DAGBREEK

Jesus se gesonde humeur

jesus-se-gesonde-humeur

Gesonde humeur sonder om iemand skade te berokken is ʼn goddelike gawe wat ons versterk om braaf teen boosheid te staan. 

Die wêreld is vol van verkeerde woede. Verbale aggressie met afbrekende en neerhalende woorde het al menige lewens verwoes. Gesinsgeweld, aanranding en gereelde woedeuitbarstings verander die huis wat bedoel is as ʼnplek van veiligheid in ʼn oorlogsveld. Ons is meestal negatief ingestel teenoor enige vorm van woede. As iemand sy of haar stem verhef, begin ons dadelik om onsself te verdedig of in ons dop te kruip.  Die wêreld se stoompot van woede bly aan die oorkook en ons lees al meer van geweldsmisdaad, padwoede, passiemoord en geweld teen kinders.[i]

Die kerk se reaksie teenoor die woede-epidemie is meestal ʼn onrealistiese miskenning van woede. Die meeste Christene probeer hulle woede binnehou, wegredeneer of opkrop met net sulke verwoestende resultate. 

Jesus wys ons egter dat daar ʼn plek is vir regverdige goddelike woede. Ons weet dat Jesus nooit gesondig het nie, maar tog kwaad geword het. Jesus toon Sy liefde vir die Vader en Sy Vader se huis deur ʼnsweep te maak en al die geldwisselaars uit te jaag. Die liefde vir u huis verteer my (Joh 2:13-22). Is liefde tog nie ook soms ʼnpassievolle oomblik van woede oor die onreg van verkeerd nie? Wanneer ek my vrou verdedig en vir haar in die bresse tree, is dit nie juis ʼn bekentenis van my liefde nie? Ware liefde is tog nie lamsakkig nie? 

Petrus het verseker nie baie geliefd gevoel toe Jesus Hom berispe nie? Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê (Matt 16:23). Tog is Jesus se streng vermaning nie verwerping nie, want net ʼn paar dae later vergesel Petrus Jesus na die verheerliking op die berg (Matt 17:1-5). 

Net ouers sal verstaan dat daar geen opvoeding plaasvind sonder ʼnperiodieke ernstige vermaning en sigbare afkeuring van ʼn daad wat die kind kan skade bring nie. Daarenteen sou Jesus nie geken word as ʼn humeurige, kwaai mens nie. Hy toon deernis en empatie met die swakkes en uitgeworpenes. Tog draai Hy nie doekies om om die sogenaamde godsdienstige leiers van daardie tyd openlik aan te spreek oor hulle dubbele standaarde en valsheid nie.  

Jesus se woede is gegrondves op en gebore uit ware liefde en nie uit die eie-ek of magpleging nie. In hierdie tyd waarin ons leef, het ons meer as ooit nodig om Jesus se woede te leer verstaan en daarin te groei in ons eie toepassing. Want ʼnwêreld sonder regverdige woede raak ʼnwêreld sonder reëls. Alles is toelaatbaar. Daar word geglo dat boosheid, leuens en korrupsie in stilswye aanvaar moet word. Jesus se liefde was nie passief nie. Inteendeel, sy woede is prysenswaardig en nodig. Dit bewys hoe ernstig Hy is oor ons veiligheid en gesonde voortbestaan.  

Ons haak dikwels vas. Sommige predikers skree-preek van die begin tot die einde. Hierdie tipe skreestem verwar mense. Dink daaroor. Wie anders in ons lewens skree op ons om ʼn punt te maak? ʼn Ouer wie se geduld op is? ’n Verskriklik manipulerende baas? As jy in ʼn huishouding grootword wat vol aggressie is en waar daar altyd geskreeu word, maak dit jou doof, want skree veroorsaak angs.

Skreeu verwar mense oor God se ingesteldheid teenoor hulle.

Baie mense sit in kerke regoor die wêreld en aanvaar dat die predikant namens God praat. Is God dan vir ons kwaad? Hóé ons kommunikeer, is net so belangrik as wát ons kommunikeer. Jesus het menigte keer gesit en die mense geleer (Matt 5:1; Luk 4:20; Luk 5:3; Joh 8:2). ʼn Mens kan nie sit en skreeu nie.  

Volume en vurigheid raak die emosies en mense maak emosionele besluite, maar dit is nie altyd standhoudend nie. “Wat Satan meer haat as jou geskree op hom, is jou gehoorsaamheid aan Jesus.”

Jy preek nie mense reg met God deur met hulle te raas nie. Die eenvoudige vraag is: Verander mense? Deur mense elke week skuldig te preek maak hulle nie heilig nie. Jesus het nooit so geraas en geskree in sy prediking nie. 

Jesus het geweet presies wanneer woede die grootste effek gaan hê. Woede was dus bloot een van die instrumente in Sy gereedskapskas om ons te beweeg en te lei na die waarheid. Jesus was dus nie altyd kwaad nie. Enige kind sal jou vertel dat ʼnsagte, innemende, liefdevolle ouer se woede oor ʼn verkeerde ding en ʼnonreg lewensveranderend is.  

Ware regverdige, goddelike woede is soos sout. Dit preserveer en is ʼnteenmiddel teen innerlike korrupsie en trots. Soms raak ons so vasgevang in ons eie selfgeregtigheid en verskonings dat iemand se goddelike vermaning en berisping ons laat wakker skrik. Hierdie woede is gesetel in onteenseglike waarheid wat mens eenvoudig nie kan ontken of verontagsaam nie. Te veel sout is ondraaglik en onverteerbaar en jaag mens se bloeddruk op, maar ʼnbietjie sout gee smaak.  

Ons weet wat reg is, maar omdat niemand in waarheid opstaan en dit verdedig nie raak ons gemaklik, sinies, bitter en hard. Hierdie lys is alles voorbeelde van onverwerkte, opgekropte woede wat op ʼn dag onskuldige mense heeltemal onverwags meesleur –soos ʼntsoenami. 

Miljoene mense is slagoffers van ander se onreg, boosheid en sonde. Niemand is egter geleer hoe om uiting te gee aan gesonde woede teenoor dit wat verkeerd is nie. Valse nederigheid leer dat ons maar net verleë alles moet aanvaar en stilbly. Jesus leer: As jou broer teen jou sondig, berispe hom of haar (Luk 17:3). Hierdie woord, berispe, word verduidelik in die konteks van ʼn leerling wat ʼn onderwyser of skoolhoof op ʼn fout wys. Mens doen dit met respek, jy het jou feite reg, en jou toon raak nie persoonlik of neerhalend nie.

Dalk moet konflikhantering ʼn verpligte vak op skool wees. Almal maak foute, maar wanneer ons foute ander mense nadelig raak, dan moet ons daaroor kan praat. Omdat ons konflik meestal probeer vermy, is ons onbeholpe en onervare in ons hantering van iets wat verkeerd is.  

Goddelike humeur gaan altyd gepaard met vergifnis. Vergifnis haal die gif uit die woede uit en hou mense aanspreeklik vir hulle dade. Dit is ʼn fyn balans. Jesus het Sy moordenaars vergewe, en Hy vra die Vader om hulle te vergewe want hulle weet nie wat hulle doen nie. Tog sal elke mens rekenskap gee vir sy of haar dade. Vergifnis ontwapen die versmorende mag van bitterheid en vergelding. God sal vergeld. 

Wanneer ons werklik vergewe het, kan ons die persoon wat fouteer aanspreek want ons is nie meer die slagoffer van die oortreding nie. ʼn Vrou wie se man haar slaan, kan koel en kalm die oortreding aanspreek en aanmeld, want die oortreder is die ware slagoffer. Sy gaan nie langer sy mishandeling bekragtig deur by hom te bly nie. Sy neem juis standpunt in teen onreg sodat daar terapeutiese herstel by die oortreder kan begin. Dit is wat Jesus se gesonde woede vir jou doen. Dit bemagtig jou teen onreg, soos Jesus standpunt ingeneem het teen die uitbuiting van goedgelowige heiliges toe Hy die tempel gereinig het. So wil Hy ons ook bemagtig om sonder wraak, weerwil of vergelding standpunt in te neem en op te tree. Behalwe ʼn harde lawaai, rig kruit alleen nie werklik skade aan as dit aangesteek word nie. Maar ʼn bietjie kruit wat in ʼn koeël saamgepers is kan jou vyand doodskiet.  

Jesus se woede maak natuurlik nie dood nie, dit gee juis lewe (Joh 10:10). Jare gelede het ʼn sekere boer se plaas twee agtereenvolgende jare onder verwoestende brande deurgeloop. Die laaste paar maande was hy baie humeurig en kort van draad, en het sy vrou ons versoek dat ek hom kom sien. Op pad na hulle huis toe het die Heilige Gees met my gepraat om nie sy woede te moraliseer nie, want dis juis sy woede wat hom nog staande hou. Woede is energie. Woede is baie keer ʼn uiting van desperate magteloosheid. Ons moet leer onderskei, tussen goddelike gesonde tipe woede, en verwoestende woede.  

Die Bybel wys duidelik watter woede is vernietigend en uiteindelik selfverwoestend.  

  1. As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie (Ef 4:26). Hanteer die onreg vinniger en help ʼnpersoon om die fout in te sien en te bely (Luk 17:1-5). Wanneer ons oor ʼnsaak tob, begin ons ʼn hofsaak in ons kop hou waar ons beide die aanklaer en regter wil wees. Praat eerder ʼn saak uit en leer hoe om ietswatverkeerd is reg aan te spreek. Onafgehandelde woede gee uiteindelik vir die duiwel ʼnvatkans en maak ons marionette in sy hand. Sondige woede is soos suur, maar goddelike woede is soos seep. Ons moet baie versigtig wees dat ons woede nie suur word in ons nie.
  2. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur (Matt 5:22). Sommige kommentators maak die afleiding dat alle woede verkeerd is en dat ons eenvoudig nooit vir ons broers of susters mag kwaad word nie. Maar Paulus haal in Efesiërs 4:26 Dawid aan waar hy sê: As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby! (Ps 4:5). Jy kan dus kwaad word, maar jy moet net nie sondig nie. Die sonde wat Jesus duidelik hier uitwys is: 
    1. Om sonder ʼn grondige rede vir iemand kwaad te wees. Jy is dus kwaad sonder dat die saak bespreek is en die skuldige party regmatig skuldig bevind is.  
    2. Wanneer jy iemand name noem en die persoon verkleineer. Die woord, raka, kan ook vertaal word met nikswerd, idioot, waardeloos. Hierdie bewoording staan lynreg teenoor “elke mens is in die beeld van God geskape” (Gen 1:27). Dat elke mens menswaardig hanteer moet word, is in wese die kern van Jesus se bediening en prediking.  

Let wel dat die persoon wat hom- of haarself skuldig maak aan hierdie sonde van verkeerde woede, geoordeel gaan word. Hulle sal dus nie van God se vergelding vrykom nie.  

  • Kain het baie kwaad geword en hy was bedruk. Toe sê die Here vir Kain: “Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk? Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers”(Gen 4:5-6). Kain se moord is die eerste oortreding van een mens teenoor ʼn ander mens. Hy het verontreg gevoel teenoor God, maar het dit op sy broer uitgehaal. God het tog immers nie sy offer aanvaar nie, maar Abel se offer verkies. Sy saak was mos dan teenoor God? Iemand wat te na gekom voel, aanstoot neem of gekrenk voel, val in ’n strik soos ’n voëltjie en kan nie self daaruit kom nie. Vir ons eie geestelike voortbestaan is dit wesenlik belangrik dat ons sal leer om nie aanstoot te neem nie‘n Veronregte broer is ontoegankliker as ‘n vestingstad; rusie is soos die sluitbalk van ‘n fort (Spr18:19). ‘n Verstandige mens beteuel sy humeur en stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees (Spr 19:11). As ons nie vergewe nie, doen ons ook verkeerd en word ’n instrument in satan se hand (2 Tim 2:24-26).
  • Moenie gou kwaad word nie: Dit is ʼn dwaas wat gou kwaad word (Pred 7:9). My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. ‘n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie (Jak 1:19-20). Die probleem met ʼn vinnige humeur is dat jy soos Judge Dred sommer ʼn saak wil besleg voor jy al die feite ingewin het, en ook sommer self die straf wil uitvoer. Dit is onredelik en onbillik. Sou jy tevrede wees met dieselfde behandeling? Praat ʼn saak uit en kry al die eerstehandse getuienis, dan kan jy ʼn saak besleg. Baie mense verskoon hulleself en beweer hulle kon nie hulle woede beheer nie. Dit is eenvoudig nie waar nie, want as die foon sou lui, sal jy dit in jouself vind om beheersd te antwoord. Jy wíl egter nie jou woede beheer nie. Jy het dit self gekies –niemand het jou gedwing om enigiets te doen nie. 
  • ‘n Opvlieënde mens veroorsaak rusie; iemand wat kort van draad is, doen sonde op sonde(Spr 29:22). Woede is energie, en sommige mens geniet die vrees wat hulle humeur inboesem. Die probleem is, jy word ʼn baie eensame figuur en sal uiteindelik geen ware vriendskapsbande meer oor hê nie. Woede het so deel van jou karakter geword dat dit al is wat mense van jou sal onthou.  Dis ʼn verskriklike skending van God se skeppingsdoel met jou lewe, want ons is almal geskape met die doel om soos Jesus te wees (Rom 8:29). 
  • Ek wil dus hê dat die mans by elke plek van samekoms met ‘n skoon gewete hande in gebed tot God moet ophef, vry van onmin en twis (1 Tim 2:8). … is hy verwaand en weet hy niks. Hy het ‘n sieklike beheptheid met twisvrae en met stryery oor woorde. Daaruit ontstaan afguns, twis, beledigings, gemene verdagmakery, voortdurende rusie van mense wat verstandelik verward en van die waarheid beroof is (1 Tim 6:4-5). Sommige mense vind altyd iets om oor te stry. Hulle wil oor alles verskil en net hulle eie opinie hoor. Jesus is die waarheid en perfek in alles wat Hy doen en sê. Hy het nie nodig gehad om in strydgevegte betrokke te raak nie. Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie (Matt 12:19). Die Bybel gee egter die oorsprong en ware rede vir twisgierigheid: haat en liefdeloosheid (Spr 10:12) en selfverheffing (Spr 13:10). 
  • Woede is die voorloper van fisiese geweld en aanranding. Die ooglopende tekens van skielike woede is gewoonlik ʼnrooi gesig, geswelde nekare, gebalde vuiste en ʼn gestotter. Die woedende persoon se sig kan wasig word, want woede het ʼn negatiewe uitwerking op die deel van die brein wat met sig te doen het. Dr. Walter Cannon, navorser in psigosomatiese medisyne by die Universiteit van Harvard, beskryf dit baie duidelik: “Respiration deepens; the heart beats more rapidly; the arterial pressure rises; the blood is shifted from the stomach and intestines to the heart, central nervous system, and the muscles; the processes of the alimentary canal cease; sugar is freed from the reserves in the liver; the spleen contracts and discharges its contents of concentrated corpuscles, and adrenalin is secreted.” – James C. Hefley.  

Wat het Jesus kwaad gemaak? 

Die Afrikaanse vertaling van die woord “rebuke” of epitamaomet “berispe” is gebrekkig. Die woord kom 29 keer in die NT voor. Ander vertalings van die woord is aangespreek, geraas, berispe, bestraf, belet, tereggewys, beveel, stil, straf, uitdruklik. In Engels beteken die woord letterlik “straightly charge” of “beat back”. Dis duidelik om die gesonde woede agter hierdie aksie raak te sien. Dit is gefokus en gerig op dit wat verkeerd is. Ons het meestal net ʼn indruk van Jesus se sagmoedigheid. Ons wil nie hierdie harder kant van Jesus raaksien of ontvang nie. Dit was tog die streng maar regverdige onderwysers wat die grootste impak in ons lewens gehad het. Ouerskap is nie net om ʼn kind van kos en klere te voorsien nie –dit behels primêr opvoeding. Jesus openbaar die hart van die Vader deurdat Hy ons wil sien opgroei in volwassenheid in ons skeppingsdoel.  

  1. Jesus dryf die demone uit met ʼnferm bevel. Jesus het die bose gees skerp aangespreek, en die bose gees het van die seun af weggegaan. Van daardie oomblik af het die seun gesond geword (Matt 17:18. Sien ook: Mark 1:25; 9:25; Luk 4:35, 41; 9:42). “You cannot rebuke a devil that you continually grant access to your life” – Kimberley Pothier. Jesus se misnoeë en ferm optrede teenoor demone toon ook Sy gesag oor hulle. Hy tree nie in gesprek met hulle nie. Hy bestraf hulle met die minagting wat hulle verdien. Hierdie morele gesag wat Jesus uitoefen lê aan die hart van ons eie oorwinning oor die bose. Ons wil aan die een kant die bose geeste lekkers onder tafel aangee, maar bo die tafel wil ons hulle bestraf. In die geesteswêreld word hierdie valsheid baie gou aan die lig gestel, soos wat met die seuns van Skeva gebeur het (Hand 19:13-17). Die duiwels ken die waarheid. Die vraag is of jy die waarheid ken? Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs (Jak 2:19). Wat is die waarheid agter jou woede-energie? Sommige mense raak kwaad omdat hulle in hulle eer gekrenk is. Hierdie woede bring verwoesting, want dit is leeg. Agter Jesus se woede is ʼnreguit lyn van reg lewe, reg dink, en reg praat. Hierdie krag van oortuiging is die sleutel van Jesus se bediening. Dis waarom mense dikwels verstom gestaan het oor Sy woorde.
  2. Jesus maak die storm stil (Mark 4:35-41). Die dissipels is eintlik verontwaardig: Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie? (v 38). Die natuur se woede bedaar in ʼn paar sekondes voor Sy gesag. Mens kan die frustrasie in Jesus se vraag hoor: Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie? (v 40). Na alles wat Jesus vir hulle verduidelik en gedemonstreer het, is hulle nog vol ongeloof. Jesus se gesonde humeur ontbloot die valse motiewe van hulle humeur. Hulle geloof is nog passief en hulle verwag nog dat Hy die werke moet doen in plaas daarvan om self in geloof God se wil te verstaan en daarvolgens te lewe.  
  3. Jesus bestraf die seuns van donder. Soos ons deur al hierdie skrifgedeeltes werk, sien mens oor en oor die misplaaste woede van die mens. Die volgende gedeelte is ʼnperfekte voorbeeld. Jesus stuur van Sy dissipels vooruit na ʼnSamaritaanse dorpie om vir Hom verblyf te reël. Hulle wou Hom egter nie ontvang nie. Die Skrif gee die geestelike rede: Sy tyd om in die hemel opgeneem te word het nader gekom (v 51) en Hy was op pad na Jerusalem (v 53). Jakobus en Johannes word egter baie voorbarig. Hulle wil sommer self vuur uit die hemel roep om die dorp te verdelg (Luk 9:51-56). Hulle misplaaste woede is baie duidelik. Hulle het nog nooit vuur uit die hemel geroep nie, net Elia kon dit al regkry. Jesus het ook nog nooit melding gemaak dat dit deel van Sy bedieningplan is om dorpe met vuur te verwoes nie! Jesus het hulle ernstig bestraf en stilgemaak. Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie (v 55). Hulle weet weliswaar nie dat hulle heeltemal uit ʼnander gees as Jesus opereer nie.  
  4. Jesus se liefde vir Sy Vader se huis verteer Hom (Joh 2:13-21; Matt 21:12-13; Mark 11:15-17; Luk 19:45-46). Dis van die min verhale rakende Jesus waaroor al vier die Evangelie-skrywers verslag gee. Ons fokus op die sweep wat Hy tydsaam sit en vleg het, maar die eintlike wonderwerk is hoe Hy ʼn hele markplein vol geldwisselaars, skape en beeste leeggemaak het. In hierdie geval het Jesus se stem welluidend teen die mure weergalm en met behulp van ʼn sweep het Hy die diere uit die plek gejaag.  Hy demonstreer op die dag hoe Hy ʼnhele organisasie se misbruik nie net aan die lig bring nie, maar Self optree en orde bring. Dit moes moed gekos het! Nog voordat die tempelpolisie of priesters kon protesteer, het Jesus die tafels omgegooi en die hele groep mense met geweld uitmekaar gejaag. Jesus se liefde vir Sy Vader en Sy kinders is op die dag tot ʼn emosionele hoogtepunt gedryf. Hy kon nie langer toesien dat hierdie onreg voortduur nie! Mag ons ook gevul word met ʼnheilige goddelike woede vir wat reg is! 
  5. Jesus raak verontwaardig teenoor Sy dissipels. Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Sy dissipels het met die mense daaroor geraas. Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle (Mark 10:13-14). Die feit dat Jesus verontwaardig geword het, is ʼn openbaring. Sy ongelukkigheid is egter weereens nie selfsugtig of misplaas nie. Hierdie keer gaan dit oor die kinders. Die Griekse woord hier is aganaktasen wat letterlik “vol van droefheid” beteken. Jesus was dus hartseer-kwaad. Hoor ʼn kind se kekkellaggie en hulle onvoorwaardelike liefde, spontaniteit en vryheid. Dis waar Jesus ons weer wil hê! Ons is geestelik volwasse wanneer ons weer hierdie kinderlike geloof en liefde herondek.  
  6. Jesus bestraf Petrus. Petrus het Hom egter eenkant toe gevat en ernstig begin bestraf: “Mag God dit verhoed, Here. Dit sal U nooit as te nimmer oorkom nie!”  Daarop draai Jesus sy rug op Petrus en sê vir hom: “Gee pad agter My, jou satan! Jy maak dit vir My bitter moeilik. Jy dink soos mense dink – nie soos God nie” (Matt 16:22-23; Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling). Petrus val in ʼn oogwink van die geestelike hoë posisie wat hy nog oomblikke te vore beklee het. Die Vader het aan hom geopenbaar dat Jesus die Messias is, maar Petrus was te haastig om die hele prentjie te sien. Die prys wat die Messias moet betaal het hy nie gesien nie want hy was nog verblind deur sy eie ego. Dalk het hy ʼnereposisie saam met Christus gesien. Hoe dit ook al sy, hy dink nog soos ʼnmens. Sy mensgedrewe bestraffing word kortgeknip deurdat Jesus omdraai en hom reguit in die gesig kyk: “Gee pad agter my satan!” Die Skrif sê Petrus het Jesus eenkant toe gevat en soos ʼnvriend sy arms om sy maat sit langs Hom kom staan. Hy reken homself skielik gelyk aan Jesus, totaal onkundig oor Jesus se beker wat Hy moet drink. Het ons nie al almal in totale onkunde ná ʼn geestelike kamp of spesiale diens onsself aangematig om familielede so bietjie aan te tree nie? Weereens sonder enige begrip van God se prosesse.  
  7. Jesus word ontsteld by Lasarus se graf. Op hierdie tydstip van Jesus se bediening was dit vir Hom gevaarlik om in Jerusalem te wees. Hy is ’n paar dae tevore amper gestenig en die Jode wil Hom in hegtenis neem (Joh 11:8; 10:31, 39). Die familie weet dit en daarom die kort boodskap: Die een wat jy lief het is baie siek (v 3). Hulle woorde wys hulle respek en geloof in Jesus asook hulle vrymoedigheid teenoor Hom –Hy is hulle vriend. Hulle het Hom al dikwels gehelp en Hy sal hulle ook help. Die dissipels is soos gewoonlik meer op hulleself ingestel as op die Here. Hulle verstaan nie Jesus se woorde nie en hulle maak die verkeerde gevolgtrekkings. Jesus moet hulle reguit verduidelik wat Hy bedoel toe Hy eers sê Lasarus slaap, want hulle verstaan nie. Thomas se woorde, dat hulle saam met Lasarus gaan sterf, dui op sy gewone pessimisme. Thomas die twyfelaar is bekommerd oor sy eie lewe (Joh 14:5; 20:24-29) Jesus het dus geweet Lasarus is dood, nogtans gaan Hy nie onmiddellik daarheen nie. God wil die omstandighede gebruik vir Sy glorie. Jesus sê Hy is bly dat Hy nie onmiddellik gegaan het nie, want die Vader gaan die Seun verheerlik (v 4). Vriendskap is ’n hefboom, ’n onsigbare band wat jou verplig om te help. Mense sal op grond van ’n vriendskap enigiets doen. Vriendskap is ’n emosionele kommoditeit. Jesus bied sy vriendskap en liefde, maar laat Hom nie verbind nie. Dat Jesus nie dadelik gekom het nie, moes vir Marta en Maria maar ʼnbitter pil gewees het om te sluk. Jesus se optrede druis in teen die meeste mense se begrip van vriendskap. “As U hier was sou Lasarus geleef het.” Hulle verwyt liggies Jesus se afwesigheid (Joh 11:21; 32). Selfs die begrafnisgangers en toeskouers verwyt Hom (Joh 11:37). “Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maar keer dat hierdie man sterf nie?” Maar Marta en Maria neem nie aanstoot nie. Beide Maria en Martha spreek hulle geloof uit: Ek glo (Joh 11:7). – Sy erken Jesus as die gekose Gesalfde (Messias: Christus – vgl. Joh 1:20, 41); die Seun van God (vgl. Joh 1:34, 39; 10:36); en die Profeet wat na die wêreld toe gestuur is (vgl. Joh 3:31) om God aan die mense bekend te maak. In een asem ’n belangrike getuienis oor Christus. Jesus se trane wys egter op Jesus se seer in hierdie verhouding (Joh 11:38). Hy het al by meer as een geleentheid vir hulle gesê dat Hy gaan sterf. Hier by die dood van Sy vriend Lasarus sien Jesus Sy dood. Hy moes dink aan die sondelas van hierdie mense wat Hy eersdaags sal moet dra, en hulle sien dit nie. Die Griekse woord vir “groaning”, embrimaomai(em-brim-ah-om-ahee); Strong’s #1690:  Derived from en,  “in,” and brime, “strength.” The word is used to express anger (Mark 14:5), to indicate a speaking or acting with deep feeling (John 11:33, 38), and for stern admonishment (Matt 9:30; Mark 1:43); to roar, storm with anger; to be enraged, indignant, to express indignation against someone. Aangesien Christus en Maria-hulle vriende was, is dit waarskynlik dat Sy diep emosie te wyte was aan Sy innerlike protes teenoor hulle onverskilligheid, onkunde en blindheid wat Sy eie naderende dood en lyding vir hulle onthalwe nie sien nie … die verkeerde, onskuldige Persoon word gekruisig. Die grootste hartseer in enige vriendskap is wanneer jou vriend(in) jou nie sien nie. Jou maat sien nie jou hart nie, sien nie jou swaarkry, lyding of swaarheid nie. Dis die een enkele sonde/oortreding wat enige verhouding op die afdraande pad kan stuur en uiteindelik kan verwoes. Die persoon wat die naaste aan my is, sien my nie! Jesus se liefde is groter as ons oortredings. Hy gee nog steeds Sy lewe en vergewe ons. Jesus oorwin hierdie diep seer wat ons ʼnpragtige blik gee op Sy menslikheid: Hy het met ’n groot stem geroep: Lasarus, kom uit!Hy wek Lasarus op! Uiteindelik is ewige vriendskap net moontlik in Christus wanneer ons saam met Hom opgewek gaan word, in Sy heerlikheid. Al die romantiese ewige liefdesverklarings is vals en kortsigtig. Ewige verbintenis is net moontlik in Christus.   
  8. Jesus verwyt hulle oor hulle ongeloof. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart omdat hulle dié wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie (Mark 16:14). Oneidos: Smaad, beledig. To defame, disparage, reproach. Generally it means to rail at, revile, assail with abusive words. Toe het Jesus die dorpe waarin Hy die meeste van sy wonderdade gedoen het, begin verwyt omdat hulle hulle nie bekeer het nie (Matt 11:20-24). Dit help ons om te sien dat Jesus ook soms ʼngoddelike gevoel van verwyt het teenoor mense se hardkoppigheid. Hy het nooit Sy hart oopgemaak om daarop te reageer en hulle uit te wis nie. Nogtans het Hy Sy frustrasie uitgespreek en hulle goed laat verstaan dat hulle voor ʼnheilige God se oordeel staan. “Ongelowige en ontaarde geslag,” het Jesus gesê, “hoe lank moet Ek nog saam met julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra?(Matt 17:17). Dit is ʼn verbysterende werklikheid om te weet dat baie nie in God se perfekte voorbeeld geglo het nie! 
  9. Jesus se aggressie teenoor die Fariseërs en skrifgeleerdes. En nadat Hy hulle rondom met toorn aangekyk het en tegelykertyd bedroef was oor die hardheid van hulle hart, sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en sy hand is herstel, gesond soos die ander een (Mark 3:5). Jesus is toornig met rede. Maar Hy leef wat Hy predik: Hy vergeld nie verkeerd nie met verkeerd nie. Hy genees die man voor hulle oë! Paulus sou dit later mooi verwoord: Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie (Rom 12:21). Jesus spreek hulle ook direk aan oor hulle valsheid, dubbele standaarde en magsug (Matt 23:13-36; Luk 11:45-54). Weereens wys Jesus ons die beste weg om te leef aan. Jy skinder nie oor iets wat iemand verkeerd doen nie, jy spreek hulle direk aan. As hulle oortreding in die openbaar gedoen is, dan spreek jy die verkeerde daad ook in die openbaar aan.  
  10. Jesus beteuel sy misnoë met die melaatse man.’n Melaatse man het na Hom toe gekom, voor Hom gekniel en Hom gesmeek met die woorde: “As U wil, kan U my gesond maak.” Jesus het hom innig jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak met die woorde: “Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!” Net daar het die melaatsheid verdwyn – die man was gesond. Toe het Jesus hom weggestuur en ernstig aangespreek: “Sorg dat jy met niemand langs die pad praat nie. Gaan reguit na die priester. Laat hy jou ondersoek. En bring die offer wat die wet van Moses vereis vir melaatses wat genees is. So sal almal ’n duidelike bewys hê van jou genesing.” Maar die man het weggegaan en die nuus van wat met hom gebeur het, oral versprei. Gevolglik het soveel mense Jesus begin omring dat dit vir Hom onmoontlik geword het om openlik in enige dorp in te gaan. Hy moes buite in afgeleë plekke bly. Tog het mense steeds van oral na Hom toe gekom (Mark 1:40-45). Die oudste manuskripte gebruik die woord orgistheismaar is in nuwe vertalings met splanchnistheis vertaal. Die betekenis is uiteenlopend. Die eerste ouer vertaling sê Jesus was verontwaardig. Die konteks van die gedeelte bevestig dit: Jesus is liefde, en juis uit liefde plaas hy Sy eie lewe en reputasie op die spel om aan ʼn melaatse te raak. Jesus gee hom daarom spesifieke opdragte wat hy heeltemal verontagsaam, en: Gevolglik het soveel mense Jesus begin omring dat dit vir Hom onmoontlik geword het om openlik in enige dorp in te gaan. Hy moes buite in afgeleë plekke bly. Tog het mense steeds van oral na Hom toe gekom (v 45). Jesus wil ons genees, maar Hy wil ons ook leer om ons genesing te behou en as gesonde mense voort te leef. Geloofsgehoorsaamheid is hoe ons gesond bly! (Deut 28) 

[i]Angry like Jesus. Using His example to spark your courage. Sarah Summer by Amazon  Digital Services  LLC
Learn more: https://www.amazon.com/dp/B0177187XQ/ref=cm_sw_em_r_mt_dp_U_W3EkDbXCM1026

Share:

Jan Oosthuizen

Leave A Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.