, so hou bloot op om dit te doen. Wees gehoorsaam!” Sy woorde het die wortel van die rebellie in my hart ontbloot. Ek het opreg bely, onmiddellik bevryding beleef, maar ook beleef hoe die Heilige Gees my bekragtig om hierdie swakheid te oorwin. 

Skrywers wat hulle lewe daarop toegelê het om hierdie waarheid uit te leef en toe te pas in alles wat hulle gedoen het se boeke word na honderde jare nog gelees en gewaardeer. Mense soos Thomas a Kempis, Jeanne Guyon en Broeder Lawrence is maar net ’n paar voorbeelde. Hedendaagse voorbeelde sal moontlik Moeder Teresa insluit wat nie net oor die neerlegging van self gepreek het nie, maar ook ’n voorbeeld was. Ons het meer sulke leiers nodig wat in alle opsigte oorgegee is om self te verloën. 

Selfverloëning is vandag ’n skaars kommoditeit in die kerk. Kompetisie, magspel, twis en tweedrag is eerder aan die orde van die dag. Die godloënaar, Nietzsche, het by geleentheid gesê mense praat oor hulle geloof, maar leef volgens hulle drifte. Die koerante is vol van kerkleiers wat veral op hierdie gebied oortree.

Paulus se oproep in hierdie verband is vandag meer as ooit ’n duidelike oproep en kreet na waarheid. 

. . . maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin. Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader (Fil 2:2-11).

Indien ons ons geestelike volwassenheid vergelyk met om-soos-Jesus-te-wees, dan skiet die kerk ver te kort en is ons nog babas. Selfverloëning is blykbaar nie ’n gewilde tema nie en trek duidelik nie sulke groot gehore nie, anders sou ons dalk meer daaroor gepreek het. Selfverloëning is immers nie ’n vreeslike groot nuwe openbaring nie. Ons bid tog gereeld ons vroom gebede met woorde soos: “Ek moet minder word en U meer” en “Laat U wil geskied”. In ieder geval plaas die Skrif die fokus eerste op God wat eers meer moet word en dan word ek minder (Joh 3:30).

Die probleem is dat die self in so baie Christene se lewe in baie opsigte nog op die troon is, maar ons is nie eers daarvan bewus nie. Die reuk wat dan afgegee word is die reuk van die dood en nie die ewige aroma van lewe nie. Selfverloëning is egter ’n diepe geheimenis wat nie met die intellek uitgewerk kan word nie. Wanneer mens daaroor praat, glip dit uit jou hande nog voordat jy dit presies kan neerpen. Dis seker om hierdie rede dat die woord self-sterf nooit as ’n selfstandige naamwoord in die Bybel gevind kan word nie, maar eerder as verskillende werkwoorde. 

So ’n voorbeeld vind ons in Romeine 6:11-13: So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.

“Reken jouself dan dood.” Die woord reken in die Griekse taal is Logisomai waarvan ons woord logies afgelei word. Logisomaibeteken om iets uit te werk, ’n berekening te doen en tot ’n logiese gevolgtrekking te kom. Verder is die werkwoord in die aoristiese tyd geskrywe, wat beteken dat die handeling iewers in die verlede begin het, jy nog steeds besig is om dit te doen en nog besig gaan wees om die daad te doen tot iewers op ’n punt in die toekoms. Hierdie inligting werp heelwat lig op die handeling van selfverloëning. Byvoorbeeld: Ek dink daaroor na en kom tot die logiese gevolgtrekking dat ek alreeds my lewe vir die Here gegee het, en dat ek dit nog steeds nou moet doen, en ek sal dit nog duisende kere doen totdat ek in die hiernamaals met Hom verenig is. Dit kom dan ooreen met Paulus se vermaning aan die broeders: . . . dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer. Dit is julle redelike godsdiens (Rom 12:1). Dieselfde woord Logikos, maar nou as selfstandige naamwoord, word hier vertaal met “redelike” godsdiens.

Die leer oor selfverloëning is niks nuuts nie, maar selfs hierdie leer het al verskeie ekstreme interpretasies deurleef.  So is daar geleer dat die liggaam boos is en dat die liggaam gekasty en van alle genot en plesier ontneem moet word sodat ons dan meer aanneemlik voor God kan lewe. ’n Paar jaar gelede in my eie soeke na waarheid oor hierdie saak, het die Heilige Gees op ’n dag iets aan my geopenbaar wat my perspektief radikaal verander het. “Jy kan nie jouself probeer doodmaak nie, dit word selfmoord genoem.” Enige selfverloëning wat uit self gebore is, is doodgebore en lei nie na die lewe nie. Inteendeel, dit lei heel dikwels net na trots en die veroordeling van ander wat nog nie so baie soos jy gesterf het nie. “Self” word juis op hierdie wyse eerder verheerlik. Hoe lank jy gevas het, hoe baie en hoe lank jy gebid het, word aanduiders van geestelikheid met ’n skreiende wanklank.  

Ons kan nie onsself doodmaak nie, ons kan net toegee, ingee en oorgee wanneer Hy besig is om ons dood te maak. Wanneer Hy vir jou vra om die beker te drink en jy deur bloedsweet uiteindelik by die plek kom waar jy uitroep “nie meer my wil nie, Here, maar laat U wil geskied”, op daardie tydstip word jy gekruisig en dood verklaar. Hierin lê ’n diep geheimenis opgesluit: Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind (Matt 16:25).

Ons pogings om onsself te verander is ook futiel. Dit móét immers so wees, want as ons onsself kon verander of verbeter, hoekom sou ons Jesus dan nodig hê?

Dit is juis wat ons onderskei van enige ander godsdiens. Ons is die enigste godsdiens wat glo dat jy niks kan doen om nader aan God te kom, of Hom te behaag nie. Daarvoor het Hy sy Seun gegee wat al die voorskrifte in ons plek nagekom het sodat ons deur Sy werke geregverdig kan word. Aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken (Rom 4:5). 

Wanneer Paulus die sondige toestand van die mens in Romeine 7 bespreek en dit so mooi uitdruk, naamlik “die goed wat ek wil doen dit doen ek nie, die verkeerd wat ek haat dit doen ek”, kom hy aan die einde van die hoofstuk tot ’n desperate en magtelose uitroep: Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? (Rom 7:24). Wanneer ek aan die einde van my pogings, probeerslae en werke gekom het, is ek gereed om ’n wonderwerk van opstanding te beleef. 

En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie – rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig (Luk 18:11-13). Die tollenaar se gebed word aanvaar maar nie dié van die Fariseër, wat probeer reg doen het nie. Die tollenaar se diepe sondebesef en onvermoë om homself te verander laat hom na God uitroep vir genade! Die Fariseër regverdig homself deur al die goeie goed wat hy doen. Hy was sekerlik opreg dankbaar dat hy nie soos die slegte mense is nie, maar sonder om te besef dat dit God se genade en nie sy goeie werke is wat hom ’n beter mens gemaak het nie. 

So moes Paulus, met die doring in sy vlees, tevrede wees met die woorde, “My genade is vir jou genoeg . . .” En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk (2 Kor 12:9-10). 

So sê Jakobus ook dat ons gebede nie beantwoord sal word as gevolg van ons selfsugtige begeertes nie (Jak 4:2-3). Wanneer self nog lewendig is, met private agendas en motiewe, staan ons geestelik voor ’n toe deur. Dit maak tog sin, want die Bybel sê duidelik dat geen lewende vlees God sal sien en bly lewe nie. Maar deur Jesus Christus het ons nou vrymoedigheid om sonder vrees met God te praat (Heb 10:19). 

Die kerk is in die besigheid van lewensverandering. Dis uiteindelik wat elke kerk en prediker homself ten doel behoort te stel, naamlik om te sien dat lewens positief verander en gelyk word aan die beeld van Jesus Christus (Rom 8:29). 

Deur die eeue is verskeie prosesse ook deur kerke voorgestel en uitprobeer: 

Sommige glo in die wet. Daar word deur die oplê van hewige reëls en regulasies ’n vrees by mense ingeboesem vir die gevolge as jy ’n reël sou oortree. Die leiers word voorgehou as baie heilig en verhewe bo die res, asof hulle deur die hou van hulle wette ’n hoër of dieper geestelikheid bereik het. Hierdie voorgangers word vereer en slaafs nagevolg, selfs na hulle dood. 

Ander geestelikes probeer deur verskeie tegnieke en aktiwiteite die emosies van mense opwek tot by die punt waar hulle ’n gevoelservaring beleef. Klem word gelê op gevoel en emosies.

Ander kerke glo weer dat jou denke die sleutel is tot alles wat jy doen. ’n Mens is immers wat hy of sy dink. Bybelskole, -kursusse, -boeke en lang, ingewikkelde preke stimuleer die intellek en poog om mense se denke te vernuwe met die Woord. 

Ander kerke glo weer dat die mens se wil die sleutel is tot sy bestaan. “Jy moet net ’n wilsbesluit neem, ou Boet!” Die lewe gaan oor keuses, en jy moet verantwoordelikheid neem vir jou besluite. 

Elkeen van hierdie beginsels bevat ’n sterk element van waarheid, en gevolglik is daar ook ’n mate van sukses by elkeen te bespeur. Nie een van hierdie fokusareas is verkeerd nie en kan uit die Skrif gefundeer word. Die probleem is net dat nie een van hierdie aspekte en waarhede ooit volkome suksesvol sal wees indien die mens die inisieerder is nie. 

Al is daar waarheid in elkeen, sal ’n wilsbesluit byvoorbeeld nooit die tydtoets kan deurstaan indien die besluit uit jouself voortgekom het nie. As ek bloot ’n besluit sou kon neem en koers verander, hoekom het ek die Here nodig? Maar wanneer ek juis in my ellende en swakheid na Hom toe kom en my swakheid voor Hom wil lê, bewerk Hy dit in my om ’n besluit te kan neem en my koers te verander. Nie soseer omdat ek “gewil” het nie, maar omdat Hy dit in my “gewil” het (Fil 2:19). 

Selfs die onderhouding van die wet behoort nie uit myself te kom nie, maar omdat Hy my lei en my leer om sekere dinge te vermy en sekere dinge nie meer te doen nie. Hy het immers die wet nou in ons harte geskryf (Jer 31:34). 

So kan ons elke aspek van kerkwees bespreek, lofprysing en aanbidding doen, prediking, evangelisasie, intersessie en gebede doen, en nog vele meer. Alles wat uit self gebore is lei tot die dood, maar dit wat uit Christus en die Gees gebore is bring lewe!

Ek het op ’n dag ’n preek voorberei oor die wapens van die Gees. Dis was nie ’n nuwe boodskap nie en ek sou wapens soos jou getuienis, die bloed, die naam van Jesus, die Woord, ens. bespreek. Die oggend toe ek wakker word, sê die Heilige Gees vir my: “Jy het die belangrikste wapen gemis.” Ek het hierdie sin op ’n stuk papier neergeskryf en die Here gevra om my te leer wat hierdie wapen is waarna Hy verwys. Na ’n rukkie het die antwoord tot my gekom: “Selfverloëning is ons magtigste wapen teen die aanslae van die vyand.” Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook bewapen met dieselfde gedagte, dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde (1 Pet 4:1). Jy kan nie met iets baklei wat alreeds dood is nie. Iemand wat dood is kan nie te na gekom voel nie, of gekrenk in hulleself wees nie. Iemand wat dood is, gee nie om dat hulle goed gevat en misbruik word nie. Iemand wat dood is het nie drome en begeertes en ambisies nie. 

Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word (Kol 3:3-4). In hierdie vers word “julle HET gesterwe” weer in die aoristus geskrywe. Dit wil sê, dat ons lewe op ’n tydstip aan Hom gegee is, en deur sy opstandingskrag het Hy ons ’n nuwe skepsel in Hom gemaak (2 Kor 5:17). Hierdie proses duur egter elke dag voort: soos wat ons met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is (2 Kor 3:18). Deurdat ons saam met Christus gekruisig is, is ons lewe nou ook verberg in Hom, en kan die vyand ons niks aandoen nie (Kol 3:2; Gal 2:20). 

Die somtotaal van ons nuwe lewe is dat ons nou nie meer lewe nie, en alleenlik voortbestaan wanneer ons in gehoorsaamheid Sy opdragte uitvoer. Ons lewe is bloot ’n refleksie en reaksie op Sy liefde, Sy genade en Sy plan met ons lewe. 

Die grootste wonder van alles is dat Hy nie ons vrye wil wil beheer nie. Nee, Hy wil hê dat ons wil met Sy wil vervleg moet wees. Daar behoort geen konflik en onderskeid tussen ons wil en Sy wil te wees nie. Wanneer ons alles verloor en opgegee het, nadat ons alle beheer oorgeteken en laat vaar het, gee Hy ons nuwe gesag en outoriteit in Hom. Dan eers, wanneer ons heeltemal tevrede en vergenoegd in Hom geraak het, word ons waarlik vry om die lewe te geniet in die oorvloed wat Hy vir ons beplan het. Ons is nie meer bevrees nie; dood, gevaar en krisisse het hul angel verloor. Ons kan tog niks verloor as ons in die eerste plek nooit eienaarskap gehad het nie. Iemand wat dood is, besit niks, begeer niks, smag na niks. 

Hierdie is weereens ’n groot misterie, maar ware lewe en diepe vrede lê alleenlik in ons totale oorgawe aan Hom opgesluit. Wanneer alle werke tot stilstand kom, alle pogings om te ontsnap verniet is en jy as persoon net oorgee, kom Hy deur Sy genade en lig ons op. Selfs ons geloof kan soms ’n struikelblok word want ek moet mos glo, ek moet nou dit en dat. Nee, dis liefde tot op die been oopgevlek en ontbloot vir suiwerheid wat die toets deurstaan. Petrus se lewe is ’n treffende voorbeeld van hoe sy verhouding met die Here verdiep het tot op die punt waar hy nie meer kon bewys, beïndruk of vorder nie: “Here, U ken my hart, U weet dat ek U liefhet.

Selfverloëning lê sentraal tot die kerk se sukses om die wêreld te kersten en dissipels van alle nasies te maak. Jy kan net van iemand ’n dissipel maak as jy een is en weet waaroor dit gaan. Jesus het Sy dissipels geleer om hulle lewens vir die skape af te lê. Wat hulle, soos Hy, letterlik gedoen het. Hoeveel predikers het hierdie mentaliteit? Hoeveel van dit waarmee ons besig is, is nie maar bloot gebore uit ambisie, selfverheffing en kompetisie met ander nie? Probeer ons nie maar ons eie minderwaardigheid en innerlike armoede wegsteek agter uiterlike suksesse en voorgee nie?

Hoekom loof en aanbid ons die Here? Doen ons dit om gesien te word of probeer ons daardeur in God se goeie boekies kom om Sy oordeel te vermy? Vrees ons mense, en is ons sensitief vir hulle behoeftes en voor- en afkeure terwyl ons die Here heeltemal uit die oog verloor? Op wie is ons gefokus? Waaraan dink ons heeldag? Is ons selfs in ons pogings tot heiligmaking nie maar net op ’n verwronge manier besig met self nie?  

In menseverhoudinge, hoeveel keer laat ons ons wil geld en manipuleer ons situasies tot ons eie gewin? Baie keer kleur ons ’n situasie so in dat ons ’n bietjie beter lyk en die ander persoon slegter. Of ons probeer so ’n bietjie aandag op onsself vestig oor presies hoe swaar ons kry en hoe baie ons al gegee en opgeoffer het.  

“Ek het dit nou tot hiertoe gehad! Dit sal ek tog nooit doen nie!” “Die Here moet tog nooit vir my vra om na daardie plek toe te gaan nie!” Dis voorbeelde van die eie-ek wat nog te veel heers.

Daar word vertel van ’n sekere pastoor uit Indië wat Amerika besoek het. Hy is hartlik deur kerkleiers verwelkom en vir ’n tydperk na verskillende kerke en bedieninge regoor Amerika geneem. Aan die einde van sy besoek is hy in die openbaar gevra om kommentaar te lewer oor wat hy waargeneem het tydens sy besoeke aan kerke in dié land. Op tipies Indiese manier het hy opgestaan, die gehoor stip aangekyk en gesê: “Dis interessant om te sien hoe ver die kerk in Amerika gekom het, sonder God!” Ek dink nie hy is weer uitgenooi nie, maar die kerk in Afrika lyk nie veel beter nie. In lande waar die meerderheid landsburgers Christene is, is daar nog steeds opspraakwekkende wetteloosheid, armoede en korrupsie aan die orde van die dag. Soveel predikers gebruik die evangelie om hulleself te verryk en groter invloed en mag oor mense te hê.  

Sekerlik is dit nie orals die geval nie en veralgemeen en oordryf ek die punt, maar dat daar werklik hand in eie boesem gesteek moet word, is ’n feit. 

Noem dit herlewing of reformasie, maar elke groot beweging van God het begin by ’n persoon of ’n handjievol mense wat God begin aangryp het omdat hulle niks meer uit hulleself kon doen nie. Die stelsels van mense en die strukture van die mens het dit wat God wil doen gekortwiek. So is die geskiedenis vol pioniers en hervormers wat net een ding wou doen en dit is om God te gehoorsaam. Daarom het hulle dan ’n nuwe beweging begin.  

Soveel keer hoor mens preke oor wie ons in Christus is. Dit is reg en ons moet verstaan wie ons in Christus is, maar ons moet ook verstaan dat ons alleenlik in Christus kan wees indien self dood is! Selfverloëning word nie nog ’n werk wat ons byvoeg by Christus nie. Nee, ons sterf in die geloof! Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het (Gal 2:20). 

Ek gee bloot oor en Hy doen die res. Ek probeer nie myself kasty nie. EK GEE OOR!  

Kom ek verduidelik aan die hand van ons stryd met sonde: Hoe meer ek probeer om nie te sondig nie, hoe meer wil ek sondig. Wanneer ek my sonde bely en wegdraai van my sonde en in desperaatheid na Hom kyk om My ellendige mens te verlos, en dan in die geloof Sy redding en verlossing vir myself toe-eien, gebeur daar iewers iets bonatuurlik.  Wanneer en hoe weet ons nie maar skielik, sonder dat jy probeer of dit agterkom, werk Hy in jou en skenk Hy jou Sy genade om nie meer in daardie area te sondig nie.  

Dis wat ons bedoel met om nou in Sy opstandingskrag te lewe! Of om te lewe volgens die vermoë van Sy genade. Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo (Joh 1:12). Hy het ons die mag gegee om nou reg te lewe volgens Sy wil. Ons sien hierdie oorgang duidelik in Romeine 7 en 8. In Romeine 7 verduidelik Paulus dat ons uitgelewer is aan die wet van die sondige natuur. Dan kom die belangrikste keerpunt: Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? (Rom 7:24). Terwyl ’n mens nog planne het en hierna streef en dat probeer doen, is jy nog vasgepen in jou sonde. Ons almal moet tot by die punt van die misterieuse dood van self kom waar alle werke gestaak word. ’n Plek waar ons dood in die arms van ons Verlosser en Here lê in die geloof dat Hy ons sal opwek. Dan alleen kan ons oorgaan na hoofstuk 8 waar daar nie meer veroordeling teen ons is nie, want ons lewe in Christus! Hierdie wet van die sondige natuur kan met die wet van swaartekrag vergelyk word. Ons kan probeer om hierdie wet te breek, maar net totdat ons krag op is of ons petrol op is. Dan kom alles wat bo in die lug was vinnig af grond toe. Maar in Romeine 8:2 praat Paulus van ’n ander tipe wet – die wet van die Gees. Hierdie wet kan vergelyk word met helium. Helium maak dit vir ons moontlik om sonder enige moeite of inspanning te kan sweef en van die aarde af op te styg. Dis waarom Paulus in Galasiërs 5:16 sê: MAAR ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie. 

Hoe wandel mens in die Gees? Deur jou besig te hou met die dinge van die Gees (Rom 8:5). Watse dinge van die Gees? Dit wat Hy ons beveel en sê om te doen. Die dinge waarvoor ons geloof ontvang het deurdat Hy met ons daaroor gepraat het en Homself duidelik aan ons geopenbaar het. Dit beteken ons het geleer om op Hom te wag . . . en alleenlik dit te doen wat Hy sê. Dit is die gesproke (rhema) Woord van God wat ons roep tot die nuwe dinge en lewe in die Gees. 

Hierdie leiding van die Gees sal altyd in die teenoorgestelde rigting wees as wat self sou wou gedoen het. HY sal ons lei om eerder weg te gee, te vergewe, te dien, om die wat dit nie verdien nie onvoorwaardelik lief te hê, in kort om in die teenoorgestelde gees op te tree. Dit is die wese van wat dit beteken om in die Koninkryk van God te lewe (Matt 5:27-48). In hierdie gedeelte gee Jesus duidelike voorskrifte en opdragte wat vir die natuurlike en vleeslike mens baie moeilik is om uit te voer. Wees lief vir jou vyande! Wees ’n seën en doen iets wat tot seën sal wees vir die wat jou vloek. Doen goed aan die wat jou haat! Bid vir die wat jou misbruik en probeer om jou te vervolg. Eina vlees!  

Gandhi het maar ’n paar van hierdie beginsels toegepas en daardeur Indië van Britse kolonialisme bevry. Dit is die grootste geestelike wapen in die arsenaal van elke gelowige, as ons dit maar net wil besef. Ons wil egter soveel keer te midde van konflik onsself regverdig of verdedig en hoe meer ons dit probeer doen, hoe meer beland ons in onguns en in die moeilikheid. Die sekulêre wêreldbeskouing is dan juis geskoei op selfhandhawing, selfondersoek, selfsugtigheid, selfbeeld, selfvoldaanheid, selfgedrewenheid, selfbeheptheid, selfpromosie, selfagting en ’n reeks selfhelpboeke en -kursusse.   

Onthou, “self” soek altyd kortpaaie en het gewoonlik ’n persoonlike agenda en motief. Self versteur die Godsbeeld waartoe elke mens geskape is (Rom 8:29). Self is die gif in ons DNS wat maak dat ons dwars teen God se plan en in vyandskap met Hom lewe. Self vernietig God se plan met ons lewe. Dank God dat Hy ons nie in een dag doodmaak nie! Hierdie kruisigingsproses is ’n daaglikse proses van leer om te sterf aan die wet van die vlees en die dood, en leer om deur die geloof op te staan in die wet van die Gees. Paulus is ons voorbeeld. Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here (1 Kor 15:31). Ek sterf elke dag soos wat die wil van God deur die Woord aan my geopenbaar word en soos wat ek daardeur gekonfronteer word om nie net ’n hoorder te wees nie maar ’n dader. So leer ek elke dag ’n nuwe bedryfstelsel van die Gees aan en word ek daagliks vernuwe tot ’n hele nuwe uitkyk op die lewe.  

Hoe meer ek gesterf het, hoe vryer word ek van vrese, drange en begeertes. Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig (Gal 5:24). Dis interessant dat wanneer Paulus hierdie lyste van sonde opnoem, hy nooit ’n aanspraak op ons wil maak nie, maar ons net bloot daaraan herinner dat ons veronderstel is om dood te wees vir die sonde.  

Dis die uitsluitlike doel van alle bediening in die kerk – om ’n gekruisigde lewe te leef! 

Die resultaat van ’n gekruisigde lewe is ’n lewe van oorwinning. ’n Lewe waar ék nie meer heeldag probeer om voor te gee nie. Pretensieloos, vry van inhibisies, nie meer selfbewus en in myself gekeer nie. Verdedigingsmeganismes raak onnodig. Ek kan myself wees en soos ’n kind die lewe uitbundig geniet. Stilte en vrede diep in jou binnekant. Vergenoegdheid. ’n Plek van waarheid en lig, duidelikheid, eerlikheid en integriteit. Insig en wysheid omdat jy die lewe vanuit ’n heeltemal ander perspektief sien. ’n Innerlike vreugde en ewige standvastige welgeluksaligheid. Jy is nie meer gedrewe om iets te probeer bewys nie. Jou lewe is ’n lewe van dankbaarheid en liefde. Nie net dankbaar omdat iets gebeur het nie, maar deurentyd dankbaar en vol.  

Die gekruisigde lewe is waarlik DIE LEWE. Dis na jou dood dat Hy jou opwek om saam met Hom te sit in hemelse plekke (Ef 2:6). Dan is jy tot alles in staat (Fil 4:13), meer as ’n oorwinnaar (Rom 8:37), vry van veroordeling (Rom 8:1), aanvaarbaar gemaak onder die gelowiges (Ef 1:6). 

Daar kan net sprake wees van opstanding uit die dode nadat jy eers dood is. Terwyl ek dinge nog as my eiendom sien, my bediening, my gawe en talent, is ék nog lewendig. Iemand wat dood is, besit niks meer nie en het alle eienaarskap verbeur. Ons is nou inwoners en burgers van ’n hemelse realiteit en koninkryk. Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus (Fil 3:20). 

Ons soek nie ’n beloning en vergoeding vir die dinge wat ons hier op aarde doen nie, want ons sien met geestelike oë die heerlike beloning wat vir ons wag in die hiernamaals. Ons doen nie meer dinge om gesien te word nie, nog minder om erkenning te probeer kry van menslike instansies. Want ons erkenning lê opgesluit in die feit dat ons met die Here kan praat soos met ’n vriend en dat Hy homself gereeld aan ons openbaar. After these things the word of the Lord came to Abram in a vision, saying, “Do not be afraid, Abram. I am your shield, your exceedingly great reward” (Gen 15:1). Die Here Self is ons beloning!  

Hier is ’n paar praktiese punte van selfverloëning wat jy elke dag kan toepas. 

  • Moenie talm en uitstel om met jou belangrikste dag-aktiwiteite te begin nie.  
  • Moenie kla oor die min tyd of die baie werk wat verrig moet word nie; koop eerder die tyd uit en maak dit klaar. 
  • Doen alles sonder murmurering. 
  • Moenie voorgee hoe swaar jy kry nie; doen alles met blydskap en oortuiging. 
  • Moenie aandag trek na die groot en belangrike dinge waarmee jy besig is nie. 
  • Wanneer jy iemand aanspreek, doen dit gebaseer op eerstehandse getuienis en nie hoorsê nie. 
  • Bly stil oor mense en hulle dinge en die foute wat jy sien; moenie stories oordra nie.  
  • Moenie nie die eer of dank van mense soek nie; doen dit alles vir die Here. 
  • Moenie ongelukkig of gekrenk voel as jou advies nie gevra of gebruik word nie.
  • Moet nooit toelaat dat jy gunstig teenoor ’n ander afgespeel word nie. 
  • Moenie begeer om altyd die geselskap te lei of die middelpunt te wees nie.  
  • Moenie nie die guns, simpatie of begrip van mense soek nie.  
  • Dra die blaam en neem verantwoordelikheid eerder as om dit oor te dra op ander. 
  • Wanneer jy nie die krediet of eer kry wat jou toekom nie, moenie ontsteld wees nie, wees dankbaar!
  • Leer om vinnig te vergewe en vinnig jammer te sê.
  • Moenie gaan as jy nie gestuur is nie, en moenie help alvorens daar vir jou hulp gevra word nie.  
  • Los die groot dinge wat jy vir die Here wil doen en laat toe dat Hy groot dinge deur jou doen. 
  • Ons kan nie altyd kies hoe die Here ons wil gebruik nie; Hy gebruik ons nie altyd om groot wonderwerke te verrig nie.  
  • Doen niks waarvoor jy nie geloof het nie.
  • Soek nie die eer van mense nie.
  • Moet nooit vergeet wie jou vooraf gegaan het en wie na jou moet kom nie.  
  • Jy het niks alleen bereik nie.  
  • Ambisie kom nadat Hy jou die opdrag en mandaat gegee het. Doen dan alles na die beste van jou vermoë en voltooi dit wat Hy jou gegee het om te doen.  
  • Sukses lê opgesluit in die mate waarin jy dit wat Hy jou beveel het om te doen, voleindig het.  
  • Moet jou nie oor te hoë dinge bekommer of tob nie. Daar is genoeg krag vir elke dag.  
  • Moenie eiewys wees en te veel van jou eie opinie dink nie.  
  • Bly binne dit waartoe God jou geroep het.  
  • Moenie ’n opinie lewer oor dit waartoe God ’n ander mens geroep het nie.  
  • Moet nooit jouself met ’n ander vergelyk nie.  
  • Bly meer stil.  
  • Leer om te wag.  
  • Wag.
  • Luister.
  • Bly altyd ingestel en gefokus op Sy bewegings, woord, impuls, emosie, handeling.  
  • Die mense wat Jesus gekruisig het, was daardie tyd se sogenaamde kerk. Aanvaar dit! Christene gaan jou die meeste teleurstel en is werktuie in God se hand om jou dood te maak. Surrender to the process, and do not bail out! 
  • Onderwerp jou aan gesag.  
  • ’n Gebedslewe is ’n bewys dat jy werklik van God afhanklik is en niks uit jouself kan doen nie.

In Madame Guyon se werke gebruik sy dikwels die woord “abandonment” wat beteken om ’n oorgawe te maak; sorgelose vryheid; ongedwongenheid, opgee, laat los, iets verlaat; oorgee; wegsmyt, afsien van, laat vaar, onopgeëiste goedere, agterlating. Ek het vir ’n lang tyd nie verstaan hoekom sy spesifiek hierdie woord gebruik nie, totdat ek hierdie verduideliking gehoor het. Ons moet onsself verloën. Waar elders in die Bybel word hierdie woord gebruik? Wel, Petrus het Jesus verloën. Wat het hy spesifiek gedoen om Hom te verloën? Hy het gesê hy ken Hom nie. Hy het ontken dat hy Jesus enigsins ken of dat daar ’n verbintenis tussen hulle is. Hy het dus Jesus se bestaan ontken. Hy weet nie wie Hy is nie. As ons maar dieselfde met self kan doen! Om te vergeet van self, sy bestaan te ontken. Dis hoe ons vry word van sonde en die ou sondige natuur. Ons is immers deur die geloof saam met Hom gekruisig en leef nie meer nie. Daarom is ons immers gedoop as teken van ons afgestorwe lewe in Christus. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God (Kol 3:3). Ons bestaan nie meer nie. Ons het geen regte nie. Ons het ons bestaansreg op dinge en mense opgegee om nou in Hom en deur Hom te bestaan. Want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons (Hand 17:28). Wanneer ons sukkel met sonde is ons nog vasgevang in daardie sonde. Maar wanneer ons dit bely en in die geloof ons nuwe karakter in Jesus Christus opneem en toe-eien, vergeet ons van daardie sonde en dae later kom ons agter dat ons vry is en dat daardie sonde nie meer ’n houvas op ons het nie.  

Die Here het eendag hard met my gepraat omdat ek aanhou om ’n sekere sonde te bely sonder om daarvan afstand te doen en dit te oorwin. Dis nie ons belydenis wat die verskil maak nie, maar ons geloof. Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof (1 Joh 5:4). Ons moet werklik draai en ons nuwe identiteit in Christus opneem. Vergeet van die sonde en die ou mens met sy drange.  Belydenis sonder geloof is futiel en betekenisloos. Inteendeel, ons bely eintlik maar net omdat ons bang is ons word uitgevang en nie omdat ons regtig dink aan wat ons sonde aan God doen nie. Ons belydenis is selfgesentreerd en gebore in ons eie selfsug en eie-ek. Maar ware berou wat God bewerkstellig is om werklik tot by ’n waarheidsoomblik te kom waar ek die gevolge van dit waarmee ek besig is vir myself, vir ander en vir God besef. In Kolossense 3 gebruik Paulus dikwels die beeld van die ou mens en sondigheid wat ons soos ou klere moet uittrek en weggooi en dan die nuwe kleed in Christus aan te trek. Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is (Kol 3:12-14). 

Die uiteindelike doel is nie om dood te bly nie, maar om op te staan in die nuwe identiteit van Christus Jesus, ons Here. Maar Hy wek ons op. Hy inisieer opstanding! Ons staan dikwels te vinnig weer self op.   

So dikwels hoor ons vandag die woorde: “Die antwoord is binne jou!”; “Wees net jouself”. Daar is geen sprake van jouself wees en dat die antwoord in jou is alvorens die voorhuid van jou hart nie besny is nie. Die antwoord lê nie in ’n mens nie. Ek weet, o Here, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie (Jer 10:23). Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? Ek, die Here, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge (Jer 17:9-10). Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood (Spr 14:12). Die Here moet eers die gif van eie-ek en self verwyder en dan gee Hy ons wil aan ons terug. Ons DNS moet eers verander. Ons redding lê alleenlik in die feit dat Hy ons nuwe skepsels maak deur die krag van die kruis en opstanding (2 Kor 5:17). Dan kan ons praat van jouself wees en dat die antwoord binne jou is – Christus binne jou. . . . aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid (Kol 1:27).

Luther en ander wat die sestiende eeuse reformasie begin het, het nie net bloot idees op die tafel gesit nie. Die reformasie van die sestiende eeu het nie sy ontstaan in die lesingkamer of op Wittenberg se deur gehad nie. Dit was eers nadat Luther ’n persoonlike verdieping of ontmoetingservaring met God gehad het dat hy die oortuiging gehad het om die 95 stellings te skryf en teen Wittenberg se kerkdeur te gaan vasspyker.   

Ware reformasie begin dus by Hom. Hy is die een maatstaf vir ons lewe. Ons is vir een doel geskape en dit is om soos Hy te wees. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders (Rom 8:29). Hy is die presiese beeld en openbaring van God. Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte (Heb 1:3).

Geloof en gehoorsaamheid werk altyd saam

Sonder geloof kan niemand God behaag nie (Heb 11:6). Telkens is die wat tot geloof gekom het by die kerk gevoeg. Geloof se werke en vrug moet getuig van die openbaarmaking van Christus in jou lewe. Baie mense in die kerk glo in God en glo dat die Here hulle red en salig maak. Hulle het egter nog nie die belofte in besit geneem nie. Dis een ding om te glo en ’n ander om op te tree in die geloof. Geloof is ’n aksie.

Ek kan elke dag my sonde bely, maar nie verander nie. Ek moet dus glo, my geloof uitspreek soos die geloofshelde van Hebreërs 11 en in gehoorsaamheid dit doen wat ek glo. Gehoorsaamheid is die werkwoord van my geloof. Petrus het geglo hy sal ook op die water kan loop. Toe hy vra en Jesus antwoord hom, moes hy volgens sy geloof opstaan en oor die rand van die skuit klim en op die water trap. Soveel mense glo, maar het nog nooit oor die rand geklim nie!  

Wanneer ek glo en die woord doen, word die woord vlees in my lewe. Ons wil met teologiese redenasies onsself regverdig om nie te doen nie. Ons soek eintlik na verskonings vir die geheime vrees in ons binneste om te waag om Hom te gehoorsaam. Om in gehoorsaamheid aan God se stem te lewe is nie maklik vir die vlees nie. Hy vra soms dat jy op die grond spoeg en modder met jou spoeg maak en dit op die oë van ’n blinde man sit. Dit mag beteken dat Hy jou vra om al jou besittings te verkoop en die opbrengs vir die armes te gee en Hom te volg. Dit is waarom selfverloëning ’n voorvereiste is om sy dissipel te word – anders gaan jy gedurig aanstoot neem oor dit wat Hy van jou vra.  

God het alreeds die opdragte gegee, Hy het klaar beweeg, Hy het alreeds die prys betaal en die belofte en gawes van redding vir ons beskikbaar gestel. Ons moet net opstaan en dit deur die geloof in besit neem.  

Die leraars van die kerk moet deur die visier van die kruis begin dink en redeneer.  . . . want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde (1 Kor 2:2). Soos die haarnaald in die teleskoop van ’n geweer, moet ons leer om deur die kruis na alles te kyk. Ons kan niks anders preek as Jesus die Gekruisigde nie en dat Hy opgestaan het as die Eersteling van baie seuns.  

Kom ons neem byvoorbeeld leiding en swaarkry in die kerk. Paulus gee nie sewe goedkoop stappe oor hoe om in alles wat jy doen suksesvol te wees nie. Hy was in elk geval nie suksesvol volgens vandag se predikers wat net oorvloed en rykdom verkondig se standaarde nie. Nee, hy sê: NOU verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukkinge van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is (Kol 1:24).  Ons is bank vir lyding en vermy dit, maar as ons toelaat dat God ons daardeur lei sal die vyand geen houvas meer op ons kan hê nie. Die meeste van die tyd moet iemand eers alles verloor alvorens hulle die rykdom van die koninkryk ontdek. Paulus sien sy lyding in perspektief van die liggaam, want hy het geleer dat sy lewe as ’n drankoffer uitgegiet is vir die kerk. Elke lid van die liggaam bestaan vir die liggaam en tot diens van die liggaam. Ons het geen bestaansreg sonder die liggaam nie. Gehoorsaamheid beteken nie dat jy altyd net lekker dinge sal beleef nie. Gehoorsaamheid beteken nie noodwendig aardse sukses nie. Daar is ’n verskil tussen swaarkry omdat jy nie wou luister nie, en swaarkry omdat jy ongehoorsaam was. Dit is iets anders. Maar God gebruik lyding om ons volwasse te maak en ons karakter te ontwikkel om die seën van Sy heerlikheid te kan dra. Lyding gee jou diepte en bring ’n geestelike gewig in die Gees mee. Jy word nie langer deur omstandighede en die stories van mense rondgeslinger nie. Jy is geanker in jou gees. Lyding bring outoriteit. Geen ware outoriteit kom op enige ander manier nie. Ook hierin was Jesus ons voorbeeld. Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ’n bewerker van ewige saligheid geword (Heb 5:8-9). Dis deur lyding dat God ons bevry van allerhande vrese. Dit wat jy vrees gebeur. In lyding word ons met hierdie vrese gekonfronteer totdat ons na God uitroep en op Hom alleen vertrou. So verloor dood, armoede, konflik en vervolging sy angel en word ons bevry van elke vashouplek wat satan hoegenaamd in ons kan hê.  

Die wêreld sien met reikhalsende verlange uit na die openbaarmaking van die volwasse seuns van God wat nie hulle eie koninkryke bou nie, maar elkeen ’n bydrae lewer sodat die koninkryk van God deur hulle gebou word. ’n gekruisigde lewe is die produk van God wat oor die wêreld versprei moet word, in elke huis en werksplek. Die kerk verteenwoordig nie die beeld van God terwyl self nog regeer nie. Maar hoe meer ons kies om self neer te lê, hoe duideliker word Christus sigbaar in ons lewe. Weereens, ons kan nie onsself kruisig nie maar ons kan oorgee! Let go and let God!  

Jan Oosthuizen

Leave A Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.